Ons was gou Mosselbaai toe om saam met vriende uit te eet. Daar gekom is ons eers na die Langeberg Winkelsentrum toe om paar goedjies te koop.
Want ons dorpie het nie so iets nie. Ons het Spar en OK en dit is dit. Nie dat ek kla nie, ek geniet die min winkels in ons dorpie.
So is ek gou by die toilette in en toe ek uitkom staan manlief voor die Billabong winkeltjie, so skuins oorkant Woolies. En hy roep my met:
“Raai wie is hier binne?”
En kom aangestap en daar staan Steve en sy vrou met ‘n winkeltrollie, skaars paar tree van my af. Hy in die gangetjie op pad uit en ek voor die deur.
Snaaks hoe mens se eerste reaksie is om te groet. Maar dan merk jy ook dadelik op dat hy vir jou wegkruip. Sy pet laag oor sy oë getrek soos in die misdaadstories wat hy skryf. En hy het ‘n donkerbril op.
Sy vrou is egter ‘n oop boek, geen pet op haar krullebol nie. Ook nie eens ‘n donkerbril waaragter sy skuil nie. Sy is steeds die vrou agter die man.
Sou ek groet as hy opgekyk het? Ek weet nie, ek dink nie ek sou nie. Ek is heeltemal te teruggetrokke om iemand tromp-op te loop en te groet. As hulle my nie ken nie.
Ek kon Desember in Stilbaai wag om ‘n foto saam met hom te neem. Dit het ek ook nie gedoen nie. Toe sou hy vir die foto gelag het, vandag wou hy net gewone mens wees wat inkopies saam met sy vrou doen.
Ons het die oomblik laat verbygaan, hulle het uitgestap en regs gedraai. Ons het eers gewag dat hulle uit is voor ons gekyk het na die hempies wat manlief raakgesien het.
Maar, hy het my gesien. Ook teruggekyk toe hy wegstap. Ek ook, hoe anders weet ek dit? Vir ‘n oomblik het ons vir mekaar gekyk soos skepe op die see.
Dalk was hy dankbaar dat ek gemaak het of ek nie weet wie hy is nie?
Dalk weet ek hoe dit is as mens in die dorp in jou skoolkinders vasloop as jy sommer net wil wegsmelt en nie juffrou van Staden wil wees nie?
Dalk het hy gehoor wat ek gesê het?
Ek hoop nie so nie, want my eerste reaksie was dat hy kort is.
Ek het hom tog al op die verhoog gesien.
Verskeie kere.
Ek het nie geweet dat Steve Hofmeyr kort is nie. Ek sou hom heeltemal misgekyk het omdat ek nie in die dorp kyk na die mense om my nie. Maar, ek het hom tog herken.
Dalk omdat hy vir my groter as ‘n mens is?
‘n Held.
‘n Man wat opstaan en praat oor die ongeregtigheid in die land. Oor plaasmoorde. Oor onskuldige mense wat gemartel word. Terwyl die aanhitser die hele tyd mediadekking kry.
Hy word gekruisig en beboet oor sy standpunt oor die plus van Disney+. As ek hy was, sou ek ook nie in mense wou vaskyk as dit nie in ‘n show was nie.
Inteendeel, ek sou mense vermy.
Soos die pes.
Hoekom pyn my hart so as ek sien hoe oud Steve word? Omdat dit ‘n einde van ‘n era sou wees as hy nie meer daar is nie? Ek word oud, hy is skaars jonger as ek en dit pla my nie. My man raak oud, dit pla my ook nie. Waarom pla dit my dan dat hy oud word?
Ek was Desember geskok om op die verhoog te sien hoe oud onse Steve geword het. Veral toe ek na die video kyk wat agter hom gespeel het en waar hy deur ‘n treinvenster kyk. Dalk wou ek die waarheid nie van so naby bekyk nie.
My hart pyn. Daarom deel ek ‘n skakel na een van my gunstelinge van Steve – Redgebed.
Ek sien hy sing dit ook saam met Juanita en Bok, ek deel nie daardie een nie. Want, ek het my respek vir beide verloor. Volgens Steve dans hulle ver weg van hom af as hulle saam met hom op die verhoog is, want hulle borge vereis dat hulle nie saam met hom op ‘n foto is nie. Nou ja toe, ek hoop maar die borge betaal genoeg, want hulle het lojale aanhangers verloor.
Ek was natuurlik verras dat manlief my geroep het …
Welgedaan Christa. Ek respekteer ook mense se privaatheid.
LikeLiked by 2 people
Ek sal nie daarvan hou as vreemdes net kom gesels nie. Ek het egter nie vir een oomblik gedink dat Steve so graag weggesteek wil wees nie. Juis noudat hy ons steun meer as enige ander tyd nodig het nie.
LikeLiked by 1 person
Gedurende die National Arts Festival hier het ons al gewood geraak om beroemde sangers en akteurs te sien. Almal wil net as normale mense voorkom as hulle in die strate loop, koffie drink of iets in die supermark koop.
LikeLiked by 2 people
Ek stem saam Anne, en ons juffrouens verstaan dit dalk beter as enige ander mens. Ek kon selde utgaan sonder om in kinders en ouers vas te loop. Ek het die privaatheid nodig gehad as ek nie by die skool is nie.
LikeLike
Ai, ou Steve. Ek sou seer sekerlik te beskroomd wees om die groot gees te groet! Foto sou nie saakmaak nie. Maar ja… kan my nie indink hoe versigtig hy moet rondbeweeg om net mens te wees. Ek deel jou hartseer oor oud word van kunstenaars. My hart huil nou nog oor Anneli wat nie meer sing nie. Laurika wat oud word. Theuns wat oorlede is. Carike wat nog so mooi lyk… maar ook die jare tel.
LikeLiked by 2 people
Jy weet dan, jy noem my gunstelinge een vir een op. Anneli en ek was saam in die Afrikaanse klas op Tuks, storie som te vertel, ek moet net onthou.
LikeLiked by 2 people
Hy bly maar een een van ons grootste sangers.
LikeLiked by 2 people
Hy doen, daar is nie een enkele ander sanger wat sy plak kan volstaan nie. My hart sukkel om dit te glo.
LikeLiked by 1 person
Ek is en bly mal oor hom🌻
LikeLiked by 1 person
Ekke ook vriendin.
LikeLiked by 1 person