Gepubliseer in Joernaal

Een maand gelede … Shilo

14 Junie 2023 is ‘n seer dag in my lewe, die dag toe ek na ‘n veearts moes luister wat sê dat ‘n hondjie, wat wil lewe, beter af is as hy hom aan die slaap maak.

Ek wou skryf doodmaak, maar daar is soveel mense wat al deur my pyn is, en hulle almal verkies aan die slaap maak. Dus kan ek, ‘n maand later, tog in ‘n mate berusting kry in ek-het-hom-aan-die-slaap-laat-maak eerder as ek-het-hom-laat-doodmaak.

En, ek is besig om te berus. Stadig, maar seker, Ek gesels wel soms met hom as iets gebeur, soos Bekka wat van sy maniertjies oorgeneem het. En soms sit Bekka net so voor my en kyk vir my. Sonder wegkyk, want dit is mos wat Miniatuur Schnauzers doen – hulle kyk jou vas in die oē, glad nie bang dat jou oē hulle gaan domineer nie.

En dan voel dit of ek in Shilo se oē vaskyk. Asof hy sê dat hy al die pad van die see af teruggekom het, hy gaan g’n ‘n leē huis oppas nie, hy is hier by my.

As ek en BB gaan stap, is Shilo se rooi leibandjie aan hare vas. Ek moes mos een keer in Bothaville inderhaas leibande koop toe ons harnasse ingepak het, maar die leibande in die agterdeur van die ander kar was. Nou is daar twee stelle leibande, en ek sit Shilo se rooi ene by BB se pienk. Dit stel my gerus. maar dit pla my ook. Ek sal nie weer rooi goedjies vir hondjies koop nie, dit is Shilo se kleur.

Bekka is blou en BB pienk, natuurlik, sy is my dollatjie. Maar rooi, nee dit is Shilo se kleur.

As ons gaan stap, is daar soveel goed waaroor ek spyt is. Een daarvan is dat ek hier net een keer met Shilo (en die ander elkeen op sy eie dag) gaan stap het. Die rede daarvoor is tweeledig.

In die eerste plek weet ek nie of jy ‘n Schnauzer ken nie, maar mens kan hulle op ‘n myl hoor as jy met hulle gaan stap en hulle ander honde sien. En in ‘n groepie is, soos wat ek altyd met al drie gaan stap het. Hoor en sien vergaan en dit maak my ongemaklik, dus groet ek mooi by die deur en stap alleen vir sielerus.

Tweedens wou Shilo tot hy amper 9 was nie op ‘n leiband stap nie. Toe ons van Kazakhstan af teruggekom het, het ons in Kuruman/Kathu gaan bly. Naweke sewe/agt ure lank huis toe gery … en moes ons langs die pad stop. So het ek die harnasse gekoop, maar Shilo het aanvanklik steeds geweier om met ‘n leiband te loop. As ek die harnas aantrek, was hy gelukkig. Sodra ek die leiband haak, het hy gaan sit en moes ek trek om hom aan die beweeg te kry – en dan weier hy steeds om te loop, gaan lê om te wys hy is nie ‘n hond nie, gaan nie soos een aan ‘n leiband loop nie.

Ons het gewen, hy het in die ses maande geleer om aan die leiband te loop, want stop langs die pad en sit soos steekse donkie terwyl boeta en mamma lekker rondsnuffel het gou vervelig geraak. Toe kom ons terug, bly in klein kompleks en moet ek met al drie gelyk stap as ek nie drama wil hoor nie. Die plek was so klein dat ek verskeie kere voor my eie huis en tuin verby moes loop om 30 minute te stap. En dan het die wat tuis moes bly ‘n keelgat opgesit.

Ek het, toe ons na hierdie plek getrek het, drie keer per week voldag na kleinseun gekyk. En dan het ons twee gestap, hy op sy fietsie tot hy moeg is, en ek met die sleepwaentjie (babawaentjie) langsaan om terug te stoot as hy moeg is dat hy kan slaap. Met die drie woewe wou ek nie die ander dae stap nie, en een-een het ek nie aan gedink nie.

Tot die week voor ons Desember see toe is. En in daardie week het ek met elke woef een keer gaan stap. Net een liewe keer.

By die see het ons met die woewe op die strand gestap, dit was heerlik. En toe ons terugkom, is Shilo ‘n week later kruppel. Na drie weke se weeklikse besoeke by verskeie dokters het ek die kanker so groot soos ‘n monsterklip op sy pelvis gesien op die MRI video. Ek was naar van skok.

Shilo het volgens die dokter nie veel meer tyd oorgehad nie. So min dat hy net vir 20 dae pille gegee het. Shilo het egter vasgebyt en ek het maandeliks die meer as R1000 vir sy pyn medikasie betaal. Later doeke gekoop toe hy verlam geword het en nie meer buitentoe kon gaan om te piepie en te poefie nie. Shilo het nooit, maar nooit in my huis gepiepie nie.

Dit moes vir hom baie erg gewees het toe hy beheer oor sy blaas en later sy stoelgang verloor het. Maar, ek was bereid en gewillig om te help. Sy drie wasbare doeke, waarvan ek al vertel het, het R500 gekos, maar ek was bereid om te betaal.

Toe dra hy elke doek skaars voordat ek die besluit deur die veearts laat neem het. Al was ek en Shiles nog nie reg vir die laaste groet nie. Ek weet steeds nie of ek die regte besluit vir die hondjie gemaak het nie, al het ek geweet wat sy prognose was. Hy het vyf maande langer geleef as wat die veearts hom kans gegee het.

Maar, hy het nie geweet wat vir hom wag nie. Ek het, die kanker het te vinnig versprei en het reeds sy orgaantjies begin druk om beheer te verloor. Dit moes seer gewees het, kanker in ‘n klipharde ding blykbaar. En hy moes gely het, al het hy nie gekla nie.

As ek hom gebad het, het ek die benerige agterbene seergemaak – ek weet, want die pelvissie was al byna sigbaar bo sy lyfie. Hy het so maer geword. Ek weet ek moes my by veeratse berus, en ek begin heel word omdat ek moes ja sê op sy besluit – sy bevinding?

Soms wonder ek net of ek nie bietjie langer moes wag nie. Of ek nie toe die besluit geneem het omdat ons daar gaan aftree nie. Omdat ek gedink het dat nog drie maande dalk nie vir Shilo beskore is voordat ons weer afgaan nie.

Dan betugtig ek myself. Jy het die beste gedoen vir die woefkind wat jy kon. Jy het duisende aan sy gesondheid bestee. En nou kan hy rus, voordat die kanker sy lewe uit hom uittap – en hy elke deeltjie van daardie pyn voel tot hy nie meer kan nie.

En dan troos ek myself dat dit wel genadedood was.

Shilo is nou soos hy wil wees,

En daarin vind ek berusting.

Ek kan nou al na sy foto’s, soos hierdie drie, kyk. En liefde en dankbaarheid en geluk begin om die pyn te verdryf … so wil ek Shilo onthou.

Ek is in die bevoorregte posisie om nie ‘n prentjie brein te hê nie, ek verwoord prente. Kan in woorde onthou hoe goed gelyk het, maar die prent bestaan nie in my kop nie.

En daarvoor is ek besonder dankbaar.

Ek het nie ‘n foto van sy dooie lyfie geneem nie, dit sal dus vervaag tot niks. Sodat foto’s van ‘n lewende Shilo my lewe kan vul.

Of nie? Ek het hierdie stuk verlede week geskryf, en besluit om eers vandag, op die vermaanddag te plaas. Dus meer as vier weke gelede.

Gister lē Bekka buite en slaap. Soos Shilo dood op die tafel vn die veearts gelē het. Net so, die nekkie vorentoe gerek, die lyfie stil op sy sy. Ek het in trane uitgebars, dit was te veel vir my. Daardie prentjie gaan gereeld in my kop ingeprent word. Sal Bekka moet leer om anders te lê as hy slaap.

Tog voel dit nou of Shilo gaan slaap het. En nie doodgemaak is nie? Wat ‘n simpel manier van troos?

Ek mis Shilo, met sy swart en wit pelsie. Die out-en-peper van sy mamma en boetie word darem al weer vir my mooi, voel nie meer so vaal teen hom nie.

My eie Shilo van Suid-Afrika.

Ek het aanvanklik besluit om nooit weer honde te hê nie. Maar onlangs gedink dat ek eendag, wanneer Bekka en BB gaan slapies het, weer ‘n swart en silwer Schnauzer sal koop. Vroutjie dalk hierdie keer. Maar nee, ek dink ek staan by my besluit. Ek kan nie weer hierdeur gaan nie. Ek weet dan nog twee keer kom, en ek bid dat hulle self sal sterf as die tyd daar is. Waarom moet dit my besluit word?

Hooffoto: Shilo was so lief vir my soos ek vir hom.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Een maand gelede … Shilo

  1. Shilo sal nooit jou hart verlaat nie … al is hy nie meer fisies hier op aarde nie. Ek dink ons treur baie oor ons honde omdat hulle op so baie maniere die perfekte vriende is. My stukkie raad vir vandag: Hou vas aan daardie herinneringe waarvan jy so mooi hier skryf 💌.

    Liked by 1 person

  2. Liefste Christa

    Dit is altyd moeilik om van jou dierekind afskeid te neem, maar jy het sulke mooi herinneringe van julle tye saam. Teer daarop en onthou die swaar en die seer word makliker, maar dit neem lank.

    Stywe drukkies vir jou. Shilo was ‘n besondere troetelmaat vir jou.

    Sterkte!

    Jeanne

    Liked by 1 person

    1. Sjoe, baie dankie, hy was. En ek voel ek het hom gefaal, sou hom nog soveel langer wou help, tot hy self wil gaan. En ek dink dit is wat my die meeste onderkry, dat ek nie weet of ek hom gefaal het nie. Ek sal darrvoor hoop, dat ek aan hom kan begin dink sonder om verskriklik te voel oor daardie besluit. Dan weet ek weer dat ek hom sou moes laat gaan, sy tyd op aarde is deur kanker gesteel. En dat hy die laaste pyn gespaar is.

      Like

      1. Jy het met die kennis tot jou beskikking die beste vir Shilo gedoen. Dit kon nie vir hom lekker gewees het om doek te moes dra nie. Probeer dink aan jul goeie tye saam en moenie jouself verwyt nie. Soms moet ons doen wat ons moet doen al is dit sleg. Geniet die ander twee elke dag.
        🤗🤗🤗🌹

        Liked by 1 person

        1. Baie dankie, dit probeer ek doen. Stap met hulle, en hulle geniet die aandag baie. Maar, hulle mis hom. Ons moes hulle blykbaar aan hom laat ruik het, dat hulle weet. Nie ek of manlief kon dit doen nie.

          Like

    2. Alhoewel ek tog dink dat Shilo saam sal stem opor die doeke dra, het hy dit verdra, selfs probeer staan dat ek die doek kan aansit. Maar ja, jy is reg, daardie trotse hondjie was baie dankbaar as ek afhaal. En dit kon ek net doen as ek doeke ruil, anders was die ou lyfie vol piepie, en dan moes ek was. Geen foto wys hoe sy lyfie al agteruit gegaan het nie … dit sou dalk help? Of my foto’s lyk hy so goed.

      Like

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.