My absolute gunstelingstrand is die strand van die kusdorpie Strand., naby Somerset-Wes. Ek dink Strand is sommer terselfdertyd Somerset-Wes se strandgebied. Ek kan ure op die strand loop, foto’s neem en ek raak nooit vir die plek moeg nie. Dit lyk vir my elke keer anders.
In September 2018 moes ek ‘n referaat in Stellenbosch lewer, by Maties. En toe slaap ons – soos altyd – in die Strand. Die keer by die Pavillion Hotel. Wat ‘n magiese plek om oor te slaap, vir ‘n hele twee dae lank.
Hierdie foto is met sonsondergang geneem om 18:16 op 19 September 2018.
As die gehalte nie so mooi is nie, vra ek om verskoning. Ek laai in die laaste tyd eerder ‘n skermskoot van my foto as die regte foto op. Dit gebruik soveel minder spasie op my WordPress blog.
As jy die Strand ken, sal jy weet dat die foto in die rigting van Muizenberg en Kaapstad geneem is en nie in die rigting van Gordonsbaai nie.
Ek het soete herinneringe aan Muizenberg.
My pa was die eienaar van ‘n slaghuis en ons het menig male as kind so uitgesien na ‘n vakansie, net om te hoor dat ons om een of ander rede nie kon gaan nie. Die slaghuis moes aandag kry. Maar – die een keer het my pa huis toe gekom, gesê ons moet pak en daar is ons weg na die Kaap.
Ek onthou grepies uit die reis af Kaap toe. My pa het ‘n Citroen gehad en mooi gery totdat iemand by hom verby wou kom. Dan het hy weggetrap en vreeslik lekker gekry omdat sy kar die ander kar kon wegry. Ons was sommer vies vir hom as hy dit doen, veral in die bergagtige gedeeltes. Maar dit was my pa se plesier in die lewe. Sy motor. En dit is steeds sy plesier – om mooi wiele te ry.
Ek onthou spesifiek dat ons in die see wou swem, maar die water was baie, baie koud. Toe trek my pa die Citroen so op die strand en neem hy ‘n foto van die ses vrouens in sy lewe – of liewer, van my ma en sy vyf dogters waarop hy vreeslik trots is. Om te lyk asof die motor uit die see uitkom.

Siestog, ek (heel regs) was nogal baie erg oor daardie baaibroek van my. Die kol was darem nie in my hare nie, die foto het met tyd so verweer. Ek is agt jaar ouer as die jongste sus, en sy is nog piepklein op die foto. Dus was ek seker nie ouer as 10 nie.
Soete herinneringe aan ‘n tydperk in my lewe toe mens die sorgeloosheid van kindwees nog geniet het, maar nie noodwendig besef het hoe lekker dit is as pa en ma die besluite neem en jy val net in nie.
En ek kan nie help nie, Valsbaai is maklik een van die dele van die land waarheen ek gereeld terugkeer. Ek en manlief geniet hierdie deel van die Kaap baie.
Goeie herinneringe, Christa.
LikeLiked by 1 person
Altyd, ons gaan nooit Kaapstad toe sonder om daar ‘n draai te maak nie
LikeLike
Dis soos ek voel oor Waenhuiskrans
LikeLiked by 1 person
Ek kan my voorstel, Struisbaai sou dit ook vir my kon doen. Maar, die see is stil en die strand myle lank by die Strand. Daarom kan ek my aan die plek verkyk.
LikeLike
Vertel bietjie van Waenhuiskrans. As ek reg is, is dit mos links van jou as jy Struisbaai inry. Ons het nie daardie kant toe gery nie, ons het na die Kaap Algulhas toe gegaan.
LikeLike
Ek sal iets doen op my blog
LikeLiked by 1 person
Ek sien uit.
LikeLike
Ek verlang nou na die see……
LikeLiked by 2 people
Ekke ook
LikeLike
Pragtige herinneringe Christa!
LikeLiked by 1 person