Gepubliseer in Joernaal

Uit my prille jeug … pret met water

Scrapy daag ons die week uit om oor avontuur met water te skryf … en dit vat my na my kinderjare terug, veral omdat sy gesels oor ‘n weghardloop en -kruip episode op ‘n boot. Daarom het ek so bietjie afgedwaal van avontuur ….

Ek het op ‘n plasie grootgeword, iewers tussen Jachtfontein en Fochville, toentertyd deel van die grote Transvaal wat na 1994 versnipper is in vier provinsies. Met die Vaaldriehoek ‘n provinsie op sy eie genaamd Gauteng. Die deel het as Modderfontein bekend gestaan. Dit is nie die Modderfontein tussen Johannesburg en Pretoria nie.

Ons het nooit in die huis gespeel nie. Ons was altyd buite. Met kappies op, want ons boude het gebrand as ons ons kappies sou vergeet, ons gesiggies sou brand. Sulke kappies wat om mens se nek vasgemaak het, met knopjes aan die kante en baie groot voorkante, wat dogtertjie-gesiggies uit die son moes hou.

Groot spot as ons maatjies uit Randfontein sou kom kuier. En ons het gesoebat dat ons dit nie dorp toe hoef te dra nie. Gelukkig ook nie skool toe nie. Maar as ek nou so daaraan dink, het my ma en pa ons velletjies net opgepas. Sleg as mens dit nie as kind verstaan nie. My ma het ons kappies gemaak, sy is ‘n voorslagnaaldwerkster.

Om tot die punt te kom, ons was altyd buite, maar nie noodwendig rabbedoes nie. Ons velletjies was so melkwit soso myne kan kom met swart hare. En as dit reën, moes ons binne wees.

Dan het ons naby die vensters gestaan en kyk hoe die weerlig buite speel, die druppels wat teen die ruite kon val, net ons vingers gevolg. Probeer om hulle paadjies van die binnekant af te verander. Gekyk hoe hulle mekaar vind, groter word en vinniger afhardloop.

Sodra die rën opgehou het, is ons uit om kaalvoet in die poele water te speel …

Ek was vir die weerlig bang en terselfdertyd trek dit my soos ‘n magneet aan. Toe ek ouer was en Geografie op skool as vak gehad het, het ek gewonder waarom die slimmes nie ‘n weerligstraal se krag kon opvang om elketrisiteit te verskaf nie. Soos ek verstaan, is dit genoeg vir ‘n dorp. Elke weerligstraat kan tot 1 000 000 volt krag bevat.

Later het ek verstaan waarom my ma ons in die huis gehou het as die weer swaar is. ‘n Groep van my pa se beeste, sy een beste bul inkluis, is onder ‘n boom doodgeslaan. Een weerligstraal. Dit was tussen Ermelo en Volksrus. Ek was al uit die huis en getroud, het steeds ‘n blywende indruk op my gemaak.

En nog later is ‘n man in ‘n lang swart jas voor my oë deur die weerlig getref toe hy langs die pad gestap her. Die winde het sy lang jas se punte rondgeswiep terwyl hy in stadige aksie neergeplof het. ‘n Gebeurtenis wat my nou onder dak laat bly as die weerlig swaar is. Die wolke was laag en grys, dit was nie eens cummulonimbuswolke nie – daardie groot wittes met die gelyk basisse en die punte bo wat soos aambeuels lyk. Dit was gewone lae grys wolke.

Toe ek klein was, kon ons nie wag dat die reën ophou nie. Jakkals het nog met Wolf getrou, dan was ons buite sodra ma toestemming gee. Kaal voetjies in die reën. Ons het Carika Keuzenkamp geluister, seker daarom dat haar kaalvoet in die reën die herinneringe aan my kinderjare somsoet maak. Ek het gou gaan soek. Dit was wonderlike kinderjare, oor die algemeen wonderlik.

Die vertelling van Scrapy laat my ook aan ‘n gebeurtenis uit daardie kinderjare op Modderfontein dink. Ons het aan die einde van my standerd 4-jaar Chrissiesmeer toe getrek en aan die einde van die eerste kwartaal van standerd 6 het my pa en ma Ermelo toe getrek. Was ek dus net een kwartaal in die koshuis, iets wat vir my wat buite moet wees, ‘n baie slegte ervaring was.

Ewenwel, ek was dus jonger as 12, waarskynlik 10. Ons vyf sussies is in die kar gelaai, dit was tyd vir inentings en ondersoeke by oom dokter in Fochville. Die spreekkamers was op straat, mens het net by die deur ingegaan.

Ek kan nie omthou of ek eerste moes sit, gesien het hoe daardie naald met die baie punte lyk wat ‘n blommetjie op jou arm maak nie. Ook nie of kleinsus eerste moes sit nie, ek is agt jaar ouer as sy. En ek die naald so gesien het nie.

Maar, toe my pa weer sien, is sy vyf dogtertjies buite in die straat. Kruip ons agter die karre weg wat lqngs die sypaadjie geparkeer is. En skreeu ons blou moord toe hulle ons kom haal, terug na dokter toe.

Ons het natuurlik pak gekry. Kan nie onthou of dit was ondat ons doodgery kon word nie. Of omdat ons ouers baie, baie skaam gekry het nie. Ek sou om beide redes my eie kinders se boude wou wiks om hulle goed te laat verstaan dat dit verkeerd was.

Interessant dat 2020 my weer by inenting bring …

Déjá vu?

Die titel is tong in die kies …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

7 gedagtes oor “Uit my prille jeug … pret met water

  1. Toe ek jonk was het ek ook meestal buite gespeel: in die veld rondgeloop, in die modder gespeel, bome geklim, en lekker onder die bome gespeel. Die weerlig het my ook bang gemaak totdat daar een aand ‘n groot donderstorm was en my Pa het vir my verduidelik hoe die wolke werk en waar die weerlig vandaan kom. Ek hou nog daarvan om na die druppels teen die vensters te kyk, veral as ons gedurende die reën in die motor is. Terloops, Carieka Keuzenkamp was een van ons gunsteling sangeresse gewees.

    Liked by 1 person

  2. Ek is glas nie bang vir swaar weer en weerlig nie, so dit was goed om jou skrywe te lees. Ek moet meer versigtig raak. Vyf dogtertjies, sjoe Christa, julle moes sekerlik met tye ń handjievol gewees het.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.