Gepubliseer in Reisjoernaal

DeBen, Noord-Kaap

Ek het vertel dat ons verlede Sondag uitgery het na Doringdraad Kontrei-Kuierplek. En dat ek verras was deur die Afrikaans teen die mure, die mooi binnenshuise versiering. En dat ek regtig graag die atmosfeer wou beleef en nie net kos vat en loop nie.

Wel, ek het ook vertel dat ek meer oor die dorpie gaan vertel.

Deben en ek sien mens spel dit DeBen.

Daar is bitter min op Google beskikbaar oor hierdie dorpie.

Geen inligting gekry nie, soek maar self. Dit is asof die dorpie nie bestaan nie.

Die dorpie se naam het my aan die hotel in Öskemen laat dink en ek was so vies omdat ek eers later die dag die naam weer onthou het.

Dedeman.

Lekker skrille kontras, die luukse, moderne Dedeman hotel op die wal van die magtige Irtish rivier wat deur Öskemen die hele jaar lank sterk vloei. ‘n Yslike rivier wat deur die stad kronkel.

DeBen is op die wal van die Gamagara rivier, wat soos ons verstaan, vanjaar vir die eerste keer in jare weer gaan vloei. Wonder waat die naam vandaan kom?

Die enigste straat wat geteer is, is die hoofstraat. Die res van die strate is grondpad, wat my verskriklik baie aan Kazakhstan herinner het. Die plattelandse dorpies het ook grondpad sodra jy van die hoofpaaie afdraai. En as dit reën, soos dit nou in die Noord-Kaap reën, dan staan die water net so in die strate.

Laat ek eers van die groen goedjies op die grond in die laaste foto vertel. Dit is vlinders en hulle is wit as hulle vlieg. Hulle het om die kar gevlieg, in hulle honderde of duisende, amper soos sneeuvlokkies wat val. Nie by die ruite ingevlieg nie, net om die kar, so saam met ons. Al die pad.

Dit het magies gevoel.

So asof hulle ons deur die deel van die dorpie begelei het. En neem aan hulle het water gedrink? Dit was ‘n warm dag, kyk hoe blou is die lug.

Ons het een kerk gesien, die NG kerk as ek reg onthou. Wat ‘n pragtige, groot kerk vir so ‘n klein dorpie. Wat duidelik vertel dat die voertaal in die dorpie Afrikaans is. Daar is ‘n laerskool en ‘n hoërskool, sommer so op een stuk grond. Ek is nuuskierig om te weet of onderwysers sommer by altwee skoolhou. Kan daar genoeg kinders wees?

Maar dan moet ek ook onthou dat hier plase is, en dat plaaskinders ook skoolgaan. Ek was ene. Modderfontein laerskool was piepklein, het sommer op ‘n stuk grond alleen gestaan. So tussen Jachtfontein en Modderfontein. Naby Westonarea, Fochville en Johannesburg.

Die huise het nie hoë mure om nie, ook nie elektriese heinings of hoë drade nie. Sommiges is van hout en staan op stelte. Ek sal bang wees, hoor, hierdie is blykbaar pofadderwêreld. Ander het massiewe erwe met hulle eie windpompe.

By die Doringdraad eetplekkie staan hierdie leë telefoonhokkie, dink nie hy sal sy ma kan bel nie… AJ algemene handelaar was, sover ons kon sien, die enigste winkel in die dorpie, waar mens sommer alles kan koop. Soos toe ek klein was.

Net soos in Kazakhstan, is daar diere in verskeie vn die erwe en groter stukke grond wat seker as plotte benoem kan word?

Die Kalahari Ferrari (sien vorige artikel) staan by die Doringdraad. Ek lees op die internet dat mens wel op die donkiekar kan ry.

Die garage het wel ‘n kafeetjie.

Manlief en ek het die plek so gekyk, dit trek ons sowaar.

Maar daar is grondpad na Hotazel aan die een kant of vele meer kilometers na Hotazel met lelike teerpad aan die ander kant. Die een wat vir ons reeds probleem is.

Die huise in die dorp het plaasdamme vir swembaddens, wat hoog bokant die grond uitstaan, kompleet met trekker buitebande wat op die water dryf. Sommiges is vierkantig, oulike idee!

Sommige daarvan lyk vuil en ek wonder of muskiete daar nes maak. Want sien, hier in Kathu vreet sulke piepklein muskiete ons lewendig op! En ek kan net raai dat so ‘n dam vol stilstaande vuil water vir hulle broeiplek gaan bied. Gelukkig is dit nie malaria wêreld nie.

Ek wonder of muskiete uit die lug reën? En of die eiers wag vir ‘n reënerige dag? Want die winkelrakke is skielik leeg, geen Tabbard of Peaceful sleep nie.

Ek weet egter nie of ek bedags alleen daar wil bly nie.

Wat ek wel weet is dat die stilte en lewe na aan die aarde my soos ‘n magneet trek.

Ons moet egter prakties dink.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “DeBen, Noord-Kaap

    1. Letty-Ann, as ons reg is, beteken dit die persoon wat die bord gemaak het, kan nie spel nie. ‘n D en ‘n B omgeruil. Ek kan nie dink dat ek en hy verkeerd sou lees nie. Hy stry gewoonlik met my. En die naam het in my geheue gaan sit omdat dit my aan Dedeman herinner het. Haal net die ma uit … dus gaan ek beslis wil gaan seker maak. Vir nou sal ons nie soontoe ry nie, wegneemkos is nie ons idee van lekker nie.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.