Ek en spinnekoppe

Ek is doodbang vir spinnekoppe.

Of is dit was?

Want vandag loop ene so ewe langbeen oor my romp terwyl ek buite sit dat manlief ons selfgemaakte wors onder die bome langs die rivier kan braai. In plaas van gil en skop en slaan, het ek hom – of is dit ‘n haar – met die hand afgevee en verder gesels. Asof dit ‘n blaartjie was. Die ene het dun, fyn beentjies gehad.

Vroeër vandag het ek ‘n gordyn oopgetrek en gesien hoe ‘n swart gevaarte dwars oor die muur voor my hardloop. Agter die kantgordyn.

Ek het die gordyn gelos en omgedraai om verder skoon te maak. Onder normale omstandighede sou manlief alles moes los om te kom red. En sou ek nie slaap voordat ek die gevaarte ontdek het nie. En van die aardbol verwyder het nie.

Ek weet, daar is lesers wat nou vies sal wees omdat alle spinnekoppe nie gevaarlik is nie. My motto is egter dat ek nie eers gaan stilstaan en kyk en vra of dit ‘n gevaarlike een is of nie. Nie in my huis nie. Buite sal ek geen spinnekop skade aandoen nie. In my huis moes hy of sy van beter geweet het.

Dus dink ek ek het dalkies net my vrees vir spinnekoppe oorwin. Seker in die tyd in Kazakhstan wat ek een enkele daddy-long-leg gesien het mak geword vir spinnekoppe. Wonder wat is hulle naam is Kazakh of Russies. Of moet mens nie juis dan banger wees as jy hulle sien nie?

Ewenwel, ek het rede om vir spinnekoppe bang te wees. Sleg om te erken, maar my jonger sus het die goed in botteltjies gevang en my dan daarmee gejaag. Ek dink dit is waarom ek vir hulle bang is.

Hier by die rivier is massiewe spinnekoppe. En daar is ‘n storie omtrent die spinnekoppe ook.

So lê my seun een oggend op die bank en slaap. Hy was nog op skool. Seker graad 11 of so.

Hy het wakker geword van ‘n “vlieg” op sy been. Hy het deur die slaap daarna geklap, dit het soos ‘n vlieg gevoel wat op sy beenhare loop. En toe besef hy dit is dalk nie ‘n vlieg nie, want die ding bly daar. Hy het hom lam geskrik vir die spinnekop op sy kuit.

Nou moet ek eers vertel dat hy massiewe kuite het. Sy maats wil net weet waar hy dit gekry het. Dan spot hy hy is gekloon, want hy lyk nes sy pa. Ook so gebou.

Toe ek instap, sien ek die massiewe gevaarte op sy been. Hy wat daarna klap en die spinnekop wat koes. Plat trek teen sy been.

Ek het ‘n leeftyd se adrenalien opgeskrik.

Ek was te bang om te klap, seun het hom afgeklap en uitgehardloop, baie ontevrede met sy ma wat vra of hy ok is. En ek het doodgemaak. Vervlakste spinnekop.

Vandaar af is ek nog banger vir spinnekoppe.

Ons huis in die stad het ‘n trap wat opdraai na bo. En toe ek die een aand in die winter afstap, loop ek soos gewoonlik met my een hand wat so nou en dan aan die reëling vashou. Mens wil nie daar afval nie. En my japon se mou sleep dan so half oor die reëling soos wat ek vat en los en weer vat.

En toe sien ek die spinnekop op die reëling. Net daar waar my hand so pas wou vasvat. Ek het weggepluk en gesien hoe koes hy vir die mou. Plat teen die reëling.

Ek het die trappe afgevlieg, my japon uitgepluk om seker te maak dit is nie by die mou in nie. Die ligte aangesit, net om te sien dat ek my nie verbeel het nie.

Die spinnekop het ewe verwaand op die reëling bly sit. En toe ek naderkom, met my wegkruipertjie gespeel.

Ek dink dit was ‘n bobbejaanspinnekop (sien hooffoto). Maar dit kan seker eerder ‘n reënspinnekop wees. Beide is groot, harig en maak my bang.

As ek aan die een kant van die reëling kyk, loer hy tussen die krulle van die ander kant af vir my. Soos ‘n vervlakste bobbejaan. Ek kon sweer ek sien twee ogies naby mekaar.

En soos wat ek ver om die punt van die tralie stap, draai hy sy lyf ook so om die reëling om weg van my te wees. Dat ek hom nie kan sien nie. Die ding het ‘n verstand …

En dan lig hy sy twee voorpote waarskuwend s ek naderkom.

Ek sou nie die trappe op met hom daar nie. Nie met een wat my koggel nie.

Toe het ek maar die gif gaan haal en hom vanaf ‘n afstand bespuit totdat hy afgeval het. En op sy rug gaan lê het. Op die trap, met ‘n spinnedraad sy val gekeer.Sien hooffoto as bewys.

En steeds het ek hom nie vertrou nie.

Ek het op ‘n afstand gestaan, foto geneem en toe gesorg dat hy platter word.

Voordat ek dit gewaag het om hom op te tel en weg te gooi. Natuurlik nie met die hand nie.

Dit was ‘n hele paar jaar gelede. Ek sien April 2018.

Tog gril ek my steeds op as ek die trappe afstap. Kan ek myself nie sover kry om op daardie donkerder deel van die reëling te vat nie. Daar waar die lig van bo nie so mooi skyn nie.

Net vir ingeval.

En daarom is vandag se ek-is-nie-bang-nie vir my vreemd.

Daai ene is in die kamer langsaan. Steeds lewendig.

Miskien het ek myself nou weer bang gepraat.

Die spinnekop moet die huis verlaat.

Môre.

Vanaand gaan ek slaap.

En hopenlik nie van spinnekoppe droom nie.

Of erger nog, nie een op my been voel nie.

Toe moet ek eers oor die bobbejaanspinnekoppe gaan oplees. Het jy geweet hulle is primitiewe spinnekoppe in dieselfde klas as Tarantulas? Dat hulle tot 20cm groot kan word? Goeie genugtig. En dat hulle wel byt as hulle bedreig voel? Dit brand blykbaar vir dae. En dat hulle reg is om te byt as die voorpote gelig word? Ek het nogal gedink hy maak reg om aan te val.

Reënspinnekoppe se bene kan blykbaar langer as ‘n bobbejaanspinnekop s’n wees. En hulle byt ook. Die byt kan ook brand.

Ek sien nie vir een van die twee in my huis kans nie. My hart sal gaan staan as een op my been sit.

Ek het toe gaan slaap, opgestaan en aangegaan met my dag. S-innekop nou eers weer in my gedagtes. En ek is terug in die stad. Sal daar moet spuit om van goggas ontslae te raak.

10 gedagtes oor “Ek en spinnekoppe

  1. Ander aand een in die stort gekry, net biki groter as my oop hand………….iemand hier het staccato allegro crescendo gesing en ‘n ander een het verbaal gestotter in F majeur

    Liked by 1 person

      1. Ek het 40km alleen gestap langs die KNP, sonder geweer, tussen renostelikkedille en oliekrokkenostefante sonder vrees, toe teen die oewers van die Letaba in my slaapsak ‘n SPINNEKOP gekry en my hele ondergronde skuiling aan flarde gehardloop. Tydens Diensplig. Dieselfde man wat al ‘n groen boomslan by hom in sy slaapsak gehad het was toe band vir ‘n reuse, vreesaanjanende spinnkeop van sowat 8mm diameter. Die een in die stort was jurassic.

        Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.