Gepubliseer in Joernaal

So, wat laat my dink dat iemand aantreklik is?

Dit is nou die vraag wat seun gisteraand vra, hulle het dit by die werk bespreek. Die vraag vir hom was of hy ‘n boobs of boude man is.

As ek, as sy ma, moet raai, is hy ‘n boobs man. Want, toe ons in die stad na huise kom kyk het toe hy matriek was, het hy in die kar vir my gevra nadat ons een huis bekyk het. Is die meisie nie skaam om haar onderklere so oop en bloot oor ‘n stoel te los nie, Ek het nie gesien nie, dus het ek gevra waar? En het hy geantwoord: “Het ma dit nie gesien nie, dit was ‘n baie groot bra.

Wel, daaruit het ek afgelei dat hy boobs bo boude verkies, maar ek het liewer niks gesē gisteraand nie. Toe vra hulle wanneer dink ek iemand is aantreklik?

Wel, ek dink ek sien oē raak, en as die oē vriendelik is, dan dink ek die mens is vriendelik. Ek het nog nie ‘n kwaai vrou gesien wat vir my mooi is nie, dus is dit seker so. Volgens seun kyk sommige vrouens wel na die gesig, maar ander dink hare maak ‘n vrou mooi of nie. As ek aan myself dink, is dit seker waar. Ek dink glad nie ek lyk goed as my hare verwilderd lyk nie.

En toe gesels ons natuurlik oor mans. Seun weet daar is een ding wat vir my ongelooflik aantreklik is, en dit is ‘n mooi mansvoorarm, met die moue opgerol. Sterk voorarm, die moutjie moet nie lyk of dit tot by die akouer opgerol kan word nie.

En toe praat ek eerder oor wanneer my man vir my sleg lyk. Hy het baie jeans, sommiges uit sy vetter dae. En hy dra almal. Dus lyk die uit die vetter dae soos daardie seuns wat hulle broeke op hulle heupe dra, so asof daar ‘n poefie in die broek hang, Jy weet, soos ‘n nat babadoek? Dit is vir my baie lelik, en ek raas dan met hom. Al is sy belt mooi vas om die broek bo te hou.

Skoondogter kry hom dadelik jammer, sy hou ook daarvan dat haar klere los sit. Dit is gemaklik.

En ek voeg toe onnadenkend by. Nee wat, die broek moet mooi sit, ek sien nogal mooi boude so raak in ‘n man se wegstap.

En daar word ek, volgens hulle, uitgevang. Ek is ‘n boude mens.

Mansboude sal ek mee saamstem.

Vrouensboude? Ek twyfel, ek voel half naar as ek in die boude van die meisies van dit gum vaskyk wat daardie nuwe geplooide broeke dra om die broeke tussen hulle boude te laat intrek. Vir my lyk dit soos ‘n probleem met die boud, allesbehalwe mooi.

Ek dink nie ek sien boobs of boude raak nie, behalwe as dit ten toon gestel word. Soos met die broeke en halslyne wat te laag is.

Vir my lê aantreklik in die menswees, dink ekke. Die raaksien van ‘n vriendelike gesig. Lywe sien ek eers daarna raak. Natuurlik lê aantreklik ook vir my in kleredrag. Klere wat mooi pas by ‘n liggaamsvorm maak vir my mense baie mooi.

Hooffoto: Sulke gekerfde lywe is nie vir my aantreklik nie, dit lyk seerderig …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “So, wat laat my dink dat iemand aantreklik is?

    1. Is waar, hy was mooi. Ek dink een van die stywe broekie Jan-Jans is te mooi vir woorde. Maar, dit gaan ek nou wragigies nie uitblaker nie, hy kon my kind gewees het. Juanita se Ruan, is dit sy naam? is ook baie, baie mooi … en Elvis se seun …. die Afrikaanse sanger van Namibië

      Like

  1. Het ek die nog geniet. En dit is iets wat ons moet onthou – wel, wat Elsabé moet onthou. Mense sien nie my lyf raak nie, ook nie my nie-fotogeniese gesig nie. Dis die persoonlikheid wat wys deur die oë wat saakmaak.

    Liked by 2 people

    1. Presies, Elsabé, dit is hoe ek voel. Vriendelike mense trek my soos magneet aan, vyandigheid in oë laat my terugstaan en nie weer kyk as ek nie hoef nie. Iets soos dit. En dan natuurlik, vir my is almal mooi wat volgens hulle lywe aantrek, vreemd, is dit nie?

      Liked by 1 person

  2. Ek sal omonwonde verklaar, dit was my man se boude wat ek eerste raak gesien het 😉. Ek was ‘n jong tikstertjie wat die fotostaatmasjien ook beman het en hy het daarna kom kyk toe ‘n liggie by die masjien geblaas het … ek was besig om verwoed te tik en toe ek ‘n geluid by die masjien hoor en opkyk, sien ek daai mooi boudjies voor my! En toe hy omdraai en sy oë so mooi saamlag met sy gesig, toe weet ek – hierdie is ‘n mooi man!

    Liked by 2 people

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.