Hierdie storie is so effens onder die belt, blaai dus asseblief verby as dit jou gaan pla. Dit is vir my baie snaaks en ek wil dit eendag kom lees en onthou …
Ons het paasnaweek varkribbetjie gebraai, maar dit het nie so lekker uitgekom nie. Dus het ons min daarvan geëet en het ek die res van die bene afgesny en in die yskas gesit vir die woefkinders. Maandag toe ek vir die woewe daarvan wou gee, keer skoondogter:
“Ma, ons gaan ver ry, moenie vir Seth gee nie.”
En so kry myne ook nie, dit sal mos nie mooi wees nie. Die vleisies wag geduldig in die yskas en is die naweek saam rivier toe. Sodat ek my woefkinders Saterdag kan bederf.
Nou moet ek net eers verduidelik.
Hulle kry nie menskos nie, hulle eet kos vir woefkinders.
Aanvanklik het hulle Montego Karoo gekry, maar sedert BB se nierstene uitgehaal moes word, kry hulle spesiale kos, Royal Canin Urinary SO wat my ‘n arm en ses bene kos. R1500-00 per sak, dus soveel per maand, ek wil ook sommer uitvind of dit die beste prys is. Want hierdie kos kan slegs by veeartse gekoop word.
Ek bestee nie eens op my eie kos soveel per maand nie, maar dit is spesiaal vir woefkinders met nierprobleme en die twee manne moet maar saam met ma BB eet, want ek gaan nie weer deur die trauma van ‘n niersteenoperasie nie – al het BB dit so in die loop van haar dag gedoen – geen drama nie.
Ek kla oor die prys van die kos, want ek betaal. Manlief hou van die kos, hulle laat baie minder sponsspykers op die gras agterlaat. En hy sal weet, hy is die een wat die gras sny …
Ek wonder of Montego Karoo ooit in hulle lywe verteer word, want hulle maak met Montego die grasperk in een week goed vol.
Iedergeval, die woewe is toe Saterdagoggend bederf, hulle het elkeen seker ‘n bakkie vol vleis gekry, een-een gevoer anders sal Sobek oorvat, hy is my vraatsugtige kind. As daar baie is, sluk hy sonder om te kou. En dan soek hy die ander s’n as hulle te stadig eet. Dit het hele rukkie gevat, want BB kou stadiger.
Dit is mos genoeg tyd vir die vleis om deur die lyfies te werk?
Wel, toe nie.
Sondagoggend lê Shilo naby my voete by die bank. Ek hoor die fluitgeluid van ‘n wind en kyk verras na die woefkind by my voete. Want hy vlieg op, probeer sy nek omdraai om by sy stert uit te kom. Want dit is mos waar die geluid vandaan kom? Ewe onskuldig, wat sou dit kon wees?
Ek kon nie help om te lê soos ek lag nie. Hulle is dag en nag saam met my, dit is beslis ‘n eerste! Hy mag maar wonder.
Dit stink nie, dus lag ek alte lekker vir die man wat ook nie aan winde gewoond is nie.
Op pad terug huis toe is daar ‘n oorweldigende klankie in die kar. Ek kyk vir manlief, maar hy pleit onskuldig. Hy beweer dat dit soos ‘n mens s’n ruik, daarom dink hy nie dit is die woefkinders nie. En ek vervies my behoorlik.
Dié keer het die woefkinders geen waarskuwing gegee nie. Of dalk het hulle? Die bakkie lawaai so mens sal seker nie hoor nie. Ons moes net vensters oopdraai om van die reuk ontslae te raak.
Manlief sê dit ruik of een van die woefkinders die agtersitplek vir nommer twee gebruik het. En ek sê vir hom dat Bekka beslis skuldig lyk. Hy staan by die venster en kyk verlangend na buite …
Maar manlief sê ek hoef nie te sukkel om te kyk nie, dit is onmoontlik want die pad is oneweredig en hulle het daardie kenmerkende hurk nodig om die ding te kan doen.
Ons is tussen Schweizer-Renecke en Vryburg, met geen stopplek langs die pad nie. Die gras is lank en mens wil nie dat bosluise op hulle klim nie. Toe stop ons maar by Mams Mega Stop by Vryburg, tel die woefkinders uit en manlief is in die winkel in.
Ek het mos gister vertel hoe groot ek tydens die stop geskrik het …
Die woefkinders het dus nie tyd vir nommer twee gekry nie, dit is mos iets wat hulle moet onderhandel in hulle breins. Nir hier nie, dalk daar? Nie daar nie, dalk elders? ‘n Hele lang ruk voor die onderhandelinge verby is en ‘n plek gekies is.
Maar hulle merk net en toe moet ek hulle mos vinnig inlaai. Oor die loslopende foksie.
Geen nommer twee by een van die drie gekry nie.
Ons ry verder en word weer vergas.
Weer kan ons nie stop nie, ons kon eers by Komtiekie tussen Vryburg en Kuruman stop. Uit met die kinders, hulle ruik en merk en sit dan vir ons en kyk. Ons is amper tuis, waarom hier met ‘n nommer twee sukkel?
Dus weereens geen nommer twee nie.
Ons moes maar weer die pad aanvat. Tuis gekom word hulle ‘n rukkie buite gesit om die ding te doen, wie ook al vir die reuk verantwoordelik was.
Maandagoggend sit ek by my rekenaar en werk en weer word ek vergas. Dit word erger met tyd en nie minder kragtig nie.
Loop en doen ander goed en spuit die vertrek.
En later sit ek op die bed my blogvriende se stories en lees.
Om weereens vergas te word.
Hier teen Dinsdagaand het die gewoel in die magies bedaar, met Royal Canin wat seker help om die ding te doen.
Die les in die storie?
Dit is die laaste keer wat ek die woefkinders van my met menskos verras. Veral varkvleis, want sien – so lyk dit vir my – vark maak woefkinders varksig!
Siestog, ek dog ek doen goed. Dit moes vir hulle ook ‘n vreemde ervaring gewees het.
Duidelik was dit ‘n baie verkeerde besluit van my …
Kostelik. So leer mens! 😀
LikeLiked by 1 person
So leer mens op die harde manier. Pilletjies vir hulle, kos vir ons 😊
LikeLike