Gepubliseer in Joernaal

La Nina: Paaie in Noord-Kaap breek op

Ons woon sedert 27 Desember 2020 in Kathu, ‘n oulike dorpie in die Noord-Kaap. En dit is soveel anders as wat ons verwag het. Dié deel van Suid-Afrika is veronderstel om nou baie warm en baie droog te wees.

Dat die aarde hier droog is, is iets waaroor ek beslis nie twyfel nie. Die erwe het nie gras nie, dit is rooi grond. En as jy my nie glo nie, moet ek gou ‘n skermskoot neem – en deel. Dit is baie, baie droog. Veronderstel om te wees.

Dit is egter koel en nat, baie nat, kenmerkend aan La Nina toestande op die aardbol. In 2010/2011 en ook in 2017 was La Nina vir oorstromings in Suid-Afrika verantwoordelik. Die 2020/21 La Nina toestand sorg soos in 2010/11 vir hewige oorstromings. Hier en oorsee.

Die afgelope twee weke het dit soms ‘n hele dag lank gereën. Sag en dan baie hard, asof die sluise in die hemel oopgegaan het. Dit was heerlik. Dit is heerlik. En dit het vir ‘n area wat nie aan reën gewoond is nie, slegte gevolge.

Want, die paaie kan dit nie hanteer nie.

Toe ons verlede week Donderdag die N14 huis toe gery het, was die pad tussen Kuruman en Vryburg nat. Maar baie mooi. Water het plek-plek oor die pad gestroom. En die boere het nuwe damme op hulle plase gehad. By een so dam het ek my behoorlik vergaap aan ‘n swart eendagtige voël wat rustig op die water gedryf het. ‘n Nuwe speelplek vir die voëls.

Maar, die aarde is ook dorstig. Sondagmiddag toe ons terugkom, was die water wat langs die pad gehardloop het, weg. Asof dit nooit daar was nie. Droog. Droër as droog. En ek was sommer spyt dat ek nie foto’s geneem het nie. Gedink ek sou Sondag op pad terug kon doen.

Ek het veel eerder foto’s van pragtige wolke op pad Johannesburg toe geneem. Die eerste foto het iemand anders verlede week Donderdag in Kathu geneem. Die pad na Sishen was oorstroom.

Ek het die sonsondergang foto’s tussen Ventersdorp en Krugersdop geneem. Op pad huis toe. En die laaste foto is tussen Sweizer-Reyneke en Vryburg geneem op pad terug na Kathu.

Gister kom manlief by die huis. Kyk net hier, het hy te vertelle gehad. En ek was uit my vel uit geskok. Dit het Woensdag gereën ja, maar veel minder as verlede week. Beslis ook sagter. Tog was die water die keer die N14 nie genadig nie. Die pad het blykbaar 42 km buite Kuruman ingeval. ‘n Baie besige nasionale pad kan nie meer gebruik word nie. Dit is ons pad huis toe …

Ons kyk gister na ompaaie wat gery kan word, daar word selfs aanbeveel dat mens Kimberley omry en alle grondpaaie vermy. Omdat laagwater brûe ingeval het op grondpaaie. Kan ‘n 200 km draai word.

Die pad tussen Taung en Vryburg het ook ingeval Dit is die N18, ook ‘n nasionale pad!

Op ‘n plek waar daar nie eens ‘n rivier is nie. En die pad weggevat …

Ek sien daar is heelwat video’s op YouTube gedeel.

Van paaie

en mense wat nie omdraai nie.

En van grondpaaie wat gebruik word, om voor groot uitdagings te staan te kom. Kyk net hoe droog is hierdie gebied …

My Geografie brein kan nie help om die wonder van die natuur te aanskou nie. Ons dink altyd aan vuur as ‘n ramp, water voel soos iets wat nie skade kan aanrig nie. Dit is dan noodsaaklik vir lewe. Tog, kan water nuwe landvorme skep. Paaie afbreek. Wys waar mense nie goeie werk en beplanning gedoen het toe hulle paaie gebou het nie. Want die pad was in die pad van ‘n magtige stroom water wat sy pad terug see toe wil vind. En niks in sy pad los wat hom kan keer om sy doel te bereik nie.

Foto’s van die internet af: Ek sou nie daardeur gery het nie, water kan motors lig en wegvat. Die tweede foto is interessant. Sommiges deel dit as die pad wat tussen Taung en Vryburg ingeval het, ander as op die pad tussen Mahikeng en Kimberley (foto 3). En nog ander beweer dit is die pad tussen Kuruman en Vryburg. Ek is nuuskierig im te weet, want die laaste foto is blykbaar van die pad tussen Kuruman en Vryburg geneem, dus is ek nie seker hoe groot die skade aan die pad is nie. Ons sal weldra uitvind …

Wat ek wel weet, is dat La Nina nog nie klaar is nie.

Die Vaaldam is nou meer as 80% vol, die dambeplanners wys op die kaart dat die dam tot 140% gedruk kan word. Ek weet net dat ek dit nie mag glo nie, want die dam se sluise is in 2010 en 2011 almal gelyk oopgemaak toe die dam 112% vol was. Intussen laat die Vaaldam nie water uit nie, die barage ook nie. En loop die Vaalrivier teen minder as 1 meter hoog verby ons plek. Ons kan net bid dat diegene aan die stuur van die dam wel weet wat hulle doen …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “La Nina: Paaie in Noord-Kaap breek op

    1. La Nina is die algemene weertoestand wat die koel, nat lug oor Suid-Afrika sedert November 2021 instoot. Eloise is ‘n weerstelsel wat binne hierdie weertoestand ontwikkel het. Sy is dus vir die skade verantwoordelik, maar La Nina is die rede waarom Eloise so giftig is.

      Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.