Gepubliseer in Reisjoernaal

My 60ste sal ek nie lig vergeet nie …

17 Augustus 2020 was die een dag in my lewe wat ek so graag saam met my kinders wou vier. My 60ste verjaarsdag. Die Here het egter ‘n ander plan vir my gehad.

Die datum 17 Augustus gaan onthou word omdat dit die einddatum van die tweede inperking in Qazaqstan was. Ons kon uiteindelik na 6 weke se kos of medisyne koop, weer in die winkelsentrums ingaan. Op my verjaarsdag. In die week, naweke is dit buite perke.

Die datum 17 Augustus gaan ook onthou word omdat Suid-Afrika aangekondig het dat die oorskuif na vlak 2 op 17 Augustus om middernag sou geskied. Ek wonder of hulle nie weet dat die datum dan eintlik 18 Augustus is nie. Want 0:00 is nie meer die 17de nie. Ek aanvaar dit egter so, dit was my verjaarsdaggeskenk aan Suid-Afrika. En myselwers natuurlik. Daar moet by vlak 1 uitgekom word.

Maar ek wil eintlik oor my verjaarsdag vertel.

Die groot 60! Op 17 Augustus 2020. Maar eers oor ouderdom.

Toe ek 18 was, het Susan en Fritz Firzgerald, ons huisvriende, daarop aangedring dat ek hulle jy en jou en nie oom en tannie nie. Want, hulle is nie oud nie. Ek het by my opvoeding gebly, hulle is meer as 10 jaar ouer as ek, het al kinders gehad. Dit was dus oom en tannie. Buitendien, 30 was baie, baie oud …

Toe word ek 30 en 40 en 50 en nou 60. En steeds voel ek nie die baie oud wat ek aan die arme twee mense toegeskryf het nie. Ek is nie een van daardie mense wat sê vandag se 60 is toentertyd se 40 nie. Ek hou van my ouderdom, sal geen jaar wil teruggaan in die verlede om jonger te wees nie. Buitendien, ek wil nie verspot langs my dogter en skoondogter lyk nie.

Ek weet my kinders is gelukkig getroud. Ek weet ek het vier kleinseuns en ek weet ek is mal oor hulle. Ek sien hulle grootword en ek geniet dit om ouma te wees.

My dogter het gedink ek hou nie van oumawees nie omdat ek my uit my kassie vererg het vir skoolvriend wat my ge-ouma het op my 50ste verjaarsdag op Facebook. Eerste kleinseun was toe paar maandjies oud. Hom sommer ontvriend ook. Ek is nie sy OUMA nie! Maar ek is ‘n ouma en ek is ongelooflik trots op die vier klein woelwaters in my lewe.

So het klein middelste kind van dollatjie vir ouma ‘n video-nota gestuur. Om my geluk te wens. Ouma kom kuier asseblief. En bring ‘n geskenkie saam. Niks geluk nie, sy ouma was nou lank genoeg weg. Sy moet nou kom kuier.

Die Here het sy kinderstemmetjie gehoor. En sy wens is bewaarheid, ons kom nie net kuier nie. Die Here het ‘n uitkoms gebied. Ons gaan permanent terug. Om weer in al hulle skoolaktiwiteite te deel. Verjaarsdae daar te wees. Ons gaan ouma en oupa dag daar wees. Hoe kosbaar is dit nie? My hart was laas jaar baie seer, eerste een wat ek misgeloop het. En nou gaan ek daar wees, die datum is so pas bekend gemaak. Ek kan nie wag nie.

Oudste het ook een gestuur, regte ou staatmakertjie. Goed met die woorde. Sy ouma sien nog groot dinge vir hierdie oulike knapie. Ek mis die kind se geselsies baie. Ons twee kan kopstukke gesels.

En jongste het een vinnige iets gesê. Speedy Conzales, sy ouma het 10 keer geluister en is steeds nie seker wat dit was nie. Maar, ek gaan weer elke woord kan hoor as ek daar is.

Ons jongste kleinkindjie en seun se eersteling is skaars vier maande oud, maar hy het ook een gestuur. Pappa het die mondjie getrek met sy duim en die woorde gesê. Toe wil hy die vinger net kou. Die boodskap was egter duidelik, lekker verjaar ouma.

***

Manlief wou uiteet, ek het ‘n braai vir ons twee by die woonstel voorgestel, wat vreeslike pret veroorsaak het. Die hele liewe dag. Altans, die idee dat ons in ‘n woonstel braai, het vreeslike pret verskaf. Dit het so gegaan.

So, wat doen julle vandag?

Ons braai in die woonstel.

O, het julle ‘n stoep?

Nee, ons braai in die huis.

O ja, né, mens kan dit ook so doen.

Laaste een is my ma. Ek lag en sê dat dit nie rook nie, ons het ‘n elektriese braai. Manlief staan by die venster en braai, ons sit op die banke en stoele en gesels en so is dit amper soos ‘n Suid-Afrikaanse braai. Heerlik, sonder dat ons huis soos ‘n gerookte huis ruik. Want daarmee sal ek en manlief nie saam kan leef nie.

Soos toe ek jonger was, het ek gevoel dat ek ‘n rok moes kry. Die winkels was toe, maar die materiaalwinkel was oop. In die week. Dus het ek gaan materiaal koop en die romp en bloes self gemaak. Die bloes ongelukkig so bietjie knap gesny van ‘n ander een af, hy het minder rek as die ander een. Maar dit moes maar doen, ek dink dit het nie te sleg gelyk nie. Mis wel my aanpaspop baie as ek so in die vreemde klere moet maak. En my patrone.

Sondag het manlief ‘n groot bos gekleurde rose vir sy vrou gaan koop, ek moes dit net huis toe dra …

***

Ons twee het saam lekker kos gemaak en ek moes sorg dat aartappels gaar word, brood geknoffel word, lemonades staan om geuriger te word, groen slaai gemaak word, noedelslaai gemaak en bees- en hoenderbraai.

Intussen het almal gebel of video-boodskappe gestuur. En moes ek daar ook aandag gee. Lekker om die dag al die aandag op myself te hê. My vriendinne uit Suid-Afrika het gebel en lank gesels. Ek kan mos nie net kort knip nie, ek moet beplan. Dit het mooi beplan gekos om betyds klaar te wees.

Toe moet die hare gewas en platgestryk word en die oorbelle en hangertjie aangesit word wat manlief vir my verjaarsdag gekoop het. Ontsaglik mooi. Ovale wat oormekaar gevou is.

Hierdie paar oorbelle en die hangertjie is so lig dat ek gereeld moet voel of hulle steeds aan my ore is, op my bors hang. Lekker simbolies. 6 lyne van die ovale, met die nul daarbo. 60. Ekke. Kan dit eintlik nog nie glo dat ek nou ook daar is nie.

Ek het ‘n oproep van my dogter gekry. Sy wou weet of ek al na die video wat sy vir my gemaak het op Facebook gekyk het. Ek het nie, want ek het FB van my foon afgehaal omdat dit my lewe beheer het. Nou kyk ek net soms op my iPad. En met die huisskoonmaak en kosmaak het ek net my foon dopgehou. Dus staan ek die video en kyk.

Elke foto in my dogter se video het herinneringe aan saamwees gebring wat my hart gelukkig gemaak het.

Die kinders het 7 uur die aand gevideo-bel en vir my veels geluk gesing en grappies gemaak. Dit was so mooi en ek wou weer net huil. Sou so graag saam met hulle daar by die huis wou wees. Soos ons elke liewe verjaarsdag in ons gesin vier. Saam, by mekaar.

Toe braai manlief die wors braai wat ons self gemaak het. En laaste die steak. Wat genadiglik sag en lekker uitgekom het. Ons het ‘n blok sirloin by Metro gekoop en ek het dit in skywe gesny. Soos regte, egte Suid-Afrikaanse steak. Eerste keer in Kazakhstan steak geëet in ons eie huis. Ust’-Kamenogorsk verkoop vleis mos nie so nie.

Dit was ‘n regte, egte Suid-Afrikaanse ete vir ons twee in Kazakhstan. Die aand is afgesluit met die koek met 10 kersies op – een vir elke lid van my gesin. Toe ek blaas, blaas ek een kersie nie dood nie.

Manlief wou my in trane kry deur te sê dat dit kleinste kleinkind s’n is omdat ek hom nog nie ontmoet het nie. Dit was my eie het ek hom verseker en weer geblaas. Toe het ek nog nie geweet hoe gou ek my kleinkind sal kan gaan ontmoet nie, dus het ek amper gehuil.

Toe eers sê ek vir manlief dat hy – of ons dan – iets vergeet het.

Wat, wou hy weet. Ek wys aantrek en hy is sommer onsteld. Hy het vir my ‘n Kazakh baadjie gekoop om my 60ste in Kazahstan te vier. Is dit nie mooi nie?

Manlief het geen steen onaangeroer gelaat om hierdie mylpaal een te maak wat ek nie lig gaan vergeet nie. Hy is ‘n uitsonderlike maat. Ek is lief vir hom. Terug op eie bodem het ons die dag twee maande later weer saam gevier, saam met die kinders. Soos ek dit graag wou doen.

God het dit vir ons moontlik gemaak.

Dankie liewe Heer.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “My 60ste sal ek nie lig vergeet nie …

    1. Ag Appeltjie, en ek dink dit is erg dat mense wat ek as gaste na my verjaarsdag genooi het, twee weke later hulle ware kleure wys. En probeer om ons erg te na te kom. Ek het dadelik besef hulle is net pionne in die Here se hand, maar hulle het wolk oor my herinnering aan die dag gaan gooi. Ons het dit hier oorgevier.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.