Kyk, daar is baie goed wat ek met my Schnauzers doen, hulle is mos my kinders. Maar jassies aantrek was nog nie deel daarvan nie, want hulle slaap sedert geboorte by ons in die huis.
Toe ons egter Kazakhstan toe is, het hulle by seun en skoondogter gebly. En daar moet hulle buite slaap, want die twee kinders van ons hou van slaap. Geen woewe gaan hulle snags wakker maak vir ‘n nommertjie nie.
So is skoondogter winkels toe en kry my drie jassies vir die winter. ‘n Pienke vir BB en twee van selfde kleur vir die manne, Bekka en Shilo. Wit, met kolletjies en daar is sowaar pienk kolletjies op hulle kleertjies, hulle pas by BB.
Gister sien ek BB verkies om teen die verwarmer in die sitkamer te slaap, dus neem ek aan die kinders kry snags koud in ons kamer. Die muurverwarmer is aan, maar ek en manlief slaap met lang, warm nagklere, twee kombers en een deken oor ons om warm te kry. Alles wat uitsteek, word so koud dat ons wakker word van die koue om ons toe te trek.
En so besluit ek dat die jassies, wat verlede naweek saam stad toe is dat hulle daarmee by seun en skoondogter weer buite kan slaap, aangetrek moet word.
Dit is egter nie so maklik nie …
Shilo staan soos gewoonlik nader, druk sy koppie deur die gat, staan geduldig dat ek twee pootjies deur die gate daarvoor druk.
Bekka sien hier kom moeilikheid, en sluip na waar BB by die verwarmer maak of sy dut. Hy gaan nie in daardie klere gesien nie, dankie, maar nee dankie. En BB voel niks, sy slaap kastig vas.
Natuurlik het dit nie gehelp nie, hulle is maar net aangetrek waar hulle is. So maklik soos dit.
En toe raak die manne laf.
Hulle hardloop luidrugtig deur toe, hulle wil uit.
Buite op die gras rol hulle soos perde op hulle ruggies, maar die saals bly sit. Dit skuur nie af nie.
Vanoggend kyk ek die drietjies so waar hulle op hulle matjie lê en slaap. Ek weet nie waarom nie, maar vandat ons in die stad was, slaap hulle nie meer op die sagte bedjie nie, maar op hulle sagte kombersie op ‘n ander bedjie.

Dalk moet ek dit was? Toe nie, dit is vol dorinkies van die grassade hier buite. Sal seker moet probeer afkam?
Iedergeval, lyk hulle nie heerlik snoesig nie?
En so wys my iPad vanoggend vir my oulike foto’s van die kinders, wat ek sommer hier gaan deel.
Hier sit bekka en BB op die stoep by die rivier, pas geskeer en mooi skoon. Ek skeer hulle so skoon as ons rivier toe gaan, want hulle tel daar dorings op – en hou nie van die uitkam gedeelte van die speelproses nie.

Amper soos ons was toe ons kinders was. Ons het lekker in die hooi gespeel wanneer my pa gedors het. Om die aand huilend in die bad te sit as die warm water en seep die skrapies vind wat ons self nie eens kon sien nie …
As BB en Bekka so sit, is dit effens moeilik om hulle te onderskei. Dan kyk mens maar waar dit saak maak – om te sien wie die mannetjie en wie die vroutjie is. Anders kan BB uitgeken word aan haar welige bos ooghare en baard – arme Bekka voel seker nie te gelukkig daarmee dat sy ma se baard en ooghare beter as syne lyk nie?
Op die tweede foto speel BB met Bekka.

Sy geniet dit om met hulle te speel, rol hulle om en dan rol hulle haar om. As dit te rof raak, knor een verontwaardig. Maar byt word daar nooit gebyt of baklei nie. En dit is een van die hoofredes waarom Miniatuur Schnauzers baie spesiale woefkinders is.
Hulle lyk so snoesig en warm in hulle kleertjies!
LikeLiked by 1 person
Hulle doen – en hou nie daarvan nie. Dankie.
LikeLike
😃
LikeLike
Dit lyk na die wonderlikste troeteldiere. Pragtige jassies!
LikeLiked by 1 person
San, ek is so lief vir hulle.
LikeLike