Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Die spinnekoppe van Australië

Bushboy deel gister ‘n foto van ‘n spinnerak. En ek lewer so ewe kommentaar daarop dat ek – toe ek in Australië was – net foto’s van die webbe geneem het en nie gewag het om die spinnekoppe te sien nie.

Wel, my liewe vriend, toe ek gisteraand deur my foto’s blaai, sien ek dat ek wel gewag het om die spinnekoppe te sien. Selfs stilgestaan het om hulle af te neem. ‘n Hele rukkie lank.

Hierdie foto is in my suster se huis in Buderim geneem.

Toe ons wou ry, het hierdie massiewe spinnekop bokant die garage deur vir ons gesit en kyk. En nee, ek was nie so naby die spinnekop nie, die foto’s is deur die zoom-lens van my Pentax geneem … Die grootte van die spinnekop kan teen die raam van die garagedeur gemeet word. Hulle is massief!

Ek het baie ver weg gestaan. En ek het geweier om in die kar te klim voordat ek kon sien dat hy dood is.

My arme sus. Sy is net so bang soos ek vir spinnekoppe, maar ‘n plan moes sy maak as sy wil ry.

Tien minute later was hy wel op die grond, heel befoeterd omdat my sus hom van die muur afgekry het. Ek was nie tevrede voordat hy dood was nie, want ek wou nie by die huis kom en dan wag hy vir my bokant die kamerdeur nie …

Ek het ‘n sterk vermoede dat my sus die foto van die spinnekop op die grond moes neem. Want ek het te ver weggestaan om hom so van bo af af te neem. Gaan haar moet vra …

Ons is ook saam met hulle na Frazer eiland toe. Ek skat dit is nader aan waar jy bly, Bushboy?

Op Frazer eiland het ek ook spinnekoppe deur my zoomlens afgeneem. Terwyl ek op ‘n veilige afstand gestaan het. My oë was soos anennas wat webbe en spinnekoppe op ‘n myl kon herken. Waarom het Ausieland sulke massiewe spinnekoppe?

Gisteraand kyk ek so verras na die foto’s van spinnekoppe wat ek op die eiland afgeneem het. En … dit vertel sowaar ‘n storie.

Die eerste foto gee die idee dat dit ‘n baie groot spinnekop se web is en dat hy daar vir sy prooi wag.

Foto 2 is twee minute later geneem.

Hallo! Ek dog ek sou laat spaander as ek ‘n spinnekop sien!

Hierdie foto laat mens wonder, want ‘n klein spinnekop is nou naby aan die groot spinnekop. Wat kan impliseer dat die groot spinnekop vir die kleintjie wag. Of dat dit die klein spinnekop se web kan wees, veral omdat die groot spinnekop soort van bewegingloos hang.

Foto 3 laat my wonder wat verder gebeur het. Het die klein spinnekop die grote as prooi gevang? Want hy klim teen een van die agterpote op na die groot spinnekop toe.

Wel, dit is 11 jaar gelede geneem, dus kan ek nie die detail onthou nie. Ek sien net dat ek nie verdere foto’s geneem het nie.

Waarskynlik omdat ek gedink het dat die kleintjie die grote gaan opeet. Of andersom?

En lag maar, ek weet dit is die natuur se dinge. Maar ek kan nie staan en toekyk hoe een dier (spinnekop in hierdie geval) die ander een opeet nie.

Ek word sommer kwaad as video’s speel waarin ‘n bokkie vir ‘n leeu of jagluiperd weghardloop. En die persoon die hele vang en eet op kamera vasgelê het.

Dit is vir my verskriklik om die laaste oomblikke van ‘n diertjie te beleef. En as ek daar was, sou ek die toeter gedruk het om die jagter te laat vlug. Ek sou nie sit en kyk hoe dit gebeur nie.

Weet jy wat hier gebeur het? Het die klein spinnekoppie die grote opgeëet? Of is dit andersom? Eet spinnekoppe mekaar?

Ja, hulle doen tog. Daar is ‘n soort spinnekop waarvan die wyfie net wag dat sy klaar bevrug is voordat sy haar mannetjie opeet.

Of het die groot spinnekop sy geluk getoets deur oor die web van ‘n kleintjie te probeer stap. Dalk was hy ‘n boelie. Het hy vir die kleintjie gelag. Vir hom of haar vertel dat die ou webbetjie maar net so pieperig soos die klein spinnekoppie is?

Indien wel, is hy seker baie spyt omdat hy so grootpraterig was …

Indien die grote die kleintjie opgeëet het, het ek maar min simpatie met hom. Hy kon padgegee het, maar hy het eerder op die groot spinnekop gaan klim.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

15 gedagtes oor “Die spinnekoppe van Australië

  1. Ek erken ruiterlik dat ek baie bang is vir ‘n spinnekop! Ek sou nie eers in staat gewees het om enigsins foto’s te neem nie – jy’s baie braaf! Die Australiers leer seker maar om saam met die outjies te leef … hulle moet die goete eerder daar in die “Outback” injaag waar min of geen mense is nie sodat hulle daar op hulle eie kan klaarkom (en mekaar dan maar eet as dit moet 👀).

    Liked by 1 person

  2. spinnekoppe is mooi buite, nie binne nie. so het daar jare terug 2 soorte Orbweb spinnekoppe in my tuin nes gemaak. Ek het hulle afgeneem en gekoester en getreur toe hulle binne ‘n week van mekaar die aarde verlaat het. Dis werklik lieflike mooi spinnekoppe

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.