Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Reisjoernaal

10 000 km uitmekaar – op twee pieke van die aarde

Vanoggend herinner my iPad my aan ‘n foto, wat verdere herinneringe meebring. ‘n Vorige keer ‘n soortgelyke foto geneem – op ‘n ander piek van die aarde, ander berg/reeks, ander halfrond, ander klimaat, ander land, ander lewe.

Hierdie foto is op 29 September 2020 in Almaty, Kazakhstan, geneem. Enkele dae voordat ons permanent huis toe sou kom. Op die hoogste punt waarheen die kabelkarretjie van Shymbulak ski-oord mens neem.

Bo-op die een spits van die Zailiyskiy Alataubergreeks by Almaty

Ek het al oor hierdie mooi ski-oord vertel. Shymbulak. Wêreldgehalte ski-oord. En beslis een van die bekostigbaarstes. Agter my is ‘n nog hoër spits, waaroor die Bogdanovich gletser (kan nie op foto sien nie) haarself bykans permanent drapeer. Ek is hier ‘n hele 3 200 meter bo seespieël.

Daar is egter pieke wat meer as 7 000 m hoog is: Die Pamir, Tien-shan en Altai bergreeks rys in die ooste van Kaz en sluit pieke soos Jengish Chokusu (7 349 m), Khan Tengri – wat ook as lord of the spirits bekend is – (7010 m), Peak Lenin (7134 m) and Talgar Peak (5017 m) in. Talgar piek is iewers skuins na regs agter my. Suid-Afrika se hoogste piek, naamlik Mafadi, is maar 3 450 meter hoog. Kazakstan se hoogtes wissel van 400 tot 7 010 m, terwyl Suid-Afrika s’n tussen 0 en 3 450 meter wissel.

Ek staan dus hier bykans so hoog soos wat ek sou staan as ek op Suid-Afrika se hoogste piek kon kom. Lyk nie hoog nie, maar agter my is ‘n diep gletser, kyk hoe klein lyk die gebou daaronder – soos speelgoed.

Ek sien dat mense gewaarsku word dat hulle akute bergsiekte kan ontwikkel as jy vinnig meer as 2 400 meter styg. Dit kan help om te verklaar waarom ek baie goor gevoel het. Ek het hoofpyn gehad, duiselig gevoel, was moeg en het nie vir kos kans gesien nie.

En ek was toe so bang dat ek die virus opgetel het en dat ons nie huis toe sal kan kom nie. Nie geweet dit is tekens van te vinnig die berg op nie. Ek was bang dat ons in Kazakhstan in ‘n plek sou moes isoleer. My glimlag vertel die teenoorgestelde – want – ons was op pad huis toe. Was lank alleen en daar was geen manier waarop iemand anders ons kon siek maak nie. Nou weet ek waarom ek so gevoel het. Ek sien mense word teen akute bergsiekte gewaarsku as hulle na Kazakhstan gaan.

Hierdie foto bring soveel herinneringe mee. Dit was die eerste keer sedert Junie 2020 toe ons na Almaty verhuis het, wat ons weer na die ski-oord kon gaan. Die eerste keer sedert Maart 2020 wat die ski-oord oopgemaak het. As gevolg van ‘n pandemie.

Ons het verskeie kere probeer toe plekke in Almaty begin oopmaak het, maar polisie het die pad geblok en ons moes omdraai. En die dag was dit oop, ons was in die wolke – soos die foto ook wys …

Dit was enkele dae voordat ons huiswaarts sou begin vlieg. En ins wou die plek nog een keer gaan groet.

Toe het ons nog nie geweet dat ons wel op 3 Oktober veilig na Suid-Afrika sal kan terugkom nie. Die internasionale grense is net daarna oopgemaak. En ons kon sonder om in kampe geprop te word, huis toe kom. Geen isolasie deur die staat nie – ons kon na ons eie huis terugkeer. Het wel van kinders en familie en ander in ons eie huis gebly … Al het beide van ons negatief vir die virus getoets, en ook geen teenliggaampies gehad nie.

Die tweede foto is in September 2018 op Tafelberg geneem. En dit is die foto waaraan ek gedink het toe my iPad die vorige een gewys het. Ek en manlief op een van die hoogste punte van Tafelberg, Suid-Afrika.

En en manlief op Tafelberg, Suid-Afrika

Hierdie foto bring ook soet-suur herinneringe. Ons het die naweek by die Paviljoen vakansie-oord in die Strand gebly. Omdat ek ‘n referaat by die kongres van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Natuurwetenskap en Tegnologie in Stellenbosch gelewer het. Ek sien ek het dit nog nie eens by my CV gevoeg nie. Dit was een van die stresvolste referate omdat ek soveel van die professors in die gehoor self geken het. En die eerste keer voor ‘n Afrikaanse gehoor. Een wat geen emosies wys terwyl jy praat nie. Weet jy hoe stresvol dit is?

Ek het daarna nie weer ‘n toespraak gelewer nie. Ek kry werklik geen geen te vind waarom ek met mense moet praat nie, ek bedoel daarmee van ‘n verhoog af. Tot die week, toe ek myself sowaar as aanbieder van ‘n webinaar van die SAOU beskikbaar gestel het …

Ons het die keer besluit om die uitstappie te geniet. Ek betaal mos self al my uitgawes wanneer ek ‘n referaat lewer. Dus het ons die Kaap weer soos altyd gaan verken – as ons vir vakansie darheen gaan. Ons het eerder as om na ander referate buite my slot te luister, toeriste gespeel. So is na die akwarium, op die berg en ook op die trem na verskeie wynplase. Dit was ‘n koue, reënerige dag.

Bo-op Tafelberg het twee Sjinese tannies my voorgekeer, foon in die hand geprop en beduie hulle twee soek ‘n foto van hulle. En woeps is hulle op die rotse, poseer hulle en ons neem die foto. Net so, sonder woorde wat verstaan kan word.

Regtig. Sonder woorde kon ons mekaar verstaan. En toe wys hulle ons twee moet op, poseer soos hulle en voila – daar het ek een van die mooiste foto’s van my en manlief op die hoogtepunt in Suid-Afrika. As jy weet hy het hoogtevrees, sal jy die angstigheid in sy poseer herken …

Verskille tussen die foto’s

Tafelberg se hoogste punt is maar 1 086 m bo seespieël. Die plek waar die foto op Shymulak in die Altau-berg geneem is, is drie keer hoër, naamlik 3 200 meter bo seespieël.

Die eerste foto is in die herfs in Kazakhstan geneem, die tweede een in die lente in Suid-Afrika. Al is beide in September geneem – die een in die noordelike halfrond en die ander een in die suidelike halfrond, daarom die seisoenverskil.

Ek en manlief het toe die Tafelberg foto geneem is, nie vir een oomblik gedink dat ons twee jaar later langs die land van die twee Sjinese toeriste sou gaan woon nie …. in een van die koudste stede in die wêreld. Ust’-Kamenogorsk of Öskemen, wat ons liefderik na Ust verkort het – waar die kwik maklik in die winter na -38 grade Celsius daal.

Ek sien dat die foto op die Altau-bergreeks lyk asof dit nie hoog is nie, teenoor die Tafelberg een. Dit is – soos ek genoem het – baie hoog … die lug is dun so hoog in die berge, mens sukkel so effens om asem te haal.

Ooreenkomste

Beide foto’s is in September geneem. Die Tafelbergfoto is in September 2018 geneem, lente in Suid-Afrika. Die Shymbulak foto is twee jaar later in Kazakhstan geneem – herfs in Kazakhstan. Interessant genoeg moes ek vir beide warm aantrek, want die Kaapse reënweer maak lente heelwat kouer as in Gauteng. Herfs in Kazakhstan is baie koud, vergelyk met ons winter. Behalwe dat dit sneeu sodra dit effens kouer word, soos die bietjie sneeu op die berg wys.

In beide gevalle styg mens 1 000 meter boontoe om by die hoogtepunt te kom. Almaty lê 2 200 mete bo seespieël, en Kaapstad is gelyk met seespieël. Maar, as jy van die omligggende plattelandse area rondom Almaty reis, kan jy baie naby aan 3 000 meter styg. Want daar is dele om Almaty wat laer as seespieël is. En dus oorstroom sou wees as daar ‘n oseaan was …

***

Beide foto’s bring bittersoet herinneringe saam, maar die soet oorheers die bitter. Die Tafelberg een herinner my aan my besluit om nie weer toesprake te lewer nie, die stres is nie die moeite werd nie. Die Kazakhstan ene herinner my aan ‘n pandemie wat my van my kinders weggehou het. Vir maande lank. Dit is geneem net voordat ons vir die eerste keer in sewe maande huis toe kon kom. Om nie sommer weer so iets te doen nie.

Ons was ongelooflik bevoorreg om dit te kon beleef. Om vriendskappe met Kazakhs en Russe te bou in ‘n land waar ons nie die taal van die mense kon praat nie. Bo-oor taalgrense heen. Soos ook op Tafelberg – waar ons mekaar kon verstaan, mekaar kon help.

En, met die Here se genade, kon ons op ons ouer dag op die hoogtepunte van twee bekende berge op die aarde staan. Kon ons vreemde ervaringe beleef. Wonderlike herinneringe bou.

Hoe bevoorreg is dit nie?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

2 gedagtes oor “10 000 km uitmekaar – op twee pieke van die aarde

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.