Hierdie plasing vorm deel van die volgende bloguitdaging:
“Die wêreld verander teen ‘n vinnige spoed, ons kleinkinders word met ‘n selfoon en tablet in die hande groot. Hulle draai ‘n kraan oop, kry lopende water, sit ‘n skakelaar aan en daar is elektrisiteit. Sit ‘n TV aan en kyk ‘n storie. En dink selfs oumas is, soos Steve Hofmeyr oor spoke sing, so bietjie dom as ons nie so vinnig met die tegnologie is nie. Maar, daar is baie wat hulle nie weet nie, want ons oumas was ook kinders. En ons kan stories vertel …
‘n Bundel kinderstories uit die pen van die Goue Vroue
Ma BB het reeds haar storie vertel – in breë trekke. En toe kom sy by my aan met die opdrag:
“Shilo, jy moet oor jouself skryf, dit is noodsaaklik vir jou ouma se nuwe projek.”
Ek word sommer omgeêllie as sy van my mensma as ouma praat. Dit is seker reg so, wat ma is ma BB se ma ook. Dus is sy seker my ouma? Maar nee, ma praat nie van ouma se kind as sy my optel en speel nie. Ma BB moet onthou, sy is maar drie jaar ouer as ekke. Ma is my ma ook.
So, ek moet meer oor myself vertel?
Hmmm, waar sal ek begin? Ek is nie ‘n man van baie woorde nie.
Ek is ‘n swart en silwer Miniatuur Schnauzer. Anders as ma BB, ek lyk na pa Sparkie.
My naam is Shilo van Arendsig. My naam beteken geskenk of vrede. Dit kom van die Hebreeuse woord Shiloh, wat vrede beteken. Dit pas by my, ek is die vriendelike reus in die gesin. Mensboeta spot dat ek so bietjie dom is, maar hy spot net. Hy is baie lief vir my.
Ek weet dat ek maklik die mooiste Miniatuur Schnauzer is wat ma al geteel het. Ek sien dit in ma se oë as sy my bewonder. Ek sien hoe sy vir my kyk as ek van Waggy Tails af kom. My digte baard is amper nooit deurmekaar nie, my snor hang sy hang. My ooghare is perfekte dikte, ek staan soos mens moet staan as jy wil pronk. Boudjies na agter gedruk, agterbene so effens uitgestrek. En ek weet ek is goed bedeeld waar dit noodsaaklik is. Sy sou my nogal kon gebruik vir teeldoeleindes. Ek sê maar net.
Self kyk ek gereeld in die glas van deure as ek verby stap. Ek is ‘n baie mooi Miniatuur Schnauzertjie! My swart hare blink in die son.
Aanvanklik was my lewe so bietjie moeiliker as my boetas s’n. Want ma wou nie my hare laat sny nie. Sy het oorweeg om met my te skou. Ek het baie, baie warm gekry.
Toe maak ek maar plan. Volg ma BB se voorbeeld by die rivier. Kry die dorings en knapsekêrels in my hare gekoek. En weet sy dat uitstel nie meer kan kom nie. Ek moet so mooi soos ma en Sobek en Sankie geskeer word. Skou Schnauzers word met die hand geskeer. Ek sou dit nie maak nie.
Sobek is my ouboet en kind van ‘n ander pa. Seth is, soos Sobek, my ouer boete. Hy bly by my mensboeta bly. Sankie is ons sus, so oud soos ekke, wat nou by ma se vriendin bly. Sy sal ook nog kans kry om haar storie te vertel.
Ma vertel altyd vir mense dat ek die mooiste van my werpsel was. Dan het sy skoon beangs gestaan en kyk hoe die mense hulle kinders kom kies, my boete en susse kom haal. Elkeen met sy eie idee van wat hy in ‘n Schnauzertjie soek. Krullerige hare, dié het ek nie gehad nie. Gaan lek aan hulle, dié doen ek nie, ek is gereserveerd as mens dit so kan noem. Ewenwel, toe ma weer sien, toe is ek en Sankie oor.
Sy moes Sankie hou, sy sal nog vertel waarom. En vir my wou sy hou.
Pa het botweg geweier, sy moes weer adverteer. Toe daag ‘n rowwe, groot man vol tattoes op, op sy motorfiets. Daar was geen manier waarop ma my vir hom sou gee om op sy motorfiets weg te nie, toe stuur sy hom na die teler wat my pa se teler is.
Ek dink ek ly aan die laastekindsindroom. Teen die tyd wat ek by ma gekom het, het sy reeds vir ma BB grootgemaak en toe ook vir Seth en Sobek, my broers van ‘n ander pa. Ek wil nie kla nie, maar ek dink ek het minder aandag gekry.
Ek is nie so baie soos ma BB opgetel nie, want sy wou ons nie die eerste 6 weke van haar afhanklik van maak nie. Sê nou iemand kies my? Dus is ek bang vir hoogtes.
As sy my optel, rek my oë, skop my bene styf en wil ek net af. Sy troos en paai en sê sy sal my die laat val nie, maar ek weet dat ek swaarder as die ander is. Ek is net dankbaar as sy my weer neersit.
Ek sal baie goed vir ma doen.
As sy dink ek moet op ‘n lylo saam met haar in die swembad wees, dan sit ek my sit dat sy my kan rondtrek. Dit is beter as swem.
Ek kan darem swem, ons het nie keuse gehad nie.
Soms laat sy my en ma BB en Sobek resies jaag. Dan is dit een kakefonie in die swembad. Sobek is dadelik kwaad, hy swem vinniger as ek. Dan swem hy, stop en kyk om, knor vir my en swem weer as hy sien ek kan hom inhaal. Ma staan dan net selfvoldaan op die kant van die swembad.
Baie trots op haar kroos, hulle kan nog swem.
Dan vat ek my kans en rol in die sand om kastig droog te word. Sy hou van ons baie skoon en mooi, laat dit vir haar ‘n les wees …
Maar veel eerder om haar te oortuig dat ek nie moet swem nie, kyk hoe vuil maak ek my.
Dit werk nie, want ma is ‘n plaaskind. Sy het ook in die sand en modder gespeel toe sy kinders was – soos daardie een advertensie praat.
Sy lag net en dan wil sy my bad.
Elke keer weet ek dit was my eie skuld. Ek was alweer dom. Dog ek trek haar ‘n streep, toe kry sy rede om my te bad.
EK HAAT BAD.
Tot ek in die bad is. En sy my vel so trek en vryf en dan staan ek stil. In ‘n sewende hemel.
En ek haat ‘n haardroër, dit is vir meisies.
Dan dink ma sy troos my en vertel my pa het ‘n haardroër gehad toe sy hom leer ken het. Hy het sy hare met rolborsel en als versorg. Sy het nie een gehad nie, sy het haar hare in die son laat droog word. En hy is nie ‘n metro man nie.
Ek kyk hom dan so en wonder … uhmmm, nie?
Ek sit nie stil vir droogblaas nie. Dit is een ding wat ek weier om te doen. Ma hou my soms vas dan sit ek so bietjie stil. Maar dan skop en krap ek om weg te kom. Ek sal nie byt nie, nie vir haar nie. Maar ek wys my tande, nou het ek genoeg gehad. En sy verstaan.
Ek wys my tande ook gereeld vir die wag op die plaas. Strom op hom af, hap so naby sy broek. Hy moet weet – ek pas my ma op.
In die winter kry ek myself vreeslik jammer as ek gebad word. Sit en bewe in die kamer, my tande wat op mekaar klap. As sy nader kom, gee ek pad. Dankie, maar nee dankie, daardie geluid maak my gek … geen haardroër nie.
Dit is my skuld dat ma ons laat skeer eerder as om dit self te doen. Ek kan nie help nie, ek kan nie daarvoor stil staan nie. Waggy Tails ken die truuks, daar staan ek mooi stil. Sy betaal baie, ek moet darem lyk asof ek geskeer en gekam is.
Ek hou van ma se aandag, ry saam quad by die rivier en ek het, toe hulle in Kazakhstan was, besluit dat ek soos Sobek met haar sal dans. Ek is stokkerig hoor, maar ek kon sien dat haar hart baie seer was toe Sobek sommer net weier om met haar te dans.
Min dae, dan bly ek en ma BB en Sobek weer by ma en pa. In Kuruman nogal. Sy vertel dit is vandaar nader rivier toe as van die stad af. Daarmee kan ek saamleef.
Ek en Sobek is groot pêlle. Ons baklei nie, Schnauzers baklei mos nie. Ons speel en volg ma en slaap en druk-stoei teen mekaar as sy die een vryf en nie die ander een nie. Ek is sterker gebou, wen die gedrukkery gereeld.
Ek kry haar altyd as sy wegkruip. Snoet op die vloer, ek volg haar spoor, Dan lag sy vir my, sy weet ek sal haar altyd kry. Soms moet sy so bietjie aanmoedig en roep as ons in die kamer gekyk het en haar nie gekry het nie. Wie kruip agter gordyne en deure weg? In kaste? Net my ma.
Ons is lief vir ons ma.
Ek is baie lief vir ma.
Ek kan nie so baie soos ma BB gesels nie, maar ek dink tog ek het myself nie te sleg voorgestel nie. Hoe het ek gedoen?
Ry 1: Ek en Sobek kruip weg, ons wil nie bad nie. Ek is die swart en silwer een, agter Sobek. Babafoto van my. Ry 2: Ons staan reg vir foto’s, ons sou eers saamgaan Kazahstan toe., ek sit agter, regs. En kyk net daardie baard van my. To die for, sê my boete.
Bly te kenne, ek is Shilo dié Miniatuur Schnauzer!
Kliek hier om die ander stories te lees https://fresh.inlinkz.com/party/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247
Ag dis te oulik. Jy skryf dat ek lekker kry. Lekker humor ook!
LikeLiked by 1 person
Dankie, San.
LikeLike
Baie mooi en pragtige honnes!! My een sus het ook ‘n Schnauzer, maar nie die miniatuur een nie. Joune lyk werklik soos ‘kinners’!
LikeLiked by 1 person
Ag dankie, Nikita, ek verlang so baie na hulle. Van Vrydag af is hulle weer my kinders. Ek kan nie wag nie.
LikeLiked by 1 person