Gepubliseer in Joernaal

Herinneringe: KFC in Ösmenen ala Ust-Kamenogorsk

Ek kry nie tyd vir skryf nie, dus gaan ek ruk lank foto’s deel. Sommer net een op ‘n slag. Om nie verniet vir hierdie blog te betaal nie …

Hierdie foto is op 20 Maart 2020 in Öskemen (Kazak naam) of Ust-Kamenogorsk (Russiese naam) geneem.

Ons Dusty staan voor die deur, KFC is agter haar rug. Ons het ingegaan om KFC te koop. Hierdie KFC het eers in 2019 sy deure oopgemaak, is gebou terwyl ons in Ust (liefienaam, mens sê Oest) gebly het.

Ek lees vanoggend ‘n blogvriendin se plasing dat Suid-Afrikaanse expats maklik met Suid-Afrikaners vriende maak as hulle mekaar in ‘n ander land raakloop, selfs as hulle in Suid-Afrika waarskynlik nie met die mense vriende sou maak nie. Dit is so en ek wens dat ek nie ook gedoen het nie. net omdat iemand van jou land afkomstig is, was nie genoegsame rede om jou waaksaamheid te laat sak nie.

Dus wil ek eerder oor expats se neiging praat om bekende kitskoseetplekke te besoek, selfs al sou hulle selde in Suid-Afrika daar kos koop.

In Suid-Afrika het ons tydens die eerste jare van KFC gereeld daar gestop, maar dit het agteruitgegaan die afgelope dekade. Vleis is donkerbruin, na aan brand. Ons het nie in SA sommer KFC gekoop nie, dit was nou doodeenvoudig te olierig. En soms was ons mae behoorlik omgekrap, mens weet net nie meer of gesondheidinspekteurs genoegsaam seker maak dat olies gereeld geruil word nie.

Maar, toe KFC se deure in Ust oopmaak, was ons van die eerstes wat daar wou gaan koop. Dit was bekend. Dit het soos huis gevoel in ‘n land waar ons steeds nie verstaan is nie omdat ons stad se mense nie Engels magtig is nie. Hulle sou eerder Afrikaans as Engels verstaan, ons het woorde baie na aan Russies. Soos teater vs teatr. KFC se emmer was ‘n bekende baken in ‘n stad waar niemand Engels kan praat nie.

Met die intrapslag is ons erg verkeerd bewys. Dit is Russiese KFC, die spyskaart was in Russies. Jy moet op die bord agter die verkoopsmense “lees” wat jy wil koop! Ons het maar na die emmer gewys, en het al frie geken om chips te vra. Al die ander vrae kon ons nie beantwoord nie, maar ons het darem geweet wat dit kos dat ons genoeg geld kon aanbied.

Hierdie KFC is waarskynlik erg deur die “pandemie” geraak, sy deure was skaars oop toe moes dit toe. Ons kon later omry en by die venster koop, maar in kon ons nie gaan nie. Ons het ook Julie na Almaty verhuis, dus het ons dit nie weer oop gesien nie. Toe was alles nog toe soos ‘n kleios se gat. alla my pa se uitdrukking van baie toe.

As ek so na die foto kyk, verlang ek sowaar na Ust, die misdaadlose stad aan die grense van Rusland, Kazakhstan, Sjina en Mongolië. Die sneeu het teen Maart al meer gesmelt, dus was dit nie meer so koud nie.

Maar, Dusty het steeds haar spikes (bande met ysterknoppies) gedra om te keer dat sy gly. Waar daar min ys op die pad was, het die bande vreeslik gegggrrrrr, veral as mens draai. Elke motoreienaar met ‘n garage se garage het ‘n diep dat gehad, sodat jy sommer self jou kar se bande kan ruil. In die garage het altyd ‘n stel bande gestaan, somerbande op die kar, winterbande in die garage, of andersom …

Iedergeval, dit was ‘n belewenis om in Russies te probeer verduidelik watter KFC produk ek wou hê. En, o ja, KFC het die Kazakhs in ons stad aan koffie bekend gestel. Hulle drink mos net tee, die lekkerste tees, maar hulle het ook van KFC se koffie gehou.

Ek hou kontak met ons Russiese en Kazakh vriende daar, selfs al sal ons mekaar waarskynlik nooit weer sien nie. Goeie tye gehad.

Ek kyk so na alles waarvan Rusland beskuldig word en ek glo niks. ‘n Vrou en ‘n kind is vir die Russe baie na aan goud. Hulle mag tot laat snags alleen loop, niemand sal hulle aanraak nie. iets waaraan die Weste nie gekenmerk word nie.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Herinneringe: KFC in Ösmenen ala Ust-Kamenogorsk

  1. Sjoe, wat ‘n interessante lewe. (En sowaar nog iemand wat praat van toe soos ‘n klei-os se gat. 😁) Hier in die Boland ken baie mense nie die uitdrukkings waarmee ek grootgeword het nie.

    Liked by 1 person

  2. Wat ‘n mooi herinnering! Ten minste lyk die KFC prentjie darem dieselfde 😁. Laat my dink … ons eet glad nie McDonalds nie, maar toe ons die Portugese Camino gestap het, het ons een Sondag in ‘n klein plekkie aangekom – oor Paasnaweek – en alles was toe. Behalwe die McDonalds. Ons moes maar noodgedwonge daardie plastiek burgers koop, want ons was HONGER!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op kammakastig Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.