Una het dit begin, en toe het Woordnoot met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …
Volg die verhaal HIER waar jy elkeen se skrywes sal vind:
Inlinkz skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/6640e82546594147b4ef78a3de36e871
***
Ek is mos nie een vir slaap of gesels in ‘n vliegtuig nie. Seker maar omdat manlief sy oorfone in sy ore prop, en dan ongelooflik ongeskik is as ek iets vra. Waarvoor ek my aanvanklik baie goed vererg het, ons het lang ure op vliegtuie deurgebring toe ons in Kazakhstan gebly het. En toe begin ek om op te hou om kwaad te wees en eerder die wonder van stilte te waardeer.
Niemand wat koffie of koeldrank of kos of wat ookal vra nie, dit word vir hulle aangedra. En ek hoef ook nie eens vir myself te kry nie, dit word vir my aangedra. Gelukkig bespreek hy die venstersitplek vir my – nie noodwendig om my ontwil nie want hy soek die sitplek langs die paadjie. Vir my is dit egter die beste sitplek op die vliegtuig. As ek eers begin uitstaar en foto’s van wolke en berge en riviere en die see neem, is ek so effens buffelagtig as ek tydens die neem van ‘n spesiale foto gesteur word. So pas ons by mekaar se nukke en grille aan.
Dus het die Goue Vroue seker gedink ek is ongeskik, praat en lag nie saam nie. Maar nee, ek is nie, ek is in my droomwêreld wanneer ons vlieg. Voel so naby my Skepper as ek hoog in die lug in die mooi stuk staal rondrits. En dan neem ek foto’s om my te herinner aan alles wat ek so uit die lug gesien het. Ek sien dat hulle so lekker gesels dat hulle nie agtergekom het dat ek nie saamgesels nie. En ek slaak ‘n sug van verligting.
So sien ek – toe ons besig is om te daal – dat ons oor ons ‘n pragtige strand daal, met ‘n digte bos waardeur ek graag sal wil gaan stap. Ek sien eers die kasteel en toe die grag daaromheen. En ‘n valbrug wat laat sak word sodat mense in en uit kan gaan. Een van die paadjies vanaf die brug het reguit strand toe gelei, so deur die digte bos kon ek dit sien. Daar was ook ‘n kanaal. En dit het my soos ‘n magneet getrek.
Toe ons land, is almal opgewonde uit die Learjet, reg om hulle kamers te gaan soek. Ek en Appeltjie klim soort van laaste af. Daar op die trappies maak ons die koeverte oop om ons sleutels uit te haal. Hare is blink en mooi. Myne is vreeslik verroes, wat net een ding kan beteken. ‘n Opgewonderheid pak my beet toe ek besef dat die sleutel my dalkies by die strand gaan vat.
Die ander is almal die trappe op en in die kasteel in, maar ek kon nie glo dat so ‘n verroeste sleutel ‘n kamer in die blink mooi kasteel kon oopsluit nie. Dus is ek om die kasteel, al langs die grag af na die valbrug wat ek uit die lug gesien het. Vir ‘n oomblik oorweeg ek dit om terug te gaan en te vertel waarheen ek gaan, maar almal babbel so, niemand sal my hoor nie. Elkeen is op haar eie missie om haar kamer te kry waar die sleutel sal pas.
Langs die valbrug is twee geboue, een aan elke kant van die grag.
Die een aan die linkerkant se slot is baie verroes, word dit ooit gebruik?
Ek haal my sleutel uit, druk dit in die slot en dit sukkel eers om in te gaan. Want iemand het ‘n stokkie in die gat gedruk. Toe ek die stokkie uitgesukkel het, sluit die sleutel die gebou oop.
Voor my is ‘n helderverligte vertrek wat as boothuis dien. Met ‘n jetski waarvan die sleutel in die sleutelgat is. ‘n Gespierde lyfwag groet my opgewek, wys die kaart wat ek moet gebruik om by die strand uit te kom.
Voor ek kan keer, spring hy op sy eie ysterperd en daar gaat hy. Met ‘n uitroep dat ek mos baie van Geografie en fotografie hou, altans so het die koning hom ingelig.
Die kaart wys hoe ek moet ry om by die strand uit te kom, ek moet ‘n hele paar kanale volg om daar te kom. En natuurlik rigting hou …
Daar is ook ‘n briefie met ‘n waarskuwing dat ek binne agt ure terug moet wees. As die valbrug eers gelig het, kan die jetski nie meer tot in die kamer ry nie. En dan mis ek die onthaal wat gereël is.
Wie sou dit wil mis?
Dit is iets wat ek al so lankal wou doen, maar ‘n jetski is amper duurder as ‘n boot. Daarom het ons eerder ‘n boot gekoop wat op een slag vir meer as een mens plesier kan gee
Die deur aan die grag se kant van die kamertjie gaan geruisloos oop toe ek die jetski se sleutel draai. En ek voel hoe ek en die jetski geruisloos in die water afsak. En toe gee ek dit so bietjie petrol om stadig in die grag af te vaar, tot waar die kaart wys waar ek regs moet swenk om in die kanaal na die see te vaar.
Op die jetski is ‘n horlosie wat die ure aftel voordat ek en dit weer in die kamertjie moet los om in die kasteel in te gaan.
Ek het net agt ure vandat ek die deur oopgesluit het tot ek dit weer agter my toesluit.
Toe ek eers in die kanaal is, is daar geen brieke nie. Ek trek die petrol oop en vlieg oor die water, al die pad see toe. En ek stop soveel kere soos wat ek wil langs die pad om foto’s te neem. Pragtige perde wat langs die kanaal wei. Interessant met die drie kleure – wit lywe, bruin bene en lang, gitswart sterte. Hoe het hulle dit so geteel gekry?
Maar dit is die eerste keer wat ek op een ry en die see is baie anders as rivierwater, dus ry ek stadiger en stadiger hoe nader ek aan die strand kom.
En daar op die strand wag die gespierde, bruigebrande lyfwag van die koning my op sy jetski in. Dié keer het hy ‘n klein rooi swembroekie aan, seker om by my eie swembroek te pas – die een wat op die jetski in ‘n bederfpakkie vir my gewag het. Met sonroom, handdoek en als.
Hy bedui hy gaan my die kuns van in die see speel te leer.
Dit was ‘n wonderlike tyd van speel en sonbrand en speel. Ons het ook in die feëtjiewoud gaan stap, met die reuk van verrottende blare en sade en hout om ons. Min goed ruik vir my so lekker soos dit. En natuurlik het hy vir my meer oor die bos en die diere en die voëls en die insekte vertel.
Te gou waarsku die jetski dat ek die pad terug moet vat. Voordat die deur toegaan en ek nie weer daar kan ingaan om die jetski te stoor nie. As dit gebeur, sou my sleutel ook nie werk nie en dan mag ek nie weer in die kasteel ingaan nie.
Daar is politieke onrus in die land en die valbrug en hekke word saans dig gesluit.
Ek wil nie buite gevang word nie. Die lyfwag het ook vir my gewaarsku dat ‘n mens nie alleen in die nag aan die verkeerde kant van die grag wil wees nie.
Ek was lekker moeg, maar dit was ‘n vol vakansie ingepak in agt ure.
Net ek en die lyfwag wat die koning gestuur het om my touwys te maak. En natuurlik die jetski.
Ek het seker gemaak dat ek nie laat terugkom nie, want daar is ‘n aand om te geniet in die balsaal. Daar is min goed wat my so omkrap soos mense wat laat is …
My dansmaat is spesiaal ingevoer … so sonder die Goue Vroue se medewete. Ek is nie sekrr of ons van die bal gaan vertel nie, dus moet jy maar wag en kyk … Onthou om op die skakel bo te klik om die res van die verhale te lees.
***
Appeltjie, jy het nou lank gewag, sal jy asseblief verder vertel?
En daar het jy nou ń heerlike avontuur so op jou eie. Presies wat jy graag wou gehad het! Jy lyk baie goed op daardie jetski, hoor!
LikeLiked by 2 people
Hmmm, dankie, Una, ek wens ek kon soos die poppie lyk, maar die hoop beskaam steeds nie. Die agt ure was heilsaam.
LikeLike
Maar ek dog dan dit is regtig jy? 😉
LikeLiked by 1 person
My alter ego is die sexy ene, nie ekke nie … So dit is soort van ekke …
LikeLiked by 1 person
👏🏻👏🏻😁
LikeLike
Sjoe! Dit klink heerlik. Wel gedaan vriendin! Nou kry ek so lus om te jetski! Sal net nie so mooi soos jy daarop lyk nie!
LikeLiked by 2 people
Jy sal so mooi lyk met jou donker hare, die plek het die lyf sommer ook aangepas om goed te lyk.
LikeLike
Jy jok. Ek kan sien jy is klein en fyn. Soveel van nederigheid…😀
LikeLiked by 1 person
Ai, San, kort is eerder die regte beskrywing. Maar dit is goed vir my hart, dankie.
LikeLike
💗💗💗
LikeLiked by 1 person
Kyk…julle is die oulikste lot. Waarheen gaan die ander heen???? Elke storie maak my meer opgewonde!
LikeLiked by 2 people
Dankie, Woordnoot, soos ek verstaan kom ons by die bal bymekaar, nadat elkeen 8 ure in haar eie kamer/plek was. Ek het ‘n kamer lank oorweeg, maar is mos steeds ingeperk omdat ek in ‘n relatoewe gevaarlike dorp woon. Bly in huis, maar moet ook in die huis bly. Dit was ‘n lekker ontvlugting.
LikeLike
Ja….niemand weet nog regtig wat gebeur as die 8 ure verby is nie😉😉
LikeLiked by 1 person
Slim gedoen. Ek hou baie daarvan.
LikeLiked by 1 person
Ek het dit geniet om te skryf …
LikeLike
Splinternuwe invalshoek,Christa.Goeie inisiatief. Ek brand om meer van jou ingevoerde metgesel by die bal te hoor.Jy het nie nog sy oorfone aan nie, het hy?
LikeLiked by 2 people
Haai Letty-Ann, baie dankie, ek was maar skrikkerig om die hoek te neem. Hmmm, jy sal kan raai wie die metgesel is – ‘n man wat kan dans. Ek verstaan die laaste vraag nie lekker nie?
LikeLiked by 1 person
Het jy nie gesê jou man het met oorfone op die vliegtuig gesit oppad kasteel toe nie?
LikeLiked by 1 person
O my word, ek het, Letty-Ann, maar ek het hom nie saamgevat nie.
LikeLike
Oeps!
LikeLiked by 1 person
Maar jy is behoorlik een vir avontuur, né! Dit moes wonderlik wees. Ek het dit baie geniet.
LikeLiked by 2 people
Dankie, Toortsie, ek waardeer.
LikeLiked by 1 person
Hiert jy! Dit lyk aeesome Christa en klink omtrent of jy lekker 8 ure gehad het, avontuur sit diep in jou
LikeLiked by 1 person
Hmmm, dankie, Virgo
LikeLike
Klink asof jy so aktief was die agt ure, dat ek wonder of jy sal kan wakker bly vir die bal. Die bal??? Ek slaap nog in die boomhuis!!! Lekker prettige skets Christa.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Trommeltjie, ek dink ook ek gaan onder die tafel slaap … Ek het iewers misgelees en misverstaan … daar sal seker nie ‘n bal wees nie, dus sal ek seker slaap terwyl almal dinkskrum …
LikeLike
Daar is verseker n bal, Christa! Ek hoop nie jy het te veel verbrand op die strand nie; want jy moet skitter by die bal! Wat n heerlike dag het jy gehad saam met die mooie jetski man! Ek raai jy bring hom saam bal toe!
LikeLiked by 1 person
Haai Seegogga, mens sal nooit weet wat julle met my gaan aanvang nie? Ek het beplan om Sobek saam te bring – my sans alte lekker.
LikeLike