Gepubliseer in Joernaal

Schnauzers en die nuwe Rogz-harnasse

Ons ry die afgelope tyd baie. Elke tweede naweek rivier toe want manlief glo daar is baie werk wat moet klaar voor hy doodgaan. Sy eie woorde, nie myne nie.

Vir my is die rivier ‘n plek van rus, iets wat ek uitbaklei het toe seun nog op skool was. Ons het die rivierplekkie gekoop nadat dollatjie uit die huis is, dus was sy baie minder daar as seun. Ek en seun wou naweke rus na ‘n woeste week by die skool. Iedergeval, dit neem so vier ure om daar te kom.

En dan ry ons elke einde van die maand huis toe – 7 ure op die pad. Om by die kinders te kan kuier, en natuurlik die kleinkinders en so bietjie in ons eie huis te slaap, dit voel hemels, al is dit tans karig gemeubileerd. Ons het ons goed mos gaan stoor toe ons oorsee gaan bly het – en die huis is in die mark, dus is ons nie lus om sommer net gou weer in te trek nie.

Die woefkinders het harnasse wat reflekteer, maar ek gaan stap nie eintlik met hulle nie. Ek weet nie of ander mense se Schnauzers ook so is nie, maar myne is luidrugtig in die straat.

Sodra ons uitstap, gil ene vir die woewe oorkant die straat:

HEI MAN, EK KAN NOU BETER SIEN EN HOOR, WAT MAAK JY ELKE DAG?

En die ander eggo!

Dan is die bure se woefkinders glad nie vriendelik nie. Wys hulle tande en dreig met moord en doodslag.

Sodat myne vir hulle gil:

MOENIE VIR MY KWAAD WEES NIE, WAAR IS JOU MA?

Dit is die laaste strooi wat die bure se woefkinders gek maak. Dan hol op en af teen die heining en myne loop neus in die lug en skree vir hulle.

Hulle gaan glad nie soontoe nie, sorg net vir die kababel op straat. Ek verkies dat ander mense se honde nie so bewus van my in die straat raak nie.

Dalk is ek verkeerd, dalk is my woewe glad nie so oulik met die honde nie, alk waarsku hulle?

DIT IS ONS STRAAT, ONS HUIS, ONS PLEK. WAAG DIT OM NABY ONS TE KOM!

Elke keer wat ons ‘n ander groep woekinders raakloop.

Ek raas hoor, maar hulle bly luidrugtig. Totdat hulle te moeg is om ander raak te sien … maar dan is ek ook te moeg om verder te wil stap …

Dus stap ek min met hulle, dan skree hulle net vir my by die hek tot ek om die hoek is – en as ek weer om die hoek aangestap kom.

Die bandjies is so 9 jaar oud skat ek. Dit het begin afgaan, dus het ek besluit om nuwes te koop. En so met die soek saam, het ek op Rogz se harnasse afgekom.

Ons sukkel om die kinders mooi in die kar te tel. Die harnasse het ‘n handsvatsel bo-op sodat jy die woefkinders maklik op en af kan laai – ampers soos ‘n tas. Volgens die advertensies.

Maar hulle kan ook langs jou sit, met jou hand in die handvatsels om ‘n mate van beheer uit te oefen.

Ek moes dit deur Kuruman Dierekliniek bestel, want hulle mag nie direk aan die publiek verkoop nie. Besonder duur harnasse, die vier met leibande het my R2 900.00 gekos. Dit was ‘n skok, ek het dit by ‘n aanlynwinkel vir R470 gesien, sonder die leibande. Die medium harnasse kos meer … Dit blyk egter baie goeie gehalte te wees, hulle gaan lank hou.

Hulle het ses kleure, ek wou nie swart of grys vat nie.

Aangesien BB se vorige harnas pienk was, kry sy pienk. Bekka s’n was blou en hy kry blou. Shilo het later bygekom, hy het ‘n lelike bandjie gehad, ook blou. Of was dit nou rooi? Ek is nie seker nie. Ons het dit by seun vergeet, dus moes ek Nevan se harnas vir hom kleiner maak. Siestog, hy het soos weeskind gelyk. Dit was ‘n hele proses, maar as mens iets wil doen, kan jy. Dus het ek pleister gebruik om die harnas kleiner te maak – kyk regs op die harnas van Shilo, die donkerder kind.

Hierdie harnasse maak dit baie moeilik om hulle op te tel.

Dit is juis die vergete harnas en die ouderdom van die harnasse wat my laat besluit het om nuwes te koop. En as mens eers na pryse en gehalte kyk, het die Rogz harnasse sin gemaak, dit gaan waarskynlik baie langer hou as die 8 jaar wat die voriges – ook Rogz – gehou het. Dus het ek oë toegeknyp en die harnasse bestel.

En ek wag en wag en wag.

Want sien, dit het nie soos ander pakkies wat aanlyn bestel word nie, dit het nie ‘n nommer waarmee ek die vordering van die pakkie kan naspeur nie.

En toe skakel die kliniek my, die bandjies en harnasse is daar. Ek is opgewonde soontoe om dit te gaan haal – die kleure is nog mooier as op die webblad.

Opgewonde is ek huis toe, maak een solank pasgereed vir Shilo, die rooie. Ek wou die groen vir hom gee, maar seun se Seth gaan die groene kry. Shilo lyk so oulik in die rooi en pas beter by die ander twee.

Shilo sit rustig terwyl ek verstel. En toe kan ek nie veel meer doen nie, ons was eintlik op pad om te gaan uiteet.

Die volgende dag is ek gereed om harnasse te pas en verstel.

BB het gesien hier kom moeilikheid, en weg is sy. Sy sluip mos so weg, asof ek nie kan sien nie. Antwoord nie as ek roep nie, BB raak selektief doof as sy nie met my saamstem nie. Horende doof en sienende blind. Ek ontdek haar later onder my lessenaar. Weggekruip in die diepste donkerte, ek moes haar soek. Met die harnas aan.

Bekka dink nog dit is iets om te eet, dus staan en bewe hy by my terwyl ek aan die bandjies stel dat dit vir Shilo mooi moet pas. En toe is dit sy beurt.

En Shilo? Siestog, die man weet mos wat vir hom wag, dus staan hy by my. Hy is mos my self-aangestelde lyfwag.

Toe ek die harnas oor sy kop sit om te pas, sit hy maar doodstil. Dat die vrou nou net doen wat sy beplan om te doen, hy weet hy het dan nie keuse nie.

Daarna haak ek elkeen se leiband vas dat ons buite gaan oefen. Want sien, ons meneer Shilo weier volstrek om te stap as daar ‘n leiband aan sy harnas is.

Van kleinsaf.

Hy is die swaarste van my woefkinders en is ook nie soos Bekka en BB oral rondgedra nie. Dus is hy stokstyf, maak homself so swaar dat my rug dit voel as ek hom dra. Sit ek neer, weier hy weer om te stap – as die leiband aan is. Die harnas verdra hy, leiband weier hy volstrek.

Dus stap ons eers sonder die bandjies, dat hulle aan die harnasse gewoond kan raak. Dit is heelwat swaarder as die ander harnasse.

BB staan gedwee en wag, toe stap ons uit.

Bekka verander in ‘n beneukte resiesperd wat die saal van sy rug af wil kry. Hy bokspring en byt af na die harnas wat onder sy nekkie oor sy bors is. Rol op die gras, die ene lewendigheid. Ek hoop nie perde maak ook so nie.

Ek staan so en lag dat ek so amper vergeet dat ons eintlik moet stap.

Maar, laat ek nou eers klaar vertel, want ek het raad nodig.

Net so mooi stil soos Shilo staan om aan te trek, net so vervlaks stil bly hy staan as hy aan ‘n leiband moet stap!

Ons het die volgende dag probeer met leibande stap.

BB en Bekka stap alte mooi, al koek hulle hulle leibande soos wat hulle heen en weer stap.

Shilo nie!

Hy steek sy agterpote na die kante toe uit soos ‘n ploeg en dan kan ek maar trek, hy sit waar hy sit. Ons twee sal die gras kan ploeg!

Of hy gaan lê op sy sy as hy sien ek wen die saak.

Ek trek so bietjie oor die vloer, maar sal dit nie buite doen nie, die man sal seerkry. Hy lê soos ‘n dooie dier.

So stap ek met BB en Bekka met die leibande buite, haal Shilo, die steekse donkie s’n af en loop vir hom weg. Hy bly al die pad by my.

As ek stop en die leiband aansit, dan sit hy.

Haal ek die leiband af, stap hy al om die huis saam met my.

Rondte vir rondte, met die ander twee aan die leibande.

Sit ek dit aan, steek hy weer vas. Net daar.

En kyk vir my met ‘n uitdrukking wat vertel dat hy nie is baie jammer om van my probleem te hoor, maar hy stap nie as die leiband aan is nie!

Ons het nog baie om te leer, so lyk dit my.

Enige raad?

Ek oorweeg ‘n pakkie biltong in my hand …

Maar ek dink ek gaan net vir Bekka daarmee kan uitoorlê.

***

Ek weet nie of ek so baie van die harnasse hou nie. Dit is wel makliker om hulle op te tel as daarsonder, maar dit is regtig ‘n kontrêpsie. ‘n Baie mooi een beslis. Hulle lyk egter baie, baie mooi met die nuwe bykomstighede – ons gaan die naweek toets.

BB is baie vies vir my, Bekka en Shilo aanvaar maar gelate

***

Ek dink nie ek het al vertel nie. BB het die mooiste halsbande gehad toe sy ‘n baba was, ek kon nie verby die goed loop sonder om te koop nie. Pienk met krale, pienk met steentjies, leer ensomeer. Bekka en Seth, seun se woefkind ook.

Een oggend kom ek in die kombuis en Bekka en Seth is in ‘n doodstryd gewikkel, hulle bandjies het inmekaar gehaak. Hulle verwurg mekaar. Hoe meer die een draai en swaai, hoe meer draai die ander een vas. So vas dat ek nie my vingers daar in kon kry nie.

Toe gil ek en seun kom afgestorm om te help. Hy het lank in die huis gebly, tot hy getrou het. Hy moes die een bandjie lossny, ek weet nie hoe hy dit reggekry het nie. Want die twee woefkinders was verby luister.

Daarna is die halsbande weggegee en het elkeen van hulle sy eie harnas. Wat nie aan nekke druk nie en ook nie ‘n gevaar kan wees as hulle verstrengel raak nie.

Ek is seker die Here het ons daardie dag uitgehelp.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Schnauzers en die nuwe Rogz-harnasse

  1. So het elkeen hul eie idees en maniere. Ek moes trompie se boude op lig om hom in fie kar te klim en selfs op my skoot. Hy het lank gevat voordat hy besef het dat hy eintlik self kan inspring. Ek moet hom nog steeds saans mooi vra en beduie om op die bed te spring. Hy bly maar skrikkerig. Shilo is omtrent soos my Megan kind wat geweier het om aan band te loop. Lank gesukkel om haar gewoond te maak. Sy was mos n weggooi hind gewees. Haar baas het haar baie afgeknou.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap na scrapydo2.wordpress.com Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.