Ons is vanoggend baie vroeg op. Drie-uur. Om vieruur die pad na Stilbaai te vat. Met, natuurlik, ‘n waentjie gelaai met goedjies wat manlief daar nodig het.
Bakstene vir bou. Staalkaste wat ek by ou skool oorgekoop het vir sy stoor, scaffolding. Wat is dit in Afrikaans?)
Bakkie is gelaai met kragomskakelaar battery stelsel vir die huisie by die see. En met ons proviand, ons het gisteraand lekker padkos gemaak, sommer genoeg vir vanaand as ons daar aankom.
Woewe is ook gelaai, Shilo is steeds lewendig, dus drie woewe ook.
Ons het by Grasmere gestop, weer by Kroonstad en toe by Bloem. Intussen het iewers tussen Kroonstad en Winburg langs die pad gestop en ons padkos geëet wat vir ontbyt gemaak is.
Hamburgers met vleis en avo, manlief s’n het tamatie en ui ook op gekry. Hy het gemaak.
Teen die tyd wat ons 81 km van Colesberg af is, en net na die Sprinfontein petrolstasie, is ons al lus om by Colesberg te stop en bene te rek.
Maak, dit was ons nie dadelik beskore nie. Manlief het gesê daar is fout en toe ek in my kantspieëltjie kyk, wieg die waentjie en leun na my kant. Die Amarok het dit nie gevoel nie! Bedoelende dat dit nie sleg op die stuurwiel was om die kar in die pad te hou nie.
Toe ons stop, kom my kantste wieletjie aan die regterkant verby die bakkie, aan die ander kant van die pad en hol mooi teen die reëlings af sonder om weer na die pad terug te keer. Ook op pad Colesberg toe!
Tweede keer wat so iets met ons gebeur. Dat ons “vrag” verloor wat oor ‘n besige pad hop en wip, sonder om gevaar vir ander te skep.
Die vorige keer het ‘n groot, groen leerstoel van ons waentjie gewip op ‘n afdraende op die N1 by Johannesburg. Ons was in die vinnige baan, die stoel is oor die hoofweg om aan die ander kant van die pad tot ruste te kom, sonder dat enige motors getref is.
Beide kere het die Here ons beskerm.
Ons kon nie oor die pad gaan nie, dus het ons gery om by ‘n afrit af te klim en in die teenoorgestelde rigting te gaan om weer by ‘n afrit af te gaan om op die ander kant van die hoofweg te ry tot by die stoel. Toe ons daar kom, is hy weg. Klaar opgelaai en weggevat! Gesteel!
Iedergeval, ek wou van vandag vertel.
Ons waentjie se wiel se bearings het gebreek. En van die as afgebreek. Baie ver op die pad geskuur. Ek dink ons geluk is dat dit nie op Gauteng se paaie gebeur het nie. Hierdie pad is perfek!
Seker daarom dat manlief, nadat hy gestop het, eers die wieletjie agterna gesit het aan die linkerkant van die pad. Ek weet nie of julle die stuk tussen Colesberg en Bloem ken nie? Groot trokke ry baie gevaarlik op daardie strek, gaan op slegte plekke verby. Dubbele wit streep keer hulle nie.
Toe hy die warm wieletjie terug by die bakkie het, moes hy agtertoe gaan red. Want daar waar die wieletjie afgeklim het, het sy boute wat die veld in is ‘n veldbrand begin. Op twee plekke! Dus het hy eers daar gaan red, die veld is droog, dit sal ‘n ernstige veldbrand veroorsaak.
Toe hy so by my verby kom om 250 meter verder die vbrand te blus, sê hy ek moet bel en hulp kry.
Ek het gesoek vir “trailer+repair+Colesberg en op Herman se nommer afgekom. Gebel, ons ligging gegee en manlief het verder gereël.
Toe begin die wag.
Ongeveer twee ure later het die vlakbed by ons gestop met een ouerige man as die enigste hulp. Ek het werklik gedink dit gaan nie werk nie. Intussen het ons maar koeldrank gedrink en die woewe uitgetel en water gegee.
En het ek gestres, Marlene, want die teokke ry so naby aan mekaar agter mekaar as hulle daar verby kom. En die waentjie staan effens in die pad met sy onbeseerde wiel. As die agterste trok na die geel streep kom, kan dit ons tref!
Maar, genadiglik is almal goed by ons verby.
Herman het ook vir ons ‘n tannie se nommer gegee vir oorslaap. Ons gaan nie vanaand in Stilbaai wees nie. Haar plek is oorkant sy plek, dus is ons sommer naby.

Ek het geen idee wat die skade gaan wees nie, die as moet vervang word. En dan die insleep van 80 km, en die werk om die as reg te maak.
En nou is ons by die gastehuis, lē op die bed. Die woefkinders het ‘n baie groot erf waar hulle mag rondharloop. En ons wag …
Die as moet van Bloem af kom, kry nie daardie lengte of so iets hier in Colesberg nie …
Wanneer ons weer die pad gaan vat, weet ek nie. Sal weer kom skryf.
Ons is egter rustig.
Dit is die tweede keer wat ons waentjie skade by Colesberg kry. Die vorige keer was ons en seun op pad Knysna toe vir sy troue. Dit was sterk skemer en toe bars die Venter waentjie se band. Aan my Volkswagen CC. Die waentjie was swaar gelaai en die manne het gespook om die waentjie te lig. Toe moes ons ‘n band soek in die volgende dorp …
Die Here het ons weer beskerm, en sommer ook mense voor en agter ons op die pad.
Hoeveel meer kan mens hê om voor dankbaar te wees?
Hooffoto: Manlief en sy wieletjie. Ons het lekker gelag. Want. Donderdag het ons ‘n swart man so jammer gekry. Sy bakkietjie se voorwiel het so afgekom en die pad by Chamberlains, Centurion gevat. Ons het so gekyk vir die skewe bakkie sonder voorwiel in die ingang na die winkel toe, en toe sien ons die man wat straat af kom met die wieletjie aan die rol. En ons het hom so jammer gekry, die wiel moes ver gehol het. En toe tref dit ons ….
End goed, alles goed
LikeLiked by 1 person
Jong, Seegogga, dit is waar.
LikeLike
Ek is bly om te weet julle is veilig.
LikeLiked by 1 person
Aardetjie tog! Dis was omtrent ‘n gespook met die waentjie (en rollende wiel)! Maar tog is ek bly om te hoor julle is veilig.
LikeLiked by 1 person
Dankie, vriendin, dit was. Maar alles eht so in stadige aksie gebeur, en is in stadige kaie opgelos.
LikeLiked by 1 person
Sjoe dis nie n lekker ondervinding nie! Bly julle is veilig.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, Aletta, ons is net so dankbaar.
LikeLike
Nooit lekker om so iets oor te kom nie en die gewag voel soos ‘n ewigheid. Bly julle is darem ok
LikeLiked by 1 person
Dankie Positief, dit het half vinnig verby gegaan met die woewe by ons. Maar, ek waardeer jou besorgdheid baie
LikeLiked by 1 person