Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: Ons klein Einstein

So kry kleinkind sy eerste rapport, wat onnies op my FB groep RSA onderwysers die horries laat kry het. Dit is nie ‘n rapport nie, dit is ‘n verslagkaart …

Ek was so lus om hulle vas te trap en af te slag. Want dit is ‘n rapport, verslagkaart, spogboek of wat hulle dit ookal wil noem. Ek kan nie verstaan waarom hulle by ‘n woord vashaak en vergeet om die vraag te beantwoord nie.

Die vraag was: “Watter soort kommentaar is onvanpas op ‘n 3-jarige se rapport. Daardie vraag is nie goed beantwoord nie. Sommiges was van mening dat daar niks slegs mag staan nie, ander was in opmars daarteen – praat die waarheid op die watsenaam hulle dit ookal wil noem.

Ek wou eintlik vertel van sy rapport. Ek is ‘n juffrou, en juffrouens praat van rapporte.

Dit is een dik lêer met sy naampie op. Groot en sterk naam vir so ‘n klein seuntjie.

Wat hierdie ouma weet, is dat hy tot twintig en meer kan tel. Maklik. Volgens juffrou tel hy tot 20 in Afrikaans. En tot 10 in Engels. Groot prestasie vir ‘n seuntjie wat einde Maart eers 3 geword het.

Hy het nou die dag ‘n hempie aangehad. Lank voor sy rapport gekom het. En toe druk hy op die letters op die mou. Hoofletters. En spel vir my TEAM PAW uit. Ek was in my noppies, die kind herken letters, ek dink ek kon dit eers op skool doen – dus toe ek al ses was?

Volgens sy rapport, ken hy die hele alfabet, maar sukkel hy met T en U. Ons het verbaas na die rapport gekyk. Tussen die assessering en die rapport het hy wel die T leer ken. Is die U dan nog oor? Die juffrou was erg beïndruk die een dag toe sy vir my vertel hy ken 24 van die 26 letters van die alfabet.

Vir mamma het sy gesê hy is haar klein Einstein.

Dit weet hierdie ouma al baie lankal. Toe hy syfers tot 20 herken het terwyl hy op toeps speel. Daarna kyk en homself leer terwyl hy kyk.

Dat hy die alfabet ken, is vir my indrukwekkend.

Ek besef juffrouens gaan hier lees en die aapstuipe kry. Hy moet dit nog nie kan doen nie.

En dan is ek dankbaar oor die skool waarin hy is. Wat nie vir ‘n kind ‘n plafon stel nie, maar hulle toelaat om te leer so ver hulle kan … en wil.

Dit laat my dink aan my dosent vir begaafdekind onderwys. Ek het dit op honneursvlak en ook my M gedoen oor begaafde kinders.

Ons moet kinders stimuleer, aan alles laat voel en vat. Maar, as hulle vinniger as ander leer, wou sy hê ek moet my dogter op amper 7 eers in die skool sit. Toe ignoreer ek haar, sit haar op amper ses in die skool en so het sy haar skoolloopbaan met 6 uit 7 onderskeidings geslaag.

Begaafde kinders sukkel met emosies, ons kleinseuntjies ook. Hulle breintjies werk te vinnig, die emosies ontwikkel mos stadiger. En dit moet mammas, pappas en onderwysers weet, maar begaafdekindonderwys is nie deel van die kurrikulum vir onderwyseropleiding nie.

Arme kinders …

In Kazakhstan en Rusland word hulle in spesiale skole gesit, waar hulle talente ontwikkel word. Hier mag hulle talente erken word as hulle op sportgebied presteer, maar as hulle akademies presteer, moet dit onder die maatemmer weggesteek word.

En dan wil almal weet waarom veral begaafde seuntjies teen standerd sewe erg onderpresteer …

Of, waarom ons land se kinders nie kan spel nie. Kinders word al later skool toe gestuur, terwyl hulle breintjies vroeg-vroeg soos sponsies is. Terwyl hulle jonk wil leer …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Kleinkindpret: Ons klein Einstein

  1. Dis heerlik om te sien hoe die kleintjies blom. Op daardie ouderdom is hul behoorlik soos ‘n groot spons. Die inligting moet net beskikbaar wees dan absorbeer hul alles. Eintlik tragies as mens dink hoeveel kleintjies nooit die geleenteid het om daardie spons te gebruik nie omdat daar nie iemand is om dit voor te hou en te help herhaal nie. Ek en Beatrix tel steeds elke skaduwee van heiningpaaltjies as ons skooltoe loop. Ons gaan in een loop selfs oor die 50. Sodoende kom sy agter dat daar net 10 syfers is wat oor en oor gebruik word. Lekker speel met jou Einstein! Dis sooooo lekker.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.