Wegkruipertjie met Schnauzers

Ek het nou al ‘n paar keer geskryf oor goed wat ek doelbewus moes onderdruk om gelukkig in Kazakhstan te kan wees. Een daarvan was om my Miniatuur Schnauzers om my voete te vind. Maar veral om met hulle wegkruipertjie te speel.

BB (Illonka is haar geregistreerde naam) speel nie sommer saam nie. Sy ken my te lank. Sy lê in haar bedjie by my lessenaar en hou my dop. As ek kamer toe gaan, is haar gedagtes seker “sy kan nie ver weg gaan nie” want sy staan nie eens op om te kom kyk waarheen en verdwyn het nie.

As ek ondertoe gaan, loer sy oor die rand van die mandjie. En bly lê. Slegs as sy lus is om uit te gaan verwerdig sy haar om die trappe af te kom.

Maar as sy wil uitgaan, kom haal sy my. Kort blaffie langs my bed. Iets soos Kom! Dan sē ek net vra vir pappa om haar te kry om om die bed te hol en aan manlief se kant te gaan vra. Kom! Kom!

As hy vra of sy wil uitgaan, blaf sy een keer. Iets soos Ja. En draai om om te gaan. Sy weet hy sal volg. Die twee mannetjies is ‘n ander saak. Hulle kompeteer om my skaduwee te wees. En daarom geniet ek dit om met hulle wegkruipertjie te speel.

Dit is baie snaaks om te kyk hoe die breintjies werk.

Sy is terug in die kamer. Hol om die bed, staan teen die bed op en kyk.

Nee? Dan is sy seker in die badkamer. Hol badkamer toe om te kyk. Ek is nie daar nie. Ek staan in die donker deel van die aantrekkamer, waardeur hulle gehardloop het.

Terug in die kamer, by die kamerdeur uit. Trippel terug op die houtvloere.

Sy moet hier binne wees. Die spoor loop hier dood. Of soos ek spot, my voete stink seker. Die reuk is vars in die kamer.

Dan is hulle weer in die badkamer, deur die aantrekkamer en in die kamer.

En dan begin hulle somme maak. Sy moet hier wees. Wat van die aantrekkamer? En as hulle my dan kry, kry ek goed raas.

Of ek kruip agter ‘n gordyn weg, dit is die snaaksste van alles. Hulle kom ingehardloop, kyk vir die gordyn, maar dink nie ek is so simpel om daaragter te wees nie. Hol weer uit en kom weer terug. Tot een opkyk en my laggende gesig sien. Dan kry ek goed raas. En lyk hulle so bietjie skaam omdat ek wel agter die gordyn was.

My gunstelingding is om vinnig te stap, dan stap hulle vinnig voor my uit. En dan vlieg ek om en kruip in een van die kamers weg as hulle besluit ek is op hulle hakke. Dan moet die manne omvlieg en kom soek.

Langs die bed, in die kas, agter ‘n deur. Hulle kry my elke keer. Al moet ek soms roep as hulle besluit ek is beslis nie bo nie. Ek moet onder wees. En ek is nie lus om bietjie te wag nie. Hulle hou egter nie op voor hulle my gekry het nie.

Ek doen dit by die rivier ook. Speel te lekker wegkruipertjie. Dit is seker maar vir my lekker om te weet dat iemand my mis. My soek as ek nie by hulle is nie.

Sit ek op die stoel, slaap een op my voete en die ander een onder die stoel. Ek kan altyd net by my kyk om Shilo en Bekka te sien.

Bekka is ‘n Salt and Pepper Schnauzer en Shilo is Black and Silver. Ek het beide geteel. Dus is ek vreeslik trots op hierdie Schnauzers van my. BB is hulle mamma, hulle is kinders van verskillende pa’s.

En dit het ek in Kazakhstan gemis, besef ek elke dag weer en weer.

Ons het vreeslik baie opgeoffer om daar te wees.

Manlief het sy werk gehad om te doen en die man was besig.

Ek was op my eie aangewese.

Die ding is dat hulle sou gaan. Hulle papierwerk was reeds gedoen. Die betaling moes nog gedoen word. Sou ons R90 000 gekos het om hulle daar te kry.

Toe bied seun op die nippertjie aan om na hulle te kyk. Hy het huis gekoop en hulle kon by hom bly.

En dit het so goed uitgewerk. Ek het geen idee hoe ons die woefkinders so vinnig in Suid-Afrika terug sou kon kry nie.

Ek weet nou ek het soveel opgeoffer.

Ek het soveel gemis.

Die lagbekkies as hulle my sien, die gallop as hulle op spoed aankom as ek hulle roep, die gewilligheid om saam te speel en my elke keer te soek as ek laf raak om weg te raak.

BB het natuurlik nou die dag self wegkruipertjie gespeel. Sy was kwaad vir my of iets, toe gaan sit sy in die gaste toilet agter die deur. Of het sy haarself in die hoekie gesit?

My wegkruipertjie-maatjies …

Foto: BB sit haarself agter die deur in die hoekie, Shilo voor en Bekka agter. Bekka en Shilo raas met mekaar omdat Bekka vir Shilo gewen het op pad na my toe.

13 gedagtes oor “Wegkruipertjie met Schnauzers

  1. Hulle is regtig oulike hondjies, Judge Judy het ook een in haar regte lewe. En die bure oorkant het twee; hulle blaf met vreemde stemmetjies, amper soos ‘n hol huil.

    Liked by 1 person

          1. Judge Judy het al ‘n paar maal van haar hondjies vertel. Ek sien mense dra hulle en ook Yorkies soms in hulle handsakke rond in die Waterfront.

            Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.