Gepubliseer in Joernaal

Pitstoppe en pitstoploos …

Ek het op ‘n plaas in die Modderfonteinomgewing grootgeword, altans tot einde standerd 4, Daarna is ons Chrissiesmeer en Ermelo toe …

Daardie tyd was daar nie iets soos pitstoppe langs die pas nie. Daar was sement tafels en stoele onder bome op sommige paaie. Vir petrol en diesel moes mens in dorpe inry om ‘n plek te kry waar jy kan volmaak,

My ma het altyd vir ons padkos gepak. En dan het ons langs die pad gestop om te eet, soms met die bak met kos op die enjinkap van die motor. Natuurlik op ‘n sagte ding, my pa was baie erg oor sy motors.

Iewers tussen standerd 4 en my vier jaar op universiteit het pitstoppe die lewe makliker gemaak. Mens kon mooi beplan waar om in te gooi. En so het mens klein dorpies langs die pad misgery. Die grotes het wel seker gemaak dat mens dardeur moes gaan.

Ons het altyd verlangend gekyk na die pitstoppe met baie vakansiegangers en die vakansiegees. My pa het verbygehou en dan het ons iewers langs die pad gestop om te eet.

Ek het gedink dat dit sommer suinig was, ons kon mos ook soos amder by die Wimpy eet? Ek was al baie groot toe ‘n maatjie in Randfontein ons “stick” vir ‘n Cream Soda float. Ek het mie geweet wat dit is nie, was verstom dat iemand roomys in koeldrank wil gooi. Ek het glad nie van die smaak gehou nie.

Ek kan natuurlik verstaan waarom my pa nie wou stop nie, Kan jy jou indink wat dit hom sou kos om vir hom, my ma en vyf dogtertjies vir etes by Wimpy te betaal? Maar, ek het tog in ‘n mate afgeskeep gevoel. Almal eet so, maar ons staan lans die pad en eet …

Al was my ma se padkos lekker. Eiers, broodjies (sy bak self brood), koffie en so aan. Ons het nie tee gedrink nie. Tee het eers die land (of dalk plase) binnegedring toe ek al kon onthou. My pa drink boeretroos!

Een keer het maatjies ons vertel van iets nuuts op die mark. Joghurt! Ons was in die Kaap en my pa het besluit om vir ons joghurt vir die pas te koop, by een van die winkels wat dit wel verkoop het.

Ons was super-opgewonde. Uiteindelik kon ons proe.

Ons sussies het dit een kyk gegee en geweier om te drink.

Dit was nog nie soos nou in bakkies nie, dit was in deurskynende bottels. En …

Daar was vlieē in!

My pa en ma het eers gelag, maar naderhand was hulle baie kwaad. Ons mors geld. Dit is nie vlieë nie, dit is grinadella pitte. Ons het geweier om te proe hoe ‘n vlieg proe. Want sien, ons het op ‘n plaas grootgeword met melk wat soms ‘n orige vlieg se landingsplek was. En dan is dit weggegooi. Hierdie vlieg-joghurt gaan ons nie proe nie.

Hulle moes bes gee, die kinders maak hulself te naar vir die joghurt. Ek het jare later eers joghurt geëet. En ek kies nooit die met pitte in nie … Al is die joghurt in bakkies baie fyner as daardie eerste joghurts.

Ek en manlief stop van die begin af by pitstoppe. As daar natuurlik op die pad pitstoppe is. Wanneer het die eerstes hulle koppe uitgesteek?

Ek weet daar was teen die tyd wat ek kinders gekry het pitstoppe op die N3 al die pad Durban toe. Ons het nooit die pad Kaap toe gevat nie. Dit is baie ver met kinders in die kar, en die water is te koud vir swem. Maar, daar was pitstoppe!

Hy het in 2006 vir my ‘n Hyundai Elantra gekoop. ‘n Bloedrooie, my keuse. Ek was gek oor my pragtige motor. En so is ons met ‘n waentjie en die motor vanaf Welkom na Johannesburg se kant reguit Wes-Kus toe.

En kry ek die verrassing van my lewe. Daar is nie pitstoppe nie, al die pad tot in die Wes-Kaap en al die pad kuslangs af tot baie naby aan Kaapstad!

Bykans twee dekades later, ry ons nou gereeld die N1 af tot by Colesberg, en daar draai ons see se kant toe om Middelburg oor see toe te ry. Tot by Colesberg kan ons kies en keur, daar is pitstoppe langs die pad. Grasmere, die een voor Kroonstad, Kroonstad, Winburg se kleintjie, Bloem se verskeidenheid en Colesberg s’n ook.

En dan is daar niks!

Verstommend as mens daaraan dink dfat jy al die klein dorpies langs die pad mis ry, eers by Graaf Reinette deur ‘n dorpie gaan en dan weer almal mis tot in George. En die dorpies is so klein dat daar nie eintlik eetplekkies is nie. En as daar is, is hulle op vakansie … jy word nie gou gehelp nie.

En so het ek na my kinderjare teruggekeer. Ek en manlief maak … raai jy reg? … padkos. Ons stop by die mooi rusplekke langs die pad en eet ons padkos so. Ons maak bottels vol koffie (nie tee nie) en ons geniet die rustigheid van die platteland en die Karoo terwyl ons ons kos eet.

En kan jy verder raai?

Ons eet op die oomblik selfs ons eie padkos in die parkeerplek van pitstoppe by Bloem. Ons gaan te vroeg daar deur om hulle oop te kry, en nou doen ons sommer die padkos ding by hulle parkeerplekke – selfs al is die Wimpy oop.

‘n Rede daarvoor is dat ons woewe in die kar het. En dat die een plek mens toelaat om buite met jou woewe te sit en die ander een nie. Om ongelukkigheid uit te skakel, eet ons en die woewe sommer by die motor, of by die bankies waar mens kan sit en wag. Of rus.

En so swaai my lewe terug na my kinderdae, een groot sirkel van verandering deur die ritte na ons huis by die see bepaal. Ons is terug by padkos.

En ek wens ek het my ma daardie tyd meer waardeer met haar vars brood en eiers en worsies (wat my poa self gemaak het, hulle het mos hulle eie slaghuis gehad. En biltong en droë wors, hoe kon ek dit vergeet?

Padkos is tans bobaas, nie meer iets waaroor ek my skaam as ek langs doe pad aftrek om een my eie kos te smul nie. ‘n Voordeel daarvan is dat ek presies weet wat in my kos is, geen melk of room of botter nie. My maag gedra haar soet tot in die Kaap … en weer terug by die huis.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Pitstoppe en pitstoploos …

  1. Ek en Baaskind ry gereeld Heilbron toe, dan stop ons daar by die Pitstop tussen Alberton en Vereeniging….en drink fleskoffie met beskuit! sommer so sit sit in die kar want dis gewoonlik te koud om uit te klim!

    Liked by 1 person

  2. My ma het ook vir ons die lekkerste padkos gemaak vir die lang rit vanaf die Tranvaal tot by die Suid-kus. Ek maak nog steeds padkos vir ek en my man, alhoewel hy daarvan hou om hier en daar ‘n pasteitjie te koop. Ek eet nie rooi vleis nie so is gelukkig met my eie kos. Hierdie herinneringe van jou het my laat lekker aan my kinder jare terugdink.

    Liked by 1 person

  3. Hoera vir padkos! My ma het ook altyd padkos ingepak – eiers, gebraaide wors, frikkadelletjies en heerlike toebroodjies. Maar sy het altyd 2 flesse gehad – een met koffie en ‘n ander met tee (ek en my pa het tee gedrink). En vandag pak ek weer padkos in as ons die langpad vat (of sommer ook ‘n langerige kortpad 🙂). Dit bring die mooiste herinneringe terug … en soos jy se, ek weet wat ek eet as dit my eie kos is (en die tee en koffie kos nie ‘n plaas se prys nie)!

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar op Aletta - nowathome Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.