Gepubliseer in Joernaal

Eerste maand tuis en keelvol vir verwers

Ons het die 4de Oktober toe nie plaas toe gegaan nie, maar in ons stadshuis kom bly. Die een wat leeg is en net ‘n bed en so aan in het omdat ons Januarie in die huis kom bly het terwyl daar binne geverf word.

Ek het ook vertel dat ons die huis laat verf het. Omdat die agent gedink het dit is goeie idee. Nie omdat ek ‘n vinkwyfie is nie, maar moet erken, die verf het die huis goed gedoen. Blykbaar gee kopers glad nie om om twee keer vir verf te betaal nie. Hulle verstaan nie dat verf ‘n langtermyn belegging is nie. Ek het egter probeer om ‘n kleur te kies wat die meeste mense behoort te geval.

Ewenwel. Hulle wil die huis nuutgeverf sien.

Die verwery sou twee weke voor ons huis toe kom, begin. En twee weke duur. Ek het geen idee wat hulle in daardie tyd gedoen het nie, want dit het nie gelyk of 9-10 mense per dag aan die huis gewerk het toe ons twee weke later in Suid-Afrika land nie.

En let wel, ons het net buite geverf. Binne was reeds geverf.

Die eerste twee weke van die verwery was nie ‘n aangename ervaring nie, want my alarm het in Kazakhstan afgegaan. Iemand is in die huis. As dit veronderstel is om gesluit te wees. Met mense wat buite moet werk. Gelukkig is die dag daar reeds ver gevorder. Anders sou ek nog vieser geraak het.

As ek die agent bel, kan sy nie antwoord gee nie, want sy moet eers haar man kontak wat volgens ons ooreenkoms sou toesig hou. En toe ruik ons ‘n rot. Hy is nie hier om toesig te hou nie.

Gelukkig was ons op pad huis toe.

Ons voorgenome twee weke om by die rivier te gaan isoleer van ons kinders was na die maan. Ons sou naby hulle bly, maar ons kon hulle nie sien nie.

Vir ingeval ons ‘n kiem opgetel het op die vliegtuig. Al het ons geweet dit is ‘n baie slim kiem. Etenstye is skietstilstand. Hy mors nie met mense wat wil eet nie.

Na ‘n maand by die huis was ek verby keelvol vir die verwers. Hulle was toe al ses weke lank besig met ‘n werk wat twee weke sou duur. Sowat van vrot projekbestuur het ek lanklaas in my lewe gesien. Die enigste troos was dat die werk per uur al minder gekos het soos wat hulle gedraai het om klaar te maak.

Ons huis het baie vensters, baie meer as wat daar mure is. Aangesien ons nie teruggetrek het nie, is hier nie gordyne voor die vensters nie.

As ek na my badkamer se toilet wil gaan, is daar 5 vensters waardeur iemand na binne kon kyk – besig om ‘n venster se houtrame af te skuur, of besig om die ruite te plak dat die vernis nie op die ruite kom nie, of besig om dit te vernis, verskeie lae, of besig om die goed af te trek wat om die rame geplak is, of besig om die ruite te was waar die goed al styf vasgeplak het omdat dit so lank teen die ruite vasgeplak was.

Selfde met die ander drie toilette, as ek daar invlieg vir ‘n vinnige draai, staan iemand by die glasbuitedeure van die stoepe, of by die vensters. Maar ek kon nie net ingaan nie, ek moes altyf seker maak dat een van 10 mense nie by die betrokke toilet se venster staan en werk nie.

Ek kon nie in my huis beweeg sonder dat iemand iewers by ‘n stoepdeur of venster vir my gestaan en kyk het nie. En ek wens mense weet hoe onaangenaam dit is.

Ek kon my woewe nie buite los nie, want hou asseblief die hekkies toe bestaan nie in hulle woordeskat nie. Vir baklei met so ‘n oormag in die erf was ek ook nie lus nie, dus het ek stilgebly en soos ‘n blaasoppie opgeblaas.

Hoe later, hoe kwater. Ek kon naderhand nie meer vir die eienaar van die besigheid kyk as hy hier aankom nie. Het liewer op die grond gekyk en iets geprewel van ek kyk vir bye op die jakaranda-bloeisels as ek by hom verby moes loop. Want as hy my gesig kon sien, sou hy die vuur ook sien. Een wat later met moeite onderdruk is.

Die kwaad is so effens versag deur die werk wat hulle gedoen het. Die rame van die baie ruite is tot op die hout afgeskuur en oorvernis.

Die drie motorhuisdeure is tot op die hout afgeskuur en oor vernis. Dit lyk werklik baie mooi.

Die kleur lyk goed, al moes ek en die man eers stry oor ‘n kleur waarvan ek hou. Dinks mens is dom – vertel dat beige op ‘n geel muur blou vertoon, as die kleur wat hy kies ‘n blou ondertoon het. Uiteindelik het die man begin verstaan, nadat ons na die winkel toe is om self te kies. Toe verstaan hy ek soek nie blou of groen of grys ondertoon nie, ek soek na bruine se kant toe.

Twee keer was ek hondmoeg, ek het niks geslaap nie. Kon ook nie op ‘n gaan gaan ontspan met oge wat mens volg nie. Toe vat ek ‘n duvet, vou hom dubbel, gooi hom in die aantrekkamer tussen my twee kaste oop, gryp ‘n kussing en verdwyn vir ‘n slapie.

Met my Schnauzers wat die kans vat om by my te probeer lê. BB kon by my inpas, maar die ander twee moes by my voete lê. Ek het nie eens omgegee of hulle asempies nie lekker ruik nie, ek het ‘n vinnige kragslapie gevat om weer uitgerus met my dagtaak te kon aangaan.

As ek die vloere was, het ek toeskouers deur die vensters gehad.

As ek kos maak, het ek toeskouers deur die vensters gehad.

As ek en my man hard met mekaar praat, het ons ook toeskouers deur die vensters gehad.

Want raai wat? Of het mos die vensters laat verf en nie die mure nie.

Ek het al die deure op slot gehou, want dit is onmoontlik om te sien wat bo en onder aangaan as jy in elk geval dopgehou word deur al die vensters.

Dan is ek ook nog geroep.

Kom maak al die klein venstertjies oop.

Daar is nie toiletpapier in die buitekamer nie.

Iemand wil by die groot hek inkom.

Iemand wil by die groot hek uitgaan.

En. ie eens my man waag dit om my so te pla as ek navorsing doen nie. Hy weet dat ek dadelik ongelukkig is. Die sin is weg, ek moet hom weer gaan soek.

Ons kon nie dorp toe gaan nie, want al die vensters was oop.

Ons kon nie gaan kos koop voor 5 in die middae nie, al die vensters was oop.

Ons het soos daardie twee in hulle Duster in die kar gevlieg as hulle vyfuur uitry om ons goed te gaan doen.

In ‘n land waar winkels nie soos in Kazakhstan tot 10 uur saans oop is nie.

In ‘n land waar mense vyfuur huis toe gaan na werk, met die gevolg dat ons in die enkele uur nog in spitsverkeer ook van een sentrum na die ander kon gaan voor die plek toemaak.

En toe speel ek vir manlief Steve Hofmeyr se liedjie Gatvol. Ken jy hom? Nie, dan kan jy hier luister.

https://www.musixmatch.com/lyrics/Steve-Hofmeyr/Gatvol

Kliphard.

Ken jy hom? Hierdie deel sing baie lekker …

En is jy ‘n bietjie maagvol… maalvol
Nersvol … nersvol
Keelvol …keelvol
Gatvol … gatvol

Of is jy gatvol verby!

My gatsometer lees hoe vinnig mens na nêrens vorder nie.

My gatsometer het toe lankal gelees hoe vinnig hulle na nêrens vorder nie. Die een dag verf hulle al die buitemure, in een dag. Tog was hulle vyf weke later nie klaar nie.

Want …

Hulle sit op hulle fone …

Hulle kom halfagt maar eet eers dan om teen 9 te begin …

Net na drie begin hulle oppak om vyfuur vir die drywer gereed te wees …

Hulle bring nie al die gereedkskap saam nie …

Sal ek hulle aanbeveel? Paintsmiths?

Ek twyfel ernstig.

Ons was in beheer van die binneverfprojek en dit het in een week geskied. Met ‘n eienaarverwer en sy drie manne.

Daar was minder werksmense, hulle moes mooi werk om nie op die vloere te mors nie. Hulle het die vensterrame aan die binnekant geverf. Nie afgeskuur nie. En die binnemure is baie meer as die buitemure.

Behalwe nou vir die muur wat reg om die erf strek.

Hulle het nie vensters afgeskuur nie, ook nie garage nie. Dus kan ek week aanlas vir die afskuurwerk. En week vir die buitemure gereed maak en verf.

Drie weke … dit is hoe lank die projek behoort te duur.

Nie ses weke nie.

Iedergeval, manlief het gesien my gatsometer is diep in die rooi. Toe roep hy die Maandag halt.

Dit is die einde hiervan, ons sien nie meer kans nie. Alles moet vandag klaar wees as hulle loop.

Dit was, so byna.

Ons sien hier en daar ‘n dingetjie wat misgekyk is.

Maar nie een van ons sien kans om hulle terug te roep nie.

Na ses weke was ek, soos Steve sing, gatvol verby!

So vies dat ek nou eers daaroor kan skryf sonder om lelik te raak.

Toe pak ons die kar en ry na die rivier toe.

Waar manlief uiteindelik by sy werk kon uitkom, naamlik om klomp goed te gaan regmaak.

Nee, wat, ek dink ek beveel aan dat ons huis oor ses of sewe jaar ‘n laag bakstene omkry. Daai halwe soort wat geplak word.

Dit sal baie vinniger as die verwers gaan.

Om te hou.

Vir ‘n leeftyd.

Tuinmuur wat voorberei is, voorbereiding met wit goed, voordeur tydens voorbereiding, nuwe verfkleure, ook by motorhuisdeure en my skuilplek om ‘n slapie te vang sonder om bekyk te kan word terwyl ek slaap …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Eerste maand tuis en keelvol vir verwers

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.