Ek weet ek het dadelik jou aandag: Ons is mos nie die kuiersoort nie, en dit klink soos ‘n kuierplek op die platteland. Die naam laat mens aan rugby dink. Wat was daardie naam nou weer? Kamp staaldraad?
Manlief het verlede week vir ‘n jong man van die werk ‘n geleentheid werk toe en terug gegee. En die twee het natuurlik gesels. Ook oor eetplekke wat ons twee hier moet probeer.
Ons ken Kathu nou al so half en half en weet waar die kitskosplekke is: McDonalds, KFC, Nandos, is hier. Ook Spur, Mug & Bean, visplekke en ‘n pub met die naam Speedball. Ek verstaan dit is ‘n nagklub wat nog nie oopgemaak het vandat ons hier is nie. Maar ons het nog nie eintlik restaurante raakgesien nie.
Sondagoggend is ons dorp toe, moes gaan miergif koop. Manlief vra op pad of ons by Red Sand lodge kan gaan middagete eet. Dit is tussen Kathu en Kuruman, maar nader aan Kuruman. Ek was nie lus nie, was nie daarvoor aangetrek nie. Dus vra ek of ons nie die volgende naweek kan gaan nie.
Hy haal op ‘n stadium sy foon uit, steeds lus vir uiteet. Die jong outjie het vir hom ‘n PIN gestuur. Maar daar moet fout wees, Doringdraad is 22 km van ons af.
Ons neem aan dit is verkeerd, dit is waar die outjie die pin op die pad gegee het, so lyk dit vir ons.
Ek is steeds nie lus vir uitgaan nie, maar kom ons gaan dan maar. Ek wil net eers ander klere aantrek.
Soek die plek op my foon, kry dit dadelik met Google onder Doringdraad+Noord+Kaap. En ja, dit is 22 km van ons huis af, dus buitekant Kathu. Lyk of dit iets soos ‘n padstal kan wees, seker vandaar die naam; kontrei kuierplek?
Want hier in die Noord-Kaap is dorpe so 60 km en meer van mekaar af. Dit kan nie ‘n dorp wees nie, nie 22 km van ons af nie.
Ons ken darem die driehoek Hotazel-Kuruman-Kathu. Geen dorpe tussen Kathu en Hotazel nie.
Ons het uitgery na die winkelsentrum aan Sishen se kant, en regs gedraai op die pad wat manlief na Hotazel neem, langs Sishen myn verby. Waar hy egter regs na Hotazel draai, ry ons reguit aan, verby twee plase vol sonkragskerms wat vir die myne krag voorsien.
Oor ‘n brug en toe is ons aan die buitewyke van die piepklein dorpie – Deben!
Ons moes dadelik regs draai op ‘n grondstraat, een blok verder weer links en toe kry ons Doringdraad Kontrei Kuierplek aan die regterkant. Wat ‘n verrassing!

En dit is waarvoor hulle eintlik bekend is – roosterkoeke. Dit is waarom ons gery het, al kan ek dit nie eet nie.
Ek sien nou eers mens kan afval ook koop. Lief soos ek daarvoor as kind was, het my Biologie juffrou my totaal van die binnegoed van beeste afgesit. Daarom eet ek dit nie meer nie, al weet ek my ma was dit silwerskoon. Steeds my pa se gunsteling.
Die plekkie is toe, sal eers 11 uur oopmaak, dit was net na 10. Kyk hoe oulik trek die plekkie mens na hom toe aan.
Windpompkop teen die muur, Skildery van donkie agter doringdraad wat die naam van die plekkie help verklaar, interessante versiering aan die binnekant en natuurlik my gunsteling, die Kalahari Ferrari – ‘n donkiewa wat voor die plekkie staangemaak is.
Ons het maar ‘n draai deur die dorpie gaan ry, meer as een keer, want dit is klein. En ons moes die tyd omkry. Sal nog daarvan vertel. Binne trek die plek my aandag om verskeie redes. Gevathede teen die mure is een. Byvoorbeeld onder die horlosie … Wolf wolf hoe laat is dit …

Die kroegkruipkaart wat wel aandui dat dit ‘n kuierplek is, die reise en soetkyse kaart teen ‘n ander muur met die oulike manier van die naam van dorpe skryf, die muurversierings. Alles trek my aandag.
En natuurlik trek Afrikaanse skryfkuns hierdie hart met ‘n punt. Kyk net hier.. So mooi gedoen.
En hier …. die drie is langs mekaar op ‘n muur.
Buite is rigtingaanwysers na ander plekke en natuurlik ‘n spot met vlae oorkant die straat. Sommer gekleurde lappe aan pale.
Maar, hoe sal die mense nou ooit weet dat die bloue my hart soos ‘n punt sou trek? Dit is die kleur van Kazakhstan se vlag, sal vir altyd vir my die mooiste vlag op aarde wees – weens die pragtige kleur daarvan. Sal nooit kan vergeet watter land se vlag dit is nie. Die kleur trek my soos ‘n magneet.
Doringdraad neem my terug na ons reise deur plattelandse dorpies in Kazakhstan. As hulle so klein soos hierdie een is, dan is daar beslis nie restaurante nie. Nie eens toilette vir ‘n moeë reisiger op die pad nie. Ek sal meer van Deden vertel.
11 uur is ons terug voor die deur, wag nog ‘n motor met twee jong manne om ingelaat te word en hoor ons dat ons net wegneemetes kan bestel.
Het ek al genoem dat die Noord-Kaap Afrikaans is? Ons word in die mooiste Afrikaans gehlp. Ek voel skoon sleg dat ek my taal meng.
Die wegneemetes is vlak 3-inperkings se skuld. Al is die plek groot en ons min. Ek neem aan dit word besiger later die dag?
Ons kyk na spyskaart en besluit dat ons nie vir wegneemetetes lus is nie. Daar is niks wat ek kan eet nie. Ek sou natuurlik vir die atmosfeer gesit het en koffie gedrink het terwyl manlief eet, maar wegneemete is nie waarvoor ons lus is nie. Die kos sal koud wees teen die tyd wat ons weer tuis is.
Vra vir roosterkoek en hoor dat daar nie vars gebak is nie. Hulle het nou net oopgemaak. Die kok ontdek een in ‘n yskas en ons koop maar vrywillig verplig.
Want manliefstel voor dat ons liewer daar gaan eet.
Dit is ‘n storie vir ‘n ander dag ….
Die reise en soetkyse plakkaat teen die muur neem my na die volgende uitgawe van Sarie (Maart/April) waarin Liezel ‘n onderhoud met my oor Kazakhstan voer. Onder e-pos uit Kazakhstan. Liezel het onder andere gevra of ek ‘n reisiger is. En my antwoord was nee, ek hou nie daarvan om uit tasse te leef nie.
Maar ek dink ek kan as een beskryf word, een wat dit in my eie land net soos in Kazakhstan geniet om die land te verken. En daarvoor kry ek in Kathu kans, sonder om ‘n tas nodig te hê.
Doringdraad is ‘n Afrikaanse juweeltjie versteek in ‘n dorpie tussen Kathu en Hotazel. Op ‘n pad wat mens nie sommer na Hotazel sal neem nie omdat dit ‘n grondpad is sodra jy deur Deben gery het. Versteek maar Google kan hom kry.
Daarom wonder ek.
Ken jy die plekkie?
😀Ja ek ken dit.baie mense uit ons omgewing werk daar
LikeLiked by 1 person
Regtig? Ek is so opgewonde om dit te hoor. Ek gaan beslis teruggaan na hierdie mooi eetplekkie, ek wil voel hoe dit voel om daar te wees.
LikeLike
Dit was omtrent interessant. So verken julle die wêrekd en vertel ons daarvan. 😁
LikeLiked by 1 person
Dankie Toortsie, dit was een fantastiese ervaring om almal se hoofstukke te lees.
LikeLiked by 1 person
Jy moet nog skryf. Vir Scrapy 😁
LikeLiked by 1 person
Ekke het – die slothoofstuk
LikeLiked by 1 person
Sal gaan loer.
LikeLike
Dan kan ek skakel van hele avontuur vir my vriendin stuur. Het jy al nuwe avontuur in gedagte?
LikeLiked by 1 person
Ek het, mag ek?
LikeLiked by 1 person
WOW, dit was nou ‘n lekker lees en die foto’s!! Pragtige foto’s en lieflike plek – so baie waarvan ek sal hou. Daardie gedig!! So pragtig. Dankie vir die deel en jy moet die land waar jy nou is kruis en dwars vir ons blog. Nie almal kom altyd in daardie omgewing nie – wel, ek nog minder – en ons land het die oulikste wegsteekplekkies soos hierdie. Dankie, dit was nou ‘n lekker verrassing – ons het sneeu die kant!! 4cm tot dusver en sneeu nog steeds. 🙂
LikeLiked by 1 person
So pas onthou daardie gedig is die liedjie se woorde! Pragtig!
LikeLiked by 1 person
Watter liedjie, help my uit assebleif. Voel vir my so bekend.
LikeLike
https://www.youtube.com/watch?v=08bnOl1EepA Hier is die liedjie. Geniet dit.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Nikita, dit is so mooi hier met al die reën. Sneeu, ek is nog nie lekker om daarna uit te sien nie.
LikeLike
Wat ‘n lekker reisverhaal. Dit laat my dink aan al die stalletjies langs die pad deur die Oos-Kaap op KZN toe.
LikeLiked by 1 person
Dit is waaraan dit mens herinner. Behalwe dat dit weggesteek is.
LikeLike
Juwele…absoluut
LikeLiked by 1 person