So soek ek die week sago in Qazaqstan. Om die storie te vertel, moet ek egter bietjie agtergrond gee vir die behoefte aan sago, iets wat ek donkiejare laas te ete gehad het.
Die naweek hou manlief hom simpel, hy wil hoenderpastei hê. Maar nou moet ek eers verduidelik waarom ek dit as simpel beskou.
Toe ek getroud is, het ek geen idee gehad hoe om kos te maak nie, my ma het die kos in die huis gemaak, op universiteit het ek in die eetsaal in ‘n ry gaan staan, gekies watter kos in my bord mag beland en watter nie, by die tafel gaan sit en geëet. Geen benul hoe lank wat gekook moet word nie, daai is iets vir ‘n ander dag.
Dus moes ek vinnig leer kos maak, manlief help nie in die kombuis nie. Ek skat hy was verras dat ek nie eens rys kon kook nie, maar toe het hy maar geëet soos dit uitkom. Intussen het ek op resepteboeke staatgemaak om kos te maak, anders as my en sy ma se rys, vleis, aartappels en so.
Manlief het egter ons twee ma’s se soort kos verkies: as daar rys, vleis en aartappels op sy bord is, is hy gelukkig. As daar groente is, moet ek dit verskans met ander kos, hy vertel gereeld dat slaai, behalwe aartappelslaai, bokkos is. En natuurlik pap en braaivleis, met rolletjies en aartappelslaai daarby. Dan is hy soos ‘n vark in Palestina – op sy gelukkigste.
So het my lus vir resepte probeer vervaag en teen die tyd wat die kinders groot genoeg was om saam te eet, was dit die kos op die tafel, met nagereg Sondae. Natuurlik ook skaapboud of so iets, maar ek het nooit heelvleis gaargemaak nie, kry dit net nie sag genoeg nie.
Groentes is so nou en dan bygesit, pampoen, ertjies, boontjies, lemoenpampoentjies. Hoender word ook deur manlief as groente beskou en aan ‘n vis wil hy nie byt nie.
Dit is waarom ek sê dat hy hom Sondag simpel gehou het. Ek was besig met ‘n artikel en beslis nie lus om deeg aan te maak om ‘n pastei te maak nie. Buitendien, ek het nog altyd sommer gekoop en gevries gehou, selde gebruik. Hy het mos ‘n spesifieke smaakknoppies.
Ek sê net nee en met my werk aangegaan. Hy in die kamer, ek in die eetkamer.
Toe piep my foon die lang pieps wat dit moet maak as my kinders of my man my soek. Dat ek kan hoor en antwoord. ‘n Boodskap aan pa in die gesinsgroepie:
Skoonseun en dollatjie, stuur asseblief vir ma ‘n resep vir ‘n lekker chicken pie, ek is nou lus daarvoor.
Nou sal jy natuurlik wonder waarom vir die twee?
Wel, seun en skoonseun is net so handig soos hulle vrouens in die kombuis.
Die oggend het begin met foto’s in die groep van ‘n ciabata wat dollatjie gebak het, wat sy nog nooit probeer het nie.
Sien, die inperking doen die mensdom goed, leer nuwe vaardighede aan wat handig te pas kan kom. Toe bak haar manlief ‘n bruin brood ook, net om te wys dat ‘n man ook brood kan bak.
Ek het aan die lawa poeding mengsel wat ek gekoop het gedink en besluit dat ek maar ook aan die bak gaan kom. Het reeds daaroor geskryf.
En dit was in die oond toe die hoenderpastei bestelling kom.
Dus was ek nie opgewonde nie. Thermie moes eers gewas word en sy moes skoon en droog wees om blaardeeg aan te maak en dit is nogal ‘n proses om dit uit te was. As ek dit met die hand doen.
Dus wil ek nie pastei bak nie.
Ek laat weet dit is nie nodig nie, ek het resepte.
Ek hoef net te Google om verskeie Thermomix resepte op te vind. My resepte moet mos vir haar aangepas word. Alles word in gramme geweeg. Gewone resepte werk met ml. En gramme en koppies en teelepels en lepels.
En dit het ek reeds ‘n resep gekry, want manlief kry mos maar sy sin. Al is ek onwillig. Die masjien is gewas, afgedroog en die nuwe deeg was reeds aangemaak toe Dollatjie laat weet skoonseun het ‘n Afrikaanse resep gekry en die foto word aangestuur.
Om skoonpa uit die verknorsing te help, ek het nou ‘n resep en ek kan maak.
Seun laat weet ook dat skoondogter ‘n lekker resep het en sy laat weet dat sy nie een het nie, sy maak die kos met wat sy het. Soos haar skoonma, ek gebruik nie resepte nie. Ek wonder of dit is omdat mens ‘n lekker resep kry en dan is die bestanddele nie in jou huis nie? Wel, ek improviseer en bak en brou en die resultate is gewoonlik volgens manlief nie te sleg nie.
Seuns skryf dat sy tog een het en sy voeg toe by dat die enigste gegewe die sago is wat in die hoendermengsel gesit word. En daar het sy my aandag: Sago.
Ons het so nou en dan toe ek klein was sago-poeding gekry en dit was belaglik lekker. Die deurskynende balletjies, die roomagtigheid en veral die appelkooskonfyt wat my ma self gekook het.
Jammer om dit te moet skryf, maar gekoopte appelkooskonfyt doen net nie die ding nie. Dit het nie die suurderige velletjies van tuisgemaakte appelkooskonfyt nie.
Wel, dit is een van die soorte kos waarvan die kinders niks hou nie. Dus is my kinders nie met sago-poeding grootgemaak nie. En hier het skoondogter sago op haar rak – en ek het dit nooit geweet nie. Seun kry sago in.
Ek vra waarom sago en sy verduidelik dat haar oumagrootjie dit gedoen het om die sous in die hoendermengsel op te suig.
Wie ken hierdie truuk? Ek nie en daarom wou ek die volgende dag so op my dag van die inperking om buite te mag wees supermark toe om sago te koop, daar is ‘n Russiese woord vir sago, uitgespreek as saga, dus moet hulle sago op die rak hê?
Ek stuur ‘n boodskap vir my Russiese vriendin om te vra waar ek sal kan koop. Sy laat weet dat sy geen idee het waarvan ek praat nie, al het ek ‘n foto van die vertaling gestuur. Ek Google en soek ‘n foto en stuur aan. Ek was sommer ook verras toe ek sien dat sago eintlik stysel is wat van die merg (pith) van ‘n verskeidenheid palmbome gemaak word.
Ek het juis sulkes in my tuin in Suid-Afrika. En soos wat ek verstaan, is daardie rooi pitte gevaarlik vir honde. En ook dat sago ‘n stapelvoedsel in die tropiese gebiede is. Ons is nie in die tropiese gebied nie. Wens dalk ons was. Hierdie koue is erg.
Manlief se tolk, wat sy eie bakkery het, kan ook nie help nie, nog nooit daarvan gehoor nie. Ek antwoord dat hulle die woord het, dus ook die produk moet hê. Nee antwoord hulle, die woord is soos die Engels gespel, dus net vertaal.
Maar my brein wou daardie een mos nie glo nie. In die supermark kon ek baie soorte vreemde goed kry, waarvan sago nie een is nie.
Dus moes Google weer help. Hier is in- en uitvoerders van sago in die land, laat weet ek beide.
Slaat my dood met ‘n slapsnoek, laat weet hulle, ken dit nie.
Is dit moontlik dat sago bekend aan ons ouer geslag is en dat die jonger geslag nie daarmee grootgeword het nie en dit dus nie ken nie?
Toe besluit ek om een van die maatskappye te kontak. Die eerste een laat weet hulle voer na baie lande uit, nie meer na Kazakhstan nie al staan daar by die prent dat hulle wel hierheen uitvoer.
Vir die tweede een stuur ek twee boodskappe, een van elkeen van die produkte wat soos ronde balletjies lyk af. Want sien, dit wil voorkom asof die een soort (sago) van palm afkomstig is en die ander een, Tapioca, word van ‘n soort wortel gemaak.
Hoe dit proe, weet ek nie. Waarvan Suid-Afrikaanse sago gemaak word, weet ek ook nie. Dus wou ek maar een van elkeen koop.
Ek het in Engels geskryf dat ek nie Russies verstaan nie, maar wil weet of hulle dit na my stad koerier, in hierdie tyd van inperking. Die antwoord het vinnig gekom. In Russies. Dat hulle my versoek verwerk. ‘n Rukkie later het ek weer ‘n antwoord gekry. Aangesien ek op my rekenaar besig was, het ek sommer Google Translate gebruik en dit na Afrikaans te vertaal.
En hoe mooi vertaal Russies net nie na Afrikaans nie.
Dit, terwyl ek nog die hele tyd op vertaling na Engels staatmaak as die mense om my in elk geval nie Engels verstaan nie.
Ek vermoed Google vertaal beter na Afrikaans. Omdat Afrikaans nie so baie tydreëls soos Engels het nie. Russies het ook baie, maar Afrikaans nie, daarom vertaal dit waarskynlik beter na my eie taal.
Nou wag ek maar vir die antwoord. As ek nie kan kry nie, gaan ek my lus vir sago moet laat wag tot ek in Suid-Afrika is. Want ons is hier ook ingeperk as gevolg van die virus. Om die waarheid te skryf, ons is dalk erger ingeperk.
Ons het ‘n pas per familie gekry om of die ewe dae van die maand of die onewe dae van die maand buite te mag wees.
Of koeriers werk, weet ek nie. Of sago as ‘n noodsaaklike kossoort beskou sal word, weet ek ook nie.
Die jonger geslag Qazaqs ken nie die produk nie. En hulle oorheers in hierdie land met ‘n baie hoë persentasie jong mense.
Ons het nou die dag konfyt gekoop wat soos appelkoos kan proe, dus kan ek dit gebruik as ek die sago eendag kry. Anders moet ek self maak, daar is bevrore appelkose in die vrieskas. Of ek die moed daarvoor het, is ‘n ander saak.
Ek onthou ma se konfytkookdae as ‘n taai proses …
Dalkies kan Thermie dit doen sonder die gemors? Ek sal moet gaan loer.
N.S. Die konfyt is toe gekook en dit is baie lekker. Kyk onder Thermomix.
Gekoopte appelkooskonfyt is ‘n volksvreemde pampoenmoes, want dit is wat daarin is. As kind konfyt gekook met Royal- en Belinda-appelkose uit ons eie boord. Druiwekonfyt kom geblik, korrelkonfyt maak ons tuis.
LikeLike
Maak julle steeds konfyt?
LikeLiked by 1 person
Nee, ons ou plekkie is te klein vir daai reuse stoof en groot potte. Dis ‘n era wat ewig verby is.
LikeLike
Ek voel weer dat mens dit op klein skaal kan doen, maar Pete, dan moet die ou wat dit eet, my werk waardeer. Anders doen ek dit nie weer nie, ek onthou dit as ‘n tydrowende, taai proses. My ma het alles in bottels gesit, perskes, pers, kwepers, suur uitjies en moskonfyt. Sy kan ook baie lekker blatjang maak.
LikeLiked by 1 person
Ons leef in minder as 150 vk voet…….
LikeLike
Ek ook, op hierdie stadium, dink ekke. Hoeveel vertrekke is daai?
LikeLiked by 1 person
Nee, suster, jy tel nie vertrekke nie en werk dit om, dis sowat 14 meter vierkant. Bachelor flat. ‘n Baie kleintjie teen veertienduisend Rand per maand. Dis al wat ons kon kry.
LikeLike
OK, bachelor verstaan ek. Ons eerste een het, as ons by die voordeur instap, die kombuis aan die een kant en die badkamer aan die ander kant van die gangetjie gehad en dan loop mens in een groot verterk in wat as sitkamer, eetkamer en slaapkamer dien.
LikeLiked by 1 person
Ons kombuisie is een vk meter en nie apart nie, net die 2vk badkamer is apart.
LikeLike
Hmmm, dan sal mens beslis nie voor die stoof wil staan nie. Maar, soos ek na jou foto’s kyk, het jy ‘n asemrowende uitsig. Daarvoor sal ek baie spasie opoffer.
LikeLiked by 1 person
Nee, ons moes trek begin Desember en het net uitsig op ‘n vaal ou woonsytelblok. Die vorige woonstel het l;ieflike uitsigte gehad op Seinheuwel, Leeukop en die regterkantste hoekie van Tafelberg. My foto’s kom van die stappies op dae dat ek mobiliteit het, dan gaan ek af see toe, dis sowat 293 ver en neem foto’s, soveel ek kan, al lyk hulle almal amper eenders. Ek leef op die rente van my geheuebank.
LikeLike
Ek hou van daardie woord, rente van geheuebank. Mooi, mooi. Ek is bekommerd dat myne my eendag in die steek gaan laat, dus hou ek dagboek op my blog van spesiale dae en geleenthede. Hoop dit voel nie eendag soos grepe uit iemand anders se lewe nie.
LikeLike
Kwepers…….die lekkerste ingelegde kwepers emt tuisgemaakte roomys. Waar’s die dae…..
LikeLike
Hmmm, verlore tyd, en rede waarom my kinders nie van konfyt hou nie. Ek het sommer gekoop.
LikeLiked by 1 person
Pa was onderwyser, ek het grootgeword voor beroepsifferensiasie en salaris was regtig pateties klein. Ons was grootliks selfvoorsienend en die winkel was net vir die heel noodsaaklikste goed.
LikeLike
Ek het weer op plaas grootgeword, winkel was net vir dit wat my ma nie self kon maak en my pa nie self kon slag en verwerk nie.
LikeLiked by 1 person
My 1e sewe jaar op een van wyle Genl de Wet se plase, self geslag, gejag net vir die pot, ens.
LikeLike
Sjoe, dit is lekker herinneringe, Pete.
LikeLiked by 1 person
Ja, my eerste kinderdae was lekker, amper drieduisend morg om vryelik los te loop met my hond. Dink hoe dit is om in 14vk m vasgekluister te sit. Ek is bly dat ek die Brandwachtberg geklim het, en Bainskloof se Limietberge, en selfs die Maulti’s en Mpumalamga se Drakensberge. En nie gesit en TV kyk het nie; ek sien nou-eers Airwolf…..
LikeLike
Ek stem saam, as mens die tyd met TV verwyl het, is dit op ons oudag te laat om spyt te wees. Skete pla dan.
LikeLiked by 1 person
Ek het so ‘n hoop sketemaar kla nie want ek kan sien, hoor, proe, ruik en voel. Het al my NDE gehad en dit het my van rilidgin genees. Nou leef ek net in vrye geluk te midde van gebrek van sewe soorte.
LikeLike
Ek kan nie help om te glimlag as jy skryf nie, al gaan dit oor diep en hartseer sake. Jy toor met woorde en skep prentjies daarmaae.
LikeLiked by 1 person
O, dankie, ek is bly as iemand daren ‘n effense ou gesiggie kan trek….. 😀
LikeLike
Jy skryf mooi.
LikeLiked by 1 person
Dankie, ek is juis besig om iewers te skryf oor die eerste visioen wat ek helder oordag gehad het en wat net so uitgekom het. Tog heg ek nie te veel waarde aan sulke goed nie.
LikeLike
Daai is interessant, vertel asseblief.
LikeLiked by 1 person
Ek is stadigaan besig daarmee, jy sal dit sien.
LikeLike
Jy is heeltemal reg oor gekoopte appelkooskonfyt – dit het geen “body” nie. Ons het in Gauteng twee appelkoosbome in ons erf gehad en my man (nie ekke nie) het altyd appelkoos-konfyt en -blatjang gekook.My skoonma het altyd die heerlikste sagopoeding gemaak, deurskynend en drillend soos jellie in die oond, smeltsag op jou tong. Myne is altyd ‘n flop. Ek gebruik dikwels sago (eintlik verkies ek tapioca) in my sop of as my bredie te waterig uit die slow cooker kom, om die sous ietwat dikker te maak. Sago en tapioca is nie dieselde ding nie, maar die een kan as vervanging vir die ander dien.
LikeLike
Dankie, Hester, vertel asb meer daarvan. Veral die Tapioca. Ek ken dit nie, maar gaan soek hoor.
LikeLiked by 1 person
Volgense google: “Sago is an edible starch that is made from the pith of an array of tropical palm trees. It’s a staple food in parts of the tropics. Tapioca pearls, on the other hand, are made with tapioca or the starch from cassava, a root crop.” Tapioca se korrels is groter as dié van sago. Ek glo nie daar is veel verskil nie en gebruik die een as die ander nie beskibaar is nie.
LikeLike