Gepubliseer in Joernaal,Tegnologie

Waarom kies ek Signal?

Ek dink ek kan met sekerheid sê dat Signal die toep van my keuse is. Wat my persoonlike veiligheid en sekuriteit betref. En wat die maklike gebruik daarvan ook betref.

Ek het reeds oor die rooi ligte met betrekking tot die veiligheid van gesprekke op WhatsApp en Telegram gesels. Kyk gerus onder vorige gesprekke. Nie een van die ligte gaan vir Signal aan nie.

Daar is geen export-funksie (WhatsApp) wat gebruik kan word om gesprekke woord vir woord af te laai en aan te stuur nie. En daar is ook nie ‘n Find People Near me funksie (Telegram) wat persoonlike veiligheid in gevaar kan stel nie.

Dus is SIGNAL my keuse., dit laai ook op my iPad! En daar is dit eers lekker. Ek sien die gespek langs die lys van gesprekke as ek op een kliek.

Aangesien min mense van Signal bewus is, vertel ek meer oor hierdie toep.

***

Ontwikkelaars van die Signal

Die eerste pluspunt is dat Signal en WhatsApp op dieselfde Signal protokol gebou is. Dus weet ek reeds dat Signal betroubaar is (soos wat WhatsApp voor Facebook se ultimatum was).

Brian Acton, een van die twee ontwikkelaars en eienaars wat WhatsApp aan Facebook verkoop het, het $50 miljoen in die ontwikkeling van Signal gestoot. As hy dit vertrou, kan ek nie maklik verkeerd gaan nie. Hy het Facebook verlaat weens die planne om WhatsApp te misbruik. Die beskerming van privaat inligting is vir hierdie man van uiterste belang.

Persoonlike inligting en sekuriteit

Jy kan vir niemand ‘n boodskap stuur as hulle nie in jou adresboek is of jy hulle telefoonnommer ken nie.

As iemand nie in jou adresboek is nie, kan jy met #telefoonnommer van die persoon op Signal soek. Indien die persoon op Signal is kan hy ‘n boodskap rtuur wat jy kan aanvaar of blok voor jy dit lees. Aanvaar jy die persoon, is hy of sy dan ook in jou adresboek dat julle weer kan gesels.

As die persoon nie in jou adresboek is nie, kan jy die persoon uitnooi om Signal te gebruik.

Jy skep ‘n persoonlike sekuriteitskode (onthou dit asseblief goed). Die toep vra elke nou en dan vir jou die kode, om doodseker te maak dit is die persoon aan wie die toep behoort wat besig is om te tik. Jy kan later afsit, maar mag nie daardie pin vergeet nie. Dit is vir my ‘n goeie sekuriteitstelsel. Daarsonder kan jy nie in jou rekening inkom nie, ander ook nie.

Die ontwikkelaars van die toep is privaatheidbewus, dus gaan my inligting nie aan ‘n boelie verkoop word nie. Acton het reeds sy hande met Facebook verbrand, nynsal seker nie weer nie?

‘n Oulike funksie is dat jy op die naam van die persoon kan kliek en dan kry jy ‘n keuse om sy of haar telefoonnommer te verifieer. Dus staan daar onder sy of haar telefoonnommer geverifieer met ‘n regmerkie.

As die toep toegang tot jou kontakte het, kry jy boodskappe wanneer hulle by Signal aansluit. Dit help baie, want dit raak maar alleen in die toep terwyl ander nog nie aangesluit het nie. Klem op nog nie, hulle gaan wel skuif.

Sonder die Find People Nearby (telegram) is dit veilig om die toep toegang tot my ligging (location) te gee.

Jy kan die volgende aan- of afskakel om jou privaatheid te beskerm en nou lewe maklik te maak:

  • leesbewyse
  • Sien wanneer iemand tik
  • Hiperskakels sien
  • mense blok en sien wie geblok is
  • Oproepe deur Signal maak om IP-adres te beskerm (ek doen en gehalte is goed)
  • onlangse oproepe sien of nie
  • Jou PIN verander – jou pin is baie belangrik
  • Registrasie sluit dat pin soek as op ander foon installeer
  • Skerm sluit dat jy touch ID, Face ID of wagwoord nodig het om te gebruik
  • Skerm beveilig
  • Status sien wanneer op boodskap kliek of nie
  • Boodskappe van nie-kontakte en mense met wie nie profiel gedeel het nie kry
  • Jou chat-geskiedenis uitvee wanneer jy wil.

Soos ek verstaan word boodskappe nie op bedieners gestoor nie, dit is op die fone waarheen dit gestuur is. Ek sien geen funksie vir back-up nie, iets waarvan ek baie hou. Ek lees ou boodskappe nooit weer nie. Dus hoef dit nie jare op servers vir my te lê en wag nie.

Eerste gebruik van die toep

By eerste gebruik voel dit so half of mens nie weet waar om te begin nie. Dus gee ek net eers inligting oor die skerm.

Eenvoudige skerm, as jy nog nie begin het nie, vervang die mannetjie jou inboks, anders is die lys van mense met wie jy gesels daar. Gereed om verder te gesels. Jy kan ook die uitvee wanneer die gesprekke afgehandel is. Dan is die mannetjie weer daar.

Kliek op die sirkel om na jou instellings te gaan, waar jy verskillende goed kan doen. Kyk maar self.

Kliek op die kamera-ikoon om ‘n foto te neem en te stuur.

Kliek op die pen om die volgende oop te maak.

Jy kan ‘n groep begin, iemand met sy #telefoonnommer kry of vriende na Signal nooi. Jou lys van kontakte wat ook Signal het, word dan alfabeties gelys, maar jy kan ook op die blou alfabet kliek om byvoorbeeld vinniger na Van Staden te gaan.

Funksies van die toep en werking van die toep

Jy kan teksboodskappe stuur, bel, video-oproepe maak en stemboodskappe stuur. As jy op die plusteken druk, kan jy foto stuur, foto neem en stuur, GIF, lêer, kontak of ligging stuur. Ek hou van die groot blokke waarop jy kan kliek daarvoor.

Lekker as jy op die pad is en wil sien wat jy doen sonder die bril …

Binne in die teksblok, kan jy op die sticker-ikoon kliek om plakkers aan te heg.

Oproepe: Ek is besonder beïndruk met die gehalte van oproepe. Ons selfoonopvangs in Kathu is baie swak, meeste van die tyd slegs twee stepies. Tog het dit geklink of my vriendin langs my staan toe ons gesels. Ons stemme het nie weggeraak nie. Dit help baie om te weet dat swak opvangs nie ‘n probleem is nie, veral omdat ons lang paaie ry.

Boodskappe: Die teks is mooi groot, lees maklik. Indien ‘n boodskap gestuur is, is daar een regmerkie in ‘n sirkel. As dit gelees is, is daar twee sirkels met regmerkies, effens bo-op mekaar. En as dit gelees is, is beide sirkels wit met ‘n blou regmerkie in elkeen.

Foto’s en video’s: Kom mooi en groot deur, ‘n verdere pluspunt van die toep.

Oulike funksies onder elke kontak op my lys

Jy kan die volgende met elke kontak doen, kliek op die persoon se foto onder kontakte en dan maak hierdie kieslys oop.

Ek hou baie van die boodskappe wat verdwyn nadat dit gelees is, die persoon wat dit ontvang, kan dit nie verander nie. Dit is net weg …

As dit gelees is, is dit mos gelees. So word my foon se geheue nie oorlaai nie.

Kortstondige probleem om aan te sluit (mid-Januarie 2021)

As jy die afgelope twee dae gesukkel het om wel by Signal aan te sluit, wees gerus. Hulle werk aan die bedieners. Nadat Eleon Musk sy ondersteuning aan Signal op Twitter gegee het, het miljoene mense op een slag aangesluit en veroorsaak dat die sisteem te swaar gelaai is. Die probleme word so vinnig as moontlik opgelos, ek sukkel glad nie om die toep te gebruik nie.

Aanbeveling

As veiligheid en sekuriteit vir jou belangrik is, is Signal die toep vir jou. Die ontwikkelaars voel soos ek oor my privaat inligting – hulle deel dit nie.

Tot hulle van plan verander, is Signal die toep op my foon. Toeps is hulpmiddels, nie beste vriende nie. As hulle my privaatheid bedreig, word hulle vervang.

Soos my voorouers die punte van pikke en byle met beter stowwe vervang het. Motors ook. Want sekuriteit en veiligheid is belangrik.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

3 gedagtes oor “Waarom kies ek Signal?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.