Gepubliseer in Joernaal

‘n Verjaarsdagwens van die heks in ‘n sprokie

Gistermiddag sit ek so lekker met my dollatjie en gesels terwyl ons kyk hoe die seuns speel. Haar jongstemen seun se jongste en enigste. Toe pieng my horlosie dat daar ‘n boodskap is.

Normaalweg sal ek nie kyk en lees terwyl ek kuier nie. Maar, dit was my verjaarsdag en ek antwoord dan dadelik as ek ‘n boodskappie kry. Want iemand het aan my gedink en ‘n boodskappie gestuur. Is steeds aanlyn of naby sy of haar foon. En sal die antwoord dan ook dadelik kry.

Dit was so naby vieruur. En ons sou enige oomblik teruggaan huis toe om lekker saam met die kinders en een van my beste vriendinne en haar man te gaan uiteet. Al my naastes en my vriende en kennisse het reeds hulle wense gestuur of gebel en geluk gewens.

Die gevoel wat oor my gedaal het toe ek die kort boodskap lees, het my aan die slegte wens van ‘n heks in ‘n sprokie herinner.

Ek gaan nie verder uitbrei nie, ook nie die eerste sin herhaal nie. Want jy gaan nie die boodskap verstaan as ek nie ook agtergrond daarvoor gee nie. Nee, wat, ek wil eintlik net neerpen waarom die wens my aan die slegte heks van ‘n sprokie herinner het. Die tweede sin is die rede waarom ek dit neerpen:

Dit is my verjaarsdagwens vir jou!

Regtig?

Ek het nie daarop gereageer nie.

Maar, ek het skielik presies geweet hoe Die Slapende Skone moes gevoel het toe die heks – wat deel van haar groter familiekring was – haar wens uitgespreek het.

Die wens het wel ‘n wolkie oor my dag kom neersit.

Nie omdat ek dink dat haar wens bewaarheid gaan word nie.

Ook nie omdat ek dink dat sy die mag het om sulke wense waar te laat word nie.

Ek glimlag wel by die gedagte dat sy dink dat sy die mag het.

Ek het die boodskap vir drie mense gewys, my man, my dollatjie en my seun. Hulle was geskok en het raad gegee oor wat om te antwoord op so ‘n “verjaarsdagwens” of om liewer te vergeet en stil te bly. En die aand te geniet.

Ek het nie geantwoord nie.

Dit was ‘n spesiale aand saam met my twee kinders, my skoondogter en twee van my vier kinders om ‘n tafel. Die liefde vir my het uit almal se oë gestraal. En die wolkie het gelig en verdwyn.

Dit was toe nie die laaste wens vir die dag nie. My vriendin se verjaarsdagkaartjie was die laaste wens. Die boodskap was spesiaal, ‘n vers van my gunsteling Helen Steiner Rice. ‘n Boodskap van iemand wat my ken, my hart ken en my net die beste toewens.

En hierdie vers gaan ek koester.

***

Dankie, Susan. Jy weet nie van die tweede laaste wens nie. En ek gaan dit ook nie oorvertel nie.

Jy het die kaartjie dalk selfs gekoop voordat die tweede laaste wens uitgespreek is. Maar, ek het dit daarna gekry en gelees.

Jy ken my duidelik beter as die persoon wat die vorige wens uitgespreek het.

Ons is al 40 jaar lank vriendinne. Ek deel nie sommer my verjaarsdagete met ander mense nie. Ek wil altyd net my man en kinders by my hê. Maar, jy en jou man was al verskeie kere die enigste ander gaste aan my verjaarsdagtafel.

Daar is verskeie redes daarvoor.

Ons gun mekaar alles wat mooi is, wens mekaar net die beste toe. Ons is trots op mekaar se kinders se prestasies. En ons is vir mekaar se kinders en kleinkinders net so lief soos vir ons eie. En natuurlik voel dit elke keer of ons gister gesels het omdat ons mekaar so goed ken.

As ek een rede moet uitlig waarom jy my beste vriendin is, is dit omdat jy ‘n Christenvrou is wat soos een leef. Wie se voorbeeld ek kan volg.

Ek het nog nooit na jou gekyk en gedink:

As dit is hoe ‘n Christen is, wil ek liewer nie een wees nie …

‘n Gedagte wat gister wel by my opgekom het toe ek die tweede laaste boodskap gekry het.

Dankie vir jou laaste wens op my verjaarsdag …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.