Ek dreig so lankal om te vertel van hierdie pragtige ski-oord in die Zailiyskiy Alatau bergreeks wat agter ons woonstel die suidelike grens van Almaty ontwikkel is. As ek egter deur my foto’s begin blaai, weet ek nie wat om te vat en te los nie. Dus gaan ek tog nou probeer.
Die Alatau bergreeks in die noordwestelike Tian Shan strek vir 360 km op die grens tussen Kazakhstan en Kyrgyzstan en heersende hoogte is tussen 4000 en 4600 meter, wat veroorsaak dat mens teen een massiewe bergreeks vaskyk as jy opkyk. Vir so ver as wat jy kyk. Kazakhstan is mos baie, baie plat. Dus staan die berge hoog die lug in op. Baie keer kan mens nie eens die spitse sien nie, vorm die blou daarvan ‘n kleiner kontras met die blou van die vlieswolke oor die berg.
Ons woonstel was ‘n ent op teen die berg, ons het bo-oor alle wolkekrabbers om ons gekyk. Van ons af, ry ons met Dostyk straat na Shymbulak ski-oord, al kronkelend teen die berg op, maar glad nie bangmaakpasse nie. Kyk maar …
As jy weer sien, is jy by Medeu kabelkarretjie stasie (onderste foto).

Eerste foto: tegniek om avalanches te keer in sneeutyd en die sneeu luiperd, ‘n simbool van Kazakhstan. Die luiperd vorm ook deel van Almaty se wapen. Medeu stasie.
Medeu stasie is die onderste stasie van vier wat mens teen die berg opneem na die hoogste piek van die Alatau berge, naamlik Talgar piek wat 4973 tot 5017 meter bo seespieël is. Ek vertel later daarvan. Medeu stasie vorm nie deel van die ski-oord nie, die ski-oord het drie stasies boontoe in die berg, naamlik die basisstasie, die middelste stasie en die boonste stasie. Dus ry mens met drie kabelkarretjies tot heel bo.
Rit tussen Medeu en basisstasie van Shymbulak
Medeu stasie is baie, baie groot. Dit is een massiewe stasie waarvandaan die kabelkarretjies vertrek. Ek deel hier foto’s wat in Maart 2020 geneem is nadat dit die vorige dag gesneeu het en foto’s wat ek die 5de September 2020 geneem het toe ons uiteindelik weer berg op kon gaan na die maandelinge inperkings.
By die kassier (lees kassa en nie kakka nie, Russies) staan manlief om ons kaartjies, te koop teen 4000 tenges elk, dus minder as R200 per persoon om tot heel bo te gaan en terug te kom.
Die karretjies en die teleurstelling. Die advertensies is nie mooi afgehaal nie en die vensters is so gekrap dat my foto’s nie mooi is nie, maar jy gaan oor die bergstroom net sodra die karretjie uit die stasie en oor die pad is. En dan gaan jy in stilte teen die berg op. Ons was in elkeen van die karretjies alleen, die lekker van die virus …
September 2020. Dit is nog groen, maar herfs het aangebreek. En dit was koud op die berg. Medeu skaatsbaan, die stroom, hange, herfsgetooide bome en ek en manlief se poging vir ‘n onsie.
So het dit in Maart gelyk, enkele dae voor die inperkings. Dus vanaf begin lente tot begin herfs was die plek toe – ‘n hele somer het gekom en gegaan. Eerste foto tweede ry: Medeu ysskaatsbaan – sommer so bevrore sonder moeite in die winter. Ek wou nog daar kan gaan stap as ons weer opgaan, maar ek is dankbaar ek is nou in Suid-Afrika. Kabelkarretjies gaan by mekaar verby, en die parkering by Medeu. Die laaste foto wys hoe parkeerplekke lyk as sneeu weggeskraap is. Sommige plekke word dan maar stoorplek vir sneeu.
Ek sien Medeu lê 1690 m bo seespieël. Wat beteken dat mens nog soveel meter boontoe moet gaan tot by die boonste stasie wat 3 200 m bo seespieël is. Hier is kort video’tjie wat ek op die net gekry het wat meer oor Medeu vertel.
Nog foto’s van die rit in kabelkarretjie tussen Medeu en die basisstasie van die ski-oord (Maart 2020). In wit getooi.
Nog foto’s van die eerste deel van die rit, wat meer as 15 minute lank is. Anders as by Tafelberg gan mens nie net op en op en op nie. Altans dit voel nie so nie. Die kabels is teen ‘n golwende bergreeks geïnstalleer, dus gaan mens die hele tyd op, bietjie af, op en weer bietjie af.
Basisstasie van Shymbulak
By die basisstasie is ‘n groot vlak met eetplek vir baie. Al die skiērs kom van bo af om hier te kom land. Onder die grond is ‘n winkel en plek waar die skiërs hulle goed bêre.
Die hotel is ook op hierdie vlak.
Hier is ‘n video wat ek geneem het terwyl ons daar geëet het.
Kyk hoe vinnig kom die manne en kinders en vrouens op hulle ski’s daar aan …
Tweede stasie van Shymbulak (derde een in die reeks)
Hier is ‘n video van die kabelkarretjie rit tussen twee van die stasies – verskoon maar, ek het nie geredigeer nie.
Die Bogdanovich gletser is by die heel boonste stasie. As jy nader trek, sal jy sien dat dit 3 200 meter bo seespieël is. Die foto’s hier onder is vroeg in Maart 2020 geneem. By die heel boonste stasie.
Hier is nog ‘n video’tjie, net om te beleef hoe dit is om in die winter op die pragtige plek te wees.
As ek nie my kappie op het nie, was dit nie te koud nie. Kyk hoe blou is die lug teen die wit sneeu. Kyk net hoe wit was die berge agter manlief. Agter die wit platform is ‘n lang helling met ski-kabelkarretjies, wat die skiërs afneem na die ski hellings en weer opbring boontoe.
As jy lus het, kan jy gerus na die kameras op die berg kyk om te sien hoe pragtig dit daar is. Ek deel die skakel aan die einde van die artikel.
Laat ek net die posisie van die kameras verduidelik. Jy weet nou waar die basisstasie is.
Die kamera by Left Tavalgar is ook by die heel boonste stasie. Jy loop vanaf die laaste stasie na die wit platform (my foto’s bo) se kant toe en net voor mens by die wit platform kom, draai jy links weg na die deel van die berg wat daar die hoogte inskiet. Met die wit Yurts wat daar staan.
Yurts is die ronde tente van die Qazaqs.
Ons twee het soontoe geloop, die derde keer wat ons op die berg was … die eerste naweek wat ons met die karretjies tot bo kon ry na die inperkings. So lyk ‘n yurt van naderby en aan die binnekant.
Dit was lekker om deel van dié wêreld te wees.
Dit is fantasties om nie meer daar te wees nie. Om by my kinders te wees. Ons kuier die naweek weer lekker saam, gaan ook na my man se broerskind se troue toe. Dit is wonderlik om weer naby my eie mense te wees.
Ek sal mense egter baie maklik kan aanraai om daarheen te gaan vir ‘n ski-vakansie, dit is baie, baie goedkoper as Europa. En pragtig.
‘n Diamant wat nog nie baie aan die wêreld bekendgestel is nie.
Foto’s: Ons twee on top of the world, die yurts by die boonste stasie, rigtingborde na ander lande toe, ek op die berg, Almaty lê daar ver onder, manlief by die sneeblaser en ek in die restaurantjie op die berg. Manlief moes dit afneem, kyk die rooi dame agter my …
Hier is die skakel, dit is lewendige uitsendings.
Ek sien jy moet twee keer op die driehoekie kliek om dit te laat werk by elke kamera. As dit steeds sukkel, kliek bo op camera om die bladsy weer te laai.
Maar, dit is die moeite werd om te gaan loer. Die sneeu lê nog nie oral dik nie, sien ek. En onthou, die Kazakhs word eers 10 uur soggens wakker, speel eers so teen 12 hulle tyd (8 uur hier). En speel tot laat, hulle sal laat saans nog daar kan rondloop …
Gaan loer gerus, dalk trek dit jou vir ‘n oomblik in my eertydse wêreld in.
Kan jy dit glo? Jy kan gou in Qazaqstan saamkuier? Dit het gisteraand toe ek na die video gekyk het, op die berg gesneeu. Onthou dat Kazakhstan 4 ure voor Suid-Afrika is, dus moet jy in die oggend so van 6 uur af tot die middag so 12:00 kyk om daglig daar te vang. Die dae word mos nou baie kort daardie kant …
NS: Ek sien dat mens nie die video’s sien wat ek geplaas het as jy die artikel in jou e-posbus gekry het nie. Kliek dus hier om na my webwerf te gaan om die artikel te lees en die video’s te sien. Dit is kort en gee idee van die plek.
Ongelooflik🙌
LikeLiked by 2 people
Dit is pragtig daar en so min mense weet daarvan. Lekker omdat dit nie baie besig is nie.
LikeLiked by 1 person
Ja veral as dit still is. Lieflike dag💞
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, vir jou ook.
LikeLike
Ek sien dat mens nie die video’s sien as jy die e-pos met die artikel gekry het nie. Ek het ‘n hele paar kort video’s geplaas. Om die idee van die plek te gee.
LikeLiked by 1 person
Ja ek het so agtergekom.die video is egter n baie goeie idee.
LikeLiked by 1 person
Dankie.
LikeLike
Dit is ongelooflik mooi daar, pragtige fotos. Lyk omtrent na goeie idee vir vakansie.
LikeLiked by 1 person
Inderdaad, veral van jou kant af. Naby genoeg om nie te duur te wees nie. In die somer net so mooi – as jy nie ski nie. Dan is die dae baie lank. En kan jy na die canyon ook gaan.
LikeLike
Dit klink awesome en dink dit gaan op my lysie🌻
LikeLiked by 1 person
Veral omdat dit in die winter soos regtig baie koud is. Nie speel koud nie.
LikeLike