Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings

‘n Stoel om waterverwoesting gade te slaan …

Ek sien vandag twee foto-uitdagings waaraan ek met een foto kan deelneem. Hierdie ene …

Die eerste uitdaging is Zingfumama se Pull Up A Seat uitdaging nommer 21 van 2021. Sy vra dat mens ‘n foto plaas van ‘n plek waar jy kan sit of graag wil sit. Wel, die foto van die stoel is geneem nadat ons rivierhuis einde Januarie 2010 oorstroom het. Daar was geen plek om te sit nie, ook nie op die stoel nie. Want die stoel was sopnat en het aardig na vis en goed geruik. Nadat die stoel gewas is, kon ons weer tot vandag toe daarop sit.

Die foto pas ook by Jez Braithewaite se uitdaging waarin foto’s gedeel moet word van water en water wat orals is. Daar word wel die week gevra dat spieëlbeelde gedeel moet word, maar die water kan ook volgens die uitdaging in enige staat wees. Hierdie foto wys die slik wat agtergelaat is nadat die water wel oral was, selfs oor die sitplekke van die stoele in die huis!

Tuinstoel staar na verwoesting

***

Agtergrond: Die bestuur van die Vaaldam in Suid-Afrika het te lank gewag om die sluise oop te maak en toe maak hulle te veel sluise gelyk oop en oorstroom ons almal. Die water moet 9 meter vertikaal styg om in ons huis in te gaan. En gedurende hierdie tydperk het die rivier wat 6 meter onder ons wal vloei, dit reg gekry.

Die oorstroming het gebeur terwyl ons einde Januarie 2010 in Australië om by my jongste suster gekuier het omdat sy haar daar gaan vestig het. Net ek en manlief. Op pad terug, het ons paar dae in Singapore oorgestaan om hierdie stad wat terselfdertyd ‘n hele land is, te beleef.

Die bure het seun laat weet dat die rivier gevaarlik styg. En hy het gaan kyk en laat weet dat die water ses meter gestyg het en op ons gras se punt was. Nie in ons of sy wildste drome het ons gedink dat die water die volgende paar dae nog drie meter verder sou styg om in ons huis in te gaan nie.

Twee dae later is seun terug om te gaan kyk en het hy hierdie skokkende foto’s met ons in Singapore gedeel. Die water was oral!

Die onderste deel naaste aan jou is die garage, waarin die boot en die twee quads en ander gereedskap gestaan het. Vasgedruk teen die dak van die garag en niks kon daaraan gedoen word nie. Die water moes sak voordat deure oopgemaak sou kon word, dit het uitgeswel.

Die vensters van die garage was hoog, maar die water het by die sydeur deurgesypel. En ook by die garage se deure. By die huis self, is die vensters heelwat laer en het die water deur die toe vensters en deure die huis binnegegaan. Om te kyk wat daar alles is. En dit met ‘n laag slik te bedek.

‘n Enkele ruitjie van die voordeur is uitgedruk toe die water begin sak het en weer moes uit. Hier kan mens aan die vuil ruite sien hoe hoog die water deur die huis gegaan het.

Om sy slik vir ons agter te laat.

‘n Baie dik laag daarvan.

Ek was so ontsteld, het die swaar blokke slik van die gras afgehaal. Daardie gras wat ek met moeite geplant het, die meeste daarvan in saadvorm eerder as blokke wat moes toegroei. Dit was net te duur om te vervang. Ander bure het dit so gelos en die volgende jaar mooi gras gehad – lekker kos vir die gras.

Outsurance het uitbetaal, maar dit was nie naastenby genoeg om ons skade te dek nie. Tog dink ons nie met bitterheid aan hierdie tydperk nie, eerder verwondering. Die water het sentimeters per dag in die huis ingegaan en weer uit. Dit is soveel anders as wat dit sou wees as die damwal sou bars en ‘n vinnige golf water die rivier se spoed sou versnel.

In Januarie 2011 het dit weer gebeur, hulle het weer te lank gewag en ons het weer oorstroom, maar die keer het ons betyds uit die huis getrek, ons het die slik op die gras gelos. En dit het mooi grgroei. Die laag slik was minderr as in 2010, maar dit was steeds een modderige besigheid.

Ek neem aan die foto van die stoel pas baie mooi by beide foto-uitdagings in … ‘n verlate stoel langs ‘n rivier, vuil en vol slik nadat water regtig oral was!

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “‘n Stoel om waterverwoesting gade te slaan …

    1. Seegogga, mens leef in oorleweingsrat wanneer dit gebeur, doen snaakse goed, gee aandag aan snaakse goed en oorleef. En as jy weer sien, het jy die skade vergeet en die gebeurtenis onthou. As iets wat eendag vir ander vertel kan word. Iets soos ‘n boodskap van hoop? Dat daar goed uit elke sleg kan kom?

      Like

    1. Dit was inderdaad baie werk, Anne, maar dit het mens ook so aan die wonder van die skepping herinner. Die plante en gras het water gekry en aangegaan asof daar nooit ‘n vloed was nie. Ons het bietjie langer gevat …

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.