Ek dink jy weet nou al dat my hart stukkend is omdat kanker my Shilo van my steel. Wel, ek dink hierdie foto vertel dalk meer oor ons verhouding as my woorde …

Ek het nog nooit in my lewe hondjies toegelaat om so na aan my hart te kom soos wat ek my drie Schnauzertjies toegelaat het nie. En toe koop ek sy mamma, BB, om my huishondjie te wees.
Dit het so gekom. Ons het bykans ons lewe lank in Welkom gebly, omdat my man ‘n mynbou-ingeneur is. Mynbestuurder en so meer. Daardie tyd was Welkom veilig, al is ons bakkie uit ons voortuin gesteel.
Ek het egter mettertyd ‘n groot hond gehad. Altyd ‘n wolfhond. Ek is mal oor wolfhonde. En boewe is versigtig vir wolfhonde. My wolhonde (Alsations) was egter buitehonde en ek het nie by hulle gesit of met hulle gespeel toe hulle groot was nie. Ek het wel met hulle gespeel toe hulle babas was.
Toe ons einde 2005 groot stad toe trek, was ek bang. Gevaarlike plek. En toe koop ek ‘n Siberiese Husky. Nevan, my blou-oog kind. Nevan het die eerste paar dae in die huis gebly, maar hy was regtig baie stout en is gou na buite verban. Almal is bang vir hierdie loverboy honde, waarskynlik weens die blou oë.
Husky’s is prettige honde. Minnaars nie boewe nie. Hulle staan by die hek en sê:
“Hallo, hallo, halloooooooo!“
Bang mense hoor egter:
“Waag dit net om. hier in te kom!”
Ons het ‘n huis in ‘n landgoed (Ruimsig Country Estate) gekoop, en dit het geen diefwering gehad nie. Manlief is vroeg soggens uit en het laat saans tuis gekom, hy het in Rustenbirg gewerk en daagliks heen en weer gery.
En ek was alleen tuis, maar seun het vanaf die huis universiteit toe gegaan.
Toe koop ek ‘n Labrador vir my stoute Nevan as maatjie.
Dit was ‘n fout. Hulle was baie stout en sy wou nie in die stad bly nie. Ek het haar toe maar rivier toe gevat om daar op te pas. Sy is so twee jaar voor Nevan oorlede, dus in 2018 as ek nou reg onthou.
Ek het egter vir BB in 2010 gekoop om by my in die huis te bly, mens het blykbaar ‘n blaffertjie in die huis nodig om jou wakker te maak.Sy het baie meer as ‘n blaffertjie geword. Sy is tot saam met my dorp toe, ek het ‘n pienk handsak vir haar gehad.
Toe laat ek haar babas kry, en hou ek ene – vir Sobek. En toe bel die een koper van haar babas my, syne het verdrink, is daar nog? En toe laat ek haar weer babas kry – en koop die man nie een nie …
Die mense het gekom en gegaan soos hulle babas kies, maar Shilo is nie gekies nie. Die kinders het vir die ouers gekies, die ou wollerige enetjie en so aan. Dus nie vir Shilo nie …
Manlief was ernstig, Shilo moes gaan. Ons koes reeds sy sussie, Sankie, hou omdat sy ‘n haaslippie gehad het. En seun se Seth, wat Sobek se boetie is. Vyf Schnauzers is te erg, Shilo moes gaan.
Ek het weer bestel en die man het laat weet hy kom Shilo haal. Toe hy egter daar inry met sy tatoes en groot motorfiets het ek nie kans gesien om Shilo op ‘n motorfiets te laat gaan nie. Veral nie toe hy met my praat nie. En het ek al die pad met die man agter my aan Pretoria toe gery, ver anderkand die middestad, dat hy ‘n hondjie koop by die teler wie se twee Schnauzers my BB twee verskillende kere gedek het.
Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek beoordeel en veroordeel nie mense met tatoes of motorfietse nie. Die man self het my skrikkerig gemaak om Shilo aan hom te verkoop. My susse se kêrels ry motorfiets, my een blogvriendin in ‘n verre land ook.
En so het ek nie weer geadverteer nie en het Shilo deel van die huishouding geword …
Ek is egter, anders as in die geval van BB en Bekka, Shilo se gunsteling mens. Ek is hulle s’n ook, waar ek gaan, gaan hulle. Met die gevolg dat ek dikwels na aan my nek breek is soos ek moet keer om nie te val as hulle voor my voete is nie.
Maar, Shilo is anders met my. Hy wys vir almal ek is su gunsteling mens.
En nou gaan my baba eerste die hiernamaals tegemoet moet gaan. Voor sy ouboet en voor sy mamma, soveel anders as wat mens dink dit moet gebeur.
Hy is egter nog nie reg om te groet nie.
Ek lag vir hom soos hy met my praat. as ek nog nie soggens sy medisyne gegee het nie, kyk hy vir my en maak sy bekkie oop en toe en lek oor sy lippe. En dan vlieg ek op om die medisyne te gaan haal.
Tans lek sy watsenaampie as ek hom uitdra om buite te piepie. En mors hy op sy agterste en voorste beentjies. Dus het ek vir hom Pampers aangesit, maar dit werk nie so mooi nie. Die watsenaampie steek maklik verby en dan is hy vol piepie.
Ek het die oulikste goed op Takelot gesien toe ek soek vir doeke vir woewe. Doeke vir manklike hinde. Vrek duur, gaan my so R10 een kos. Maar, dan hoef ek hom nie die hele tyd te bad nie …
Ek kry Donderdag en dan sal ek toets en daaroor skryf.
Vir nou wou ek sommer net die foto deel wat wys hoe lief my Shilo my het.
Kan jy dit sien? En kan jy dan verstaan waarom ek hom sal oppas tot hy vir my sê dat hy nie meer op die aarde wil wees nie?
Hy wil dit nie nou sê nie …
Die foto van ons twee is deur ‘n professionele fotograaf geneem toe ek foto’s vir ‘n vaktydskrif nodig gehad het. Sy wou my op my gemak by my huis kry, toe stel sy voor dat ek saam met my woewe poseer. En raai wie wou eerste saamstaan?
Ek kan absoluut sien hoe lief Shilo jou het! Dalk omdat hy weet jy wou hom van die begin af hou 🐾. En wat ‘n pragtige foto om altyd te koester!
LikeLiked by 2 people
Dit is so, vriendin, ek oorweeg om dit te vergroot …
LikeLiked by 1 person
Pragtige foto wat julle verhouding beter illustreer as wat woorde kan.
LikeLiked by 2 people
Dankie, Seegogga, ek het gedink as ek die foto deel, sl mense verstaan waarom ek hom nie kan vat om ingespuit te word as hy nog WIL lewe nie.
LikeLiked by 1 person
Mooi foto’s
LikeLiked by 1 person
Dankie, my hart pyn eintlik wanneer ek daarna kyk.
LikeLike