Ek het vertel van my swart asblik wat verlede Maandag voor my hekkie gestaan het.
En … dat ek so laf was om buurvrou te bedank daarvoor. Wel, sy was nie beïndruk dat ek kon dink dat dit sy is wat haar handjies vuil gemaak het om myne ook op te bring nie. En toe voel ek soos ‘n aap. Natuurlik sou sy nie, hoe kan ek so simpel wees?
Inteendeel, hulle hou van die begin af nie van my nie. Dit is ‘n lang storie, wat ek seker een keer sal vertel. Maar, dit kom daarop neer dat hulle die oprit na ons huis telkemale met hulle motors versper het. Selfs deur op my gaste parkeerplek te stop dat ek nie om die boom by my eie huis kan uitkom nie. Die saak is behoorlik “uitgeveg” maar die man was kwaad omdat ek hom nie gun om te stop soos hy wou nie …
Vrydag is manlief steeds in die buiteland. En besluit ek om die blou drom vir herwinning af te stoot, en onmiddellik terug te bring as ek die trok hoor verbygaan.
Ek wou mos eers die weldoener uitvang, maar my moed het my begewe. Wil ek weet wie dit was?
Toe doen ek dit myself, gaan haal my drom dan hoef ek mos nie te wonder nie. Skat ek moes ‘n wetenskaplike eerder as taalkundige geword het. Ek verkies werklik goed wat verklaar kan word bo die onverklaarbare. Soos byvoorbeeld die gesmokkel met mense se koppe oor aardverwarming – wat intussen genadiglik na klimaatverandering verander is. Want dit is wat aangaan, daar word met die klimaat gepeuter. Gehoor toe die president van hierdie land die Weste gevra het vir finansiële steun vir klimaatverandering …
Iedergeval, ek wou vertel dat iemand met my kop smokkel.
Vrydag gaan laai ek manlief by die Gautreinstasie op. Geen blou asblik voor my hekkie toe ons by die huis kom nie. Saterdagoggend gaan ons dorp toe en raai wat …
By my hekkie, soos ek my blou asblik wil hê, staan ‘n bliu asblik. Manlief vra of ek dan nie ons asblik ingevat het nie. En ek sê dit is nie ons s’n nie, ek het ons s’n self gaan haal en in die erf gesit.
Daar is geen nommer op die asblik nie, en toe ek mooi kyk toe hy daarlangs stop, is daar ‘n twee ingekrap. Dit is die buurvrou skuins oorkant my se drom, iemand het dit verby haar huis gestoot van onder af. En by my hekkie kom los.
Manlief het uitgeklim en dit vir haar na haar hekkie gestoot, en die middag is dit weg toe ons van die dorp af kom.
Wie sou dit doen?
Buurvrou s’n gaan haal en voor my hekkie kom los, soos ek dit wil hê, reg geplaas om die hekkie oop te kan maak om dit in te trek?
Genugtig … hierdie drom storie raak nou baie interessant! Ek dink jy moet terug gaan na jou eerste gedagte: Wanneer dit weer tyd is om die drom uit te sit, moet jy deur die venster sit en loer om te kyk wat gebeur na dit leeg gemaak is … die tegnologie is sweerlik nog nie daar dat die drom self kan “loop” tot by jou hekkie nie 😄.
LikeLiked by 1 person
Ons huise is so gebou dat geen vensters na die oprit se punt wys nie, ek sal moet uitgaan en kyk. Wil manlief ook vra om nog ‘n kamera te installeer wat straataf kyk, oprit af altans. Dan kan ek op so ‘n kamera kyk. Wat ek wel weet, is dat dit my ongemaklik maak.
LikeLiked by 1 person