Gepubliseer in Joernaal

Ons tel vorentoe en agteruit

Ek is verwonderd oor hoe intelligent klein kind is, maar ook oor hoeveel hy homself leer en hoeveel die skool hom leer.

So slaap hy oor, die eerste keer en dit was so lekker. Al was dit eers tranedal om hom weg te kry by die kerk se springkasteel. Dit was aandmark …

En toe slaap hy maklik oor, ek het geweet hy sou. Want, hy het mos lank by my gebly. Hy ken my, ons huis. Hy slaap net baie, baie rond en bont in die bed.

Vanoggend word ek wakker gemaak met: “Wakker word, ouma, dit is opstaantyd.” Ek sê dit is mos nog nie opstaantyd nie, toe wys hy na die venster. Kyk, die son is al op.

Ons het in die spaarkamer, ook bekend as sy kamer geslaap. Toe kom maak ons vir oupa skrik. En oupa het regtig groot geskrik.

En toe speel ons met syfers. Ek het ‘n speletjie gekoop waar mens syfers 1-10 moet pak. Amper soos ‘n woordspel, maar net met syfers. Hy “lees” toe eers die reëls en toe vertel hy my hoe dit werk.

Jy moet die syfers op die staanbalkies pak. Van 1- 10. Toe 9 en 10 nie op kom nie, is hy tevrede. Die balkie is vol. En toe vertel hy my dit moet nou agteruit getel word. En daar gaan hy. Soek die regte syfers en pak hulle agteruit.

Dit gaan so.

10, 9 … Dan kry hy die 9 en sit dit neer.

10, 9, 8 … en so tot hy almal het wat kan pas.

Die 6 het eers gepla, toe verduidelik ek hy moet kyk na die strepie onder die syfer. As hy dit dan draai dat dit strepie onder is, is dit of ‘n 6 of ‘n 9.

Ek weet nie of mens op drie al sulke goed moet kan doen nie. Hy word darem 4 die einde van hierdie maand.

Maar, ek dink beslis dit is slim. En ver voor wat hy al behoort te kan doen. Maar wie sou nou wou kla? Hy leer speel-speel, of ons hom nou wil leer of nie. Hy leer vanself.

Hy leer uit alles en oral, en as hy met goedjies speel, word daar in Engels gesels …

Sy Engels is maklik net so goed soos sy Afrikaans.

Dit is interessant om te sien hoe hy groot word.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

20 gedagtes oor “Ons tel vorentoe en agteruit

  1. Dit is goed om weer van jou te hoor en ook meer van jou kleinseun to leer. Ja, hierdie leer deur speletjies te speel is die beste manier: daar is geen druk nie en hy voel net die genot van die speletjie. Kleintjies kan baie meer inneem as wat ‘n mens sou dink!

    Liked by 1 person

  2. Hul is mos soos ‘n spons. Hul hoef net iets te hoor of te sien en hul herhaal outomaties. Dis hoekom die Katoliekekerk kinders wil hê tot ouderdom sewe. Dan is hul totaal in die kerk se hand. Party leer natuurlik ook vinniger as ander. Die blootstelling aan alles maak hul ryk aan kennis.

    Liked by 1 person

      1. Ek is nie op ‘n baie goeie plek met my gesondheid nie. Maak my met tye nogal moedeloos. Daar word nog toetse gedoen om agter te kom wat presies aangaan met of in my spiere. Ek weet ouderdom speel ‘n groot rol.

        Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.