Hierdie plasing vorm deel van die volgende bloguitdaging:
“Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel …
‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue
Nadat Shilo sy storie vertel het, is ek opgekommandeer, ek moet myne ook vertel.
My naam is Sobek van Arendsig. Ek is deel van ma BB se eerste werpsels kinders. Ek het ‘n tweede naam, maar ek het nou so bietjie vergeet. Amper soos liewe heksie. Die naam het ‘n geskiedenis.
Mensma het die eerste werpsel van ma BB die name van Egiptiese gode gegee. Nie dat ons afgode is nie, o, nee, ons is haar kinders. Soos haar eie bloed. Sy wou net anders wees – die name moes verband met mekaar hou.
Boet Seth was die stoute een, die rabbedoe van die werpsel en boeta het hom gekies. Seth was die stoute Egiptiese afgod, dus het Seth sy naam gekry. Boeta wou hom aanvanklik Bliksem noem, dok Danie Craven het sy woefkind mos ook so genoem. Maar ma het botweg geweier, so gaan ons nie in die huis praat nie. Set was baie dankbaar daaroor.
My naam gekry omdat ek ‘n stoute babatjie was.
So vertel ma.
Ek het die een aand bo-oor almal gekruip wat geslaap het. Jy weet daai luiperd kruip ding? Al kermend. Volgens ma wat nie kon slaap met die baba wat so kla nie. Die hele kooi wakker gemaak.
Ek het ma BB se melkies gesoek. Maar sy het net gevoed en uit die bed geklim, dus het ek die hele klomp gepla, sonder om ma BB te kry. Ma kyk my toe so en sê ek is nes ‘n vervlakste krokodil. En daar steek die naam vas. Ek is krokodil.
En toe is daar sowaar ‘n Egiptiese god met die naam Sobek – wat ‘n krokodilkop gehad het. Die res is geskiedenis, ek was so bly. Daarna was ek nie meer krokodil nie. Nee, ek is Sobek.
Net my gesin weet wat Sobek beteken. Maar ma noem my sommer net Bekka. Haar Bekkatjie.
Kyk, ek is lief vir ma. Ek sal enige iets doen wat sy vra. Toe sy vra ek moet saam met haar dans, het ek nie geweier nie, ek het gevra hoe lank. En nou is ek haar dansmaatjie.
Shilo maak my so bietjie vies. Hy was kleiner as ek toe ma Kazakhstan toe is. En hy vergewe makliker. Toe ek weer sien, dans hy ook met haar. Nou wel effe stokkerig, maar hy doen. Want ek wou nie, ek was kwaad vir haar. Sy het foto’s gewys van die sneeu. Ek sou daar kon aanpas, maar ons moes bly. https://christavanstaden.com/2019/06/02/sonder-bb-sobek-en-shilo-my-geliefde-schnauzers-in-qazaqstan/
Hulle het gouer teruggekom en ek het haar net mooi vergewe, toe trek sy Kathu toe. Maar sy het belowe sy kom my die einde van die maand haal. Ok, sy kom ons haal.
Ek weet nie waarom nie, maar ek is altyd honger.
Dan wil ek sommer almal se kos opeet. Boeta se vrou het my nou mooi geleer. Ek moet saam met die ander sit en wag. En dan kan ek eers kos kry, saam met hulle eet. Ma doen dit nou ook, sy geniet dit om te sien ek het maniere gekry.
Ek doen dit omdat sy dan minder met my raas.
Ek is ‘n sout en peper Schnauzer. En ek het nie tyd vir mooimaak nie. My baard is altyd deurmekaar, al het ma dit so pas mooi gemaak. Maar ek dink dit kan nog mooi word, ma BB se baard het eers onlangs mooi geraak. Daar is dalk hoop vir my. Hierdie tienerstadium is nie vir sissies nie. Hoekom het Shilo so ‘n mooi baard? Hy is dan jonger as ekke!
Jy weet, dit is soos met mans ook. Party het welige snorre, ander hoop hulle s’n lyk soos ‘n snor. Party het welige baarde, ander moes maar liewer skeer.
Ma sal nie toelaat dat ek skeer nie, dus moet ek met die onnet snor en baard saamlewe. Sy ook, ek kan sien sy kyk soms baie ontevrede na die baard van my wat glad nie netjies wil bly nie. Ek het Shilo al probeer afloer, dink dit is net in sy gene. Hy doen niks spesiaals om die mooi baard te dra nie.
As ek water drink, hang dit in die water. Dat ek soos ma BB en Shilo ‘n streep water oor die vloer maak.
Dan sug ma net en maak sy skoon. Sy kan darem sien ons drink die water wat sy vir ons gee.
Sy raas baie min met ons. Sê amper nooit dat ons stout is nie. Behalwe as een van ons ‘n been in die huis durf waag lig. Ons het so groot geskrik dat ons ma BB aansit om haar en pa in die nag wakker te maak dat ons buite kan gaan pieps. Sy het die vloere daarna met asyn gewas. Mensig, dit stink so as mens daaraan ruik voordat jy tevrede met die piepsplek is dat ons nog nie weer in die huis gepieps het nie. Natuurlik is sy ook baie kwaai. Dreig om ons neude daarin te vryf. En dan moet jy weet, die pieps is dan ook in ons drinkwater want ons baarde hang daarin.
Ag nee, sies man. Ons sal beslis nie weer in die huis pieps nie.
Boeta maak my soms kwaad. Hy noem my jannie-jammergat. Kan jy dit oorvertel? Net omdat ek geneig is om my gevoelens op my mou te dra. Dan raak ek nog skamer, sies, hy kan jy eerder troos as ek voel dat ek afgeskeep word. Ek kry myself dan vreeslik jammer en almal kan dit sien. Ek wens ek kan my gevoelens beter wegsteek.
Ons kuier tans weereens by boeta en sy vrou. Hulle kind (ma se kleinkind) is vir my die mooiste ou babatjie. Ek het eers vir hom geskrik. En geblaf. Want mens vergeet dat mense so klein kan wees as almal om jou groot is.
Nie meer nie. Ek pas hom mooi op, hy mag nie by die deur uitkruip nie.
Ek hou van bad, kan nie ma BB en Shilo verstaan nie. Hulle haat bad.
Ek kan nie wag dat ma my in die bad tel en streel en vryf en sjampoe en afspoel nie. Dan sit ek op die bed dat sy my hare droogblaas. Dit is alte lekker. Ma BB stoei om ook saam te sit, maar Shilo vat die pad. Hy hou niks van haardroërs nie. Dus is daar net ek en ma BB wat om aandag meeding.
Ek is nie ‘n metro man nie, hoor. Ek geniet net die aandag wanneer ma my moet droogblaas. Alleen tyd. Kwaliteittyd. Buitendioen, pa het sy hare met rolborsel drooggeblaas toe hy ma ontmoet het. En hy is nie ‘n metro man nie, eerder ‘n boer. Ek hou van die kwaliteittyd saa, met ma.
Ek sien uit na die einde van die maand, dan gaan ons saam met ma in Kuruman bly. Ek hoor dit is warm daar, maar ma sê dit reën die hele tyd. Sy het nog nie regtig gevoel hoe warm dit kan word nie.
Die pad huis toe het blykbaar verspoel. Na al die water wat uit die hemel gestort het. Kan jy dit oorvertel? Water lyk so onskuldig vir my. Maar ma waarsku gereeld by die rivier.
“Bekka, sê sy, “kom weg van die wal. Ek gaan nie daar kan afklim om jou te gaan red nie. Jy sal maar moet swem as jy daar inval. Dit is baie hoog.”
Maar ek weet, as my voet die dag sou gly, sal sy alles los en my kom red. Want ek is Bekka, haar dansmaatjie.
Ek dans soos ‘n regte danser, my voorpoot liggies in haar hand. Ek kan draai en swaai en alles, ek hou die meeste daarvan as ons two step, maar ek kan wals ook. Ma het my geleer. Op oom Steve Hofmeyr se musiek. Ma hou baie van sy liedjies. Veral skoklitbeksoentjies … Die stupid YouTube laat ma egter nie toe om die video so opp te laai nie, sy moet ander musiek kies. Hulle gee darem goeie idees, want dit lyk of ons op die oorgeplakte musiek dans.
Ons het eers mooi halsbandjies gehad met ons name op en ma se nommer. Nou mag ons dit nie meer dra nie. Dit is eintlik Seth se skuld.
Hy wil alewig stoei. Ek en boet Seth het een oggend toe ons nog kleinerig was in die kombuis gestoei. En toe haak ons halsbande aan mekaar vas. Hoe meer ons gesukkel het om van mekaar los te kom, hoe stywer het die bandjies getrek. Ma het die lawaai gehoor, afgekom, Ons het geknor en mekaar met die dood gedreig. Ons dog die een verwurg die ander een.
Ma het Boeta wakker gegil en hy het mes gegryp en die een om Seth se nek afgesny. Ma sê sy weet nie hoe hy dit reggekry het nie, sy kon niks tussen die bandjie en ons nekkies inkry nie. Die bandjies was verrek en verdraai, ons was in ‘n doodstryd gewikkel.
Daarna het ons nooit weer bandjies gekry nie. Al,was dit so mooi. Myne het ‘n hartjie gehad waarop my naam was. Ma het vir ons sulke instapbandjies gekoop wat om ons lyfies gaan. Glad nie om ons nekke nie. Myne is blou, Seth s’n is rooi en ma BB s’n is pienk. Sy is gek oor alles wat pienk is. Vroumense darem! Ons dra dit net wanneer ons gaan stap. Shilo weier om te stap, hy gaan sit. Dan moet ma hom dra. Sy doen dit, maar raas met hom. Hy is bagn vir dra, maar ook vir die bandjie. Dit is waarom Boeta dink hy is soos die spoke in oom Steve se liedjie – so bietjie dom.
Ma sē die bandjies is onnodig, sy het ons laat chip. As ons wegraak, weet mense presies waar om ons te gaan afgee. Ek weet nie mooi hoe dit werk nie, onthou nie eens die chip nie. Ma sê ek was nog baie, baie klein. Maar sy kyk gereeld of die chips nog daar is.
Dit is vir my besonder lekker as ek en ma en ma BB en Shilo wegkruipertjie speel. Ma is baie stout, sy kruip tot agter gordyne weg. Wie sal nou daar gaan soek? Dan lag sy vir ons as ons haar nie kry nie. En word ek baie skaam. Want Shilo kry haar altyd eerste. Ek hardloope n kyk rond en soek. Hy nie, hy sny spoor. Wonder waar het hy dit geleer? Ek word vies, maar as sy weer wegkruip, soek ek haar net weer. Ek moet weet waar sy is.
Dit is my werk.
Ma is ‘n terggees. As sy sien ons aandag is op ‘n ander plek, kruip sy weg. Nou is dit al gewoonte om voor haar te stap en elke nou en dan om te kyk. Om seker te maak sy doen dit nie. Mens se hart skrik groot as sy skielik weg is. Want pa het my aangestel om haar op te pas.
Ek is baie lief vir my ma. Sy is baie lief vir my.
Hou jy van my?
Ry 1: My baard en ma BB s’n langsaan. Ai toggie, tog, dit is mos baie verkeerd dat ‘n meisiekind so baard het en die man nie. Ry 2: Gesinsfoto – Ek sit voor regs, ma is links. en ek kry nie ‘n beurt op die quad nie. Seth het my plek gevat. Ek is nou nog daaroor te vieste in. Ry 3: Toe ma die foto vir my wys het sy geterg: “Ek neem aan jy verstaan waarom boeta my jannie-jammergat noem? ” Nee, ek verstaan nie, verstaan jy? En ai tog, kyk my skamele baard teen Shilo s’n. En … so sit ons nou soet as ons weet ons gaan kos kry. Boeta se vrou gee nie die kos voordat ons mooi soet sit nie.
Sus Sankie sal seker volgende vertel, ek dink so. Want ma gaan self Nevan se storie vertel, hy is nou in die hemel, so hoor ekke. Gewonder waarheen hy is, gedog hy is ook Kazakhstan toe …
Kliek hier om die ander stories te lees …
https://fresh.inlinkz.com/party/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247