Gepubliseer in Joernaal

Skok: KWV se HUB uit pos weens vrou se uitlatings

Ek kyk nie na die Housewives van die Wynlande nie, ek het regtig nie tyd om te sit en luister hoe ‘n klomp ryk vrouens probeer om aandag te trek onder die vaandel van huisvrouens nie …

Vaandel, omdat ek vir geen oomblik glo dat hulle huisvrouens is nie. Nie eens tuisteskeppers, die titel wat baie huisvrouens verkies. Ek dink nie hulle verrig die take van ‘n huisvrou nie. Inteendeel, ek dink hulle het ‘n bediende vir alles … Waarom dan nie eerder ander titel vir die reeks nie?

Iedergeval, ek wou eintlik praat oor die Hoof Uitvoerende Beampte van die KWV, Boyce Loyd, wat sy werk kwyt is nadat die eerste paar episodes van die Wynlande se huisvrouens uitgesaai is. En raai waaroor? Oor die uitsprake van sy vrou, Anita Loyd, in die reeks.

Ek het Vrydag in die nuutste skinder- en swartsmeer tydskrif (Huisgenoot) gelees dat sy haar kant stel oor haar uitsprake wat reeds uitgesaai is, en dat sy eintlik bekommerd is oor wat nog kom. Want, sy kry die wind erg van voor oor haar uitsprake – en Huisgenoot wou selfs met die KWV praat oor wat hulle dink oor haar uitsprake!

Goeie aarde … ek het nie besef sy was saam met haar man vir sy werkonderhoud voordat hy die werk gekry het nie. En dat sy werk dus afhang van haar uitsprake ook nie?

Natuurlik dink ek dat sy verantwoordelikheid moet neem vir wat sy te sê het. Al meen sy dat sy \n “persona” aangeneem het en dat dit nie regtig is soos sy is nie. Dat sy bietjie vuur gemaak het om die reeks opwindend te maak. Wel, twee van haar uitsprake is regtig nie iets waarop sy trots kan wees nie, al was sy ‘n persona.

Die een het gehandel oor mammon, die geldgod, En dat ons almal hom aanbid. Maar dit is nie die ergste nie, volgens haar sou sy van ‘n brug afspring as sy nie geld het nie, dit is volgens haar baie sleg om arm te wees.

Wat sou sy doen as mense by brûe gaan afspring omdat hulle arm is?

Ek het arm grootgeword, maar ons was ryker as baie ander mense weens die liefde in ons huis. En … ek het nooit gedink dat ons arm is nie. Ek was ook nie skaam vir my ouers of susters nie. Ons het kos en klere gehad, en ‘n plaas vol vrede. Ons is ook nie ryk nie. Waarop baseer sy die stelling dat dit sleg is om arm te wees?

Sy kan ook nie sê dat ons almal mammon aanbid nie, dit is beslis nie ‘n waarheid nie. Sou die arm mense mammon ook volgens haar aanbid?

‘n Tweede stelling wat mense witwarm het, is dat sy nie van vet mense hou nie want … en hoor dit … hulle stink!

Goeie aarde!

Die meeste vrouens is nie met hulle gewig tevrede nie. Ek is seker sy ook nie, want sy is beslis nie maer nie. Maar, om te sê dat vet mense stink, is onaanvaarbaar. Ek ken baie mense wat oorgewig is, ek self ingesluit. Ek dink nie sy sal dink dat ek vet is nie, sy sou seker sê dat ek maer is as ek ontevrede sou wees oor haar stelling.

Maar, die punt is, ek ken nie een enkele oorgewig mens wat stink nie. Inteendeel. Ek ken nie mense wat stink nie, selfs op paviljoene en in rye in winkels is daar nie mense om my wat stink nie.

‘n Uiters onverantwoordelike stelling.

Ek was dus gister erg geskok toe ek lees dat haar man uit sy pos is, dat iemand anders reeds volgende maand oorvat. En dat dit gaan oor haar uitsprake in die reeks.

Ek het die Huisgenoot artikel gelees en slegs gelees dat sy die twee uitsprake oor armoede en vetwees gemaak het. Daarvoor behoort sy beslis aangevat te word, dit is gemene stellings. En sy behoort van beter te weet.

Die Netwerk24 artikel beweer dat haar man in die moeilikheid is omdat sy met haar rykdom spog. Wel, dit is wat al die vrouens in die reekse doen … hulle kies nie arm vrouens vir die reekse nie, hulle kies juis die rykste van die rykste. En die huisvrouens van Pretoria (en hulle mans) het erg met hulle rykdom gespog. Ek het die reeks so hier en daar gevolg. Die wat slegte aanmerkings gemaak het, se mans is nie daarvoor gestraf nie.

Ons het Sondag daaroor gesels. Iemand wat ek ken se familie werk in die bemarkingsafdeling van die KWV. En hulle het blykbaar skade gely weens Anita Loyd se uitsprake.

Waarskynlik omdat die reeks daarmee spog dat haar man die HUB van die KWV is. En waarskynlik omdat dele van die reeks blykbaar juis in die kelders van KWV geskiet is.

Maar, ek ontevrede met die KWV oor die manier waarop hulle die saak hanteer het. Sy was nie in hulle diens nie. Sy is ook nie ‘n verlening van haar man nie. En … sy sê niks sleg oor die KWV nie – dit word nèrens genoem nie.

Ek is seker dit sou genoem gewees het as sy iets slegs oor die KWV gesê het.

Ek neem haar kwalik oor wat sy oor arm en vet mense gesè het, dit is onverantwoordelik en gemeen. Erge vorm van boeliegedrag. En ek wonder wat sy gaan wees as sy beide raak – vet en arm, wamt sien, dit is nie in haar hande nie. Sy kan beide in ‘n oogwink raak …

En wat dan?

Waaraan gan sy haar waarde dan meet? En hoe gaan sy dit hanteer as sy vet is en nie die duurste parfuums kan bekostig om volgens haarself lekker te ruik nie?

Maar, dat haar man se werk in gedrang gekom het oor haar uistprake is onaanvaarbaar.

Dit is ook onaanvaarbaar dat mense die KWV straf oor haar uitsprake. En hulle daarmee oorval.

Vir sulke mense gun ek mense soos hulle om die lewe vir hulle nag te maak. Ek gun hulle ook mense soos hulle wat hulle straf oor wat hulle mans of vrouens sê. Net om te voel hoe onregverdig dit is.

My mening oor Huisgenoot en Netwerk24 is weer terug. Ek lees nie die Rapport nie en ek lees soms die Huisgenoot op my Mags toep. Maar beide maak my naar … skinder en swartsmeer is hulle verkooptegniek.

Ek verkies Sarie en Rooi Rose.

Ek verkies om te lees oor goeie mense, miskien omdat ek verkies om te streef na beter wees. Ek haat dit om skindernuus oor mense te lees, dit maak my naar. Ek wil my nie teen hulle meet nie … en ek wil nie weet wat hulle vuil wasgoed is nie.

Ek vermoed ek gaan nie weer KWV produkte koop nie. Dit is nie hoe ek dink die saak hanteer moes gewees het nie.

Hulle kon bloot ‘n verklaring uitgereik het dat hulle nie pa kan staan vir die woorde van ‘n werknemer se vrou nie. Sy is immers nie ‘n werknemer by hulle nie.

Maar, ek kan verstaan dat dit ongemaklik sou wees by enige volgende funksies van die KWV. Daar sal beslis mense wees wat hulself as vet of arm teen die Loyds sou meet. En dit kan ‘n baie onaangename atmosfeer te weeg bring. Iets wat mens seker ten alle koste sou wou vermy.

Wat my seker by die slotsom bring dat die vrouens van mans in hoë poste ‘n wag voor hulle mond moet sit. En dit laat my nou laat wonder, is sy nie dalk bekend vir slegte uitsprake nie?

Hoe mens ookal daarna kyk, die vrou het haar naam met ‘n plank geslaan. En dit gaan haar volg waar sy ookal gaan. Want oral waar sy gaan gaan daar mense wees wat weet wat sy van hulle dink as hulle in die twee kategorieë val …

Die punt wat ek dan seker wil maak, is dat mens in ag moet neem watter impak jou uitsprake op jou man se werk kan uitoefen. Veral indien sy werkgewer hom sal laat boet vir jou woorde …

Ek dink Anita is ‘n sprekende voorbeeld van wat my ouers my geleer het as kind:

“Klas kan nie gekoop word nie!”

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Skok: KWV se HUB uit pos weens vrou se uitlatings

  1. Ek het nog nooit enige van die reekse gekyk nie … gaats, ons het nie eens ‘n TV nie, dus kan ek nie regtig kommentaar lewer nie. Maar terwyl ek jou post lees, was my heel eerste gedagte, dis moes ‘n boelie hierdie (ek sien jy het dit wel later genoem). My ouma het altyd gese: “Ons liewe Heer het vir ons twee ore en EEN mond gegee” … waarskynlik juis dat ons eerder moet luister as om te veel (en onnodig/onsin) te praat.

    Liked by 2 people

  2. Elkeen vir homself en die duieel vir almal… se die spreekwoord. Anita het nie n maklike kinderlewe gehad nie, sy skroom nie om te sê dat sy groei en dat sy tot ander insitr kom nie, want sy het nie voorheen van beter geweet nie.
    Ja, dai 2 stellings “vang” en ontstel my ook, maar hart is nie lelik nie, so glo ek en sien ek selfs… media – sommiges se dit is NIE agv van haar in die reeks nie, die ander persoon sou in elk geval einde vd jaar oorvat en sommiges beweer dit is wel die geval.
    Ek stem ook nie saam met haar uitlatings nie, ek was ook heuwig ontsteld, maar ek sien uit om haar beter te leer ken voor ek TE veel oordeel

    Liked by 1 person

    1. Ek stem heelhartig met kou saam. Sjoe, goed om te weet dat sy wil verbeter, ek kyk ongelukkig nie die program nie, dus kan ek nie oordeel nie. Wat ek eintlik wou tuisbring is dat dit haar man se werk beïnvloed het. Volgens iemand met binnekringkennis trek die KWV swaar oor haar uitlatings. Moes hulle die hele tyd vure doodslaan. En dit is vir my baie onregverdig. Maar, glo my, ek tel sedertdien ook maar my woorde hoor, ons sal swaar trek as manlief sy werk weens my uitlatings verloor …

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.