Interessant hoe die twee stoute goed in ons lewens vrouename gekry het. Tropiese siklone en die idee dat wat ek aan ander doen soos ‘n boemerang na my gaan terugkom. Goed of sleg.
Toe ek op skool was, het ek geleer dat die verwoestende storms bekend as tropiese siklone vrouename kry. Op die alfabet af, een per letter. Dus iets soos Anna, Berna, Christa … tot die laaste een van die jaar benoem is. Die volgende jaar begin die proses van voor af, word ander name vir elke letter gekies. So kon ons uitwerk die hoeveelste storm van die jaar ‘n spesifieke ene was. Sonder om iewers te gaan soek.
Toe ek in matriek was (1978) gooi die bra-verbranders hulle speelgoed uit hulle kot.
Waarom kry die tropiese siklone net vrouename?
Dit is seksisties, die stelsel moet verander word. Amerika het die stelsel toe verander – ek kan nie onthou of ons sillabus aangepas is nie. Ons was in matriek, Geografie was my gunsteling vak. Ek skat dit moes een van die belangrike eksamenvrae geword het. Vir ons, of die groep na ons.
In 1979, toe ek op Tukkies geland het, spot die prof lekker met ons eerstejaar Geografie meisiestudente. Dit was ‘n stelsel, geen spesifieke vrou is beledig nie. Vanaf 1979 word die tropiese siklone se name steeds volgens die alfabet benoem, maar mans- en vrouename word afgewissel. Dus iets soos Anna, Bert, Christa …
Tog so polities korrek. Om diegene gelukkig te hou wat die kat aan die stert beet het.
Onkunde is ‘n nare ding. Veral as min leerders Geografie tot matriek neem. Toe kon mens egter ‘n ensiklopedie oopslaan om jou van die feite verwis. Dus geen verskoning vir onkunde nie. Toe was die slaagsyfer darem 50%, maar as jy van standerd 6 af net 50% van die vakinhoud geken het, het leerders teen matriek nie veel meer as 10% van die vakinhoud geken nie.
Ek het nie beledig gevoel omdat vrouename gekies is nie, dit was ‘n oulike stelsel. Die bra-verbranders het ons pret in die klas bederf. Ons kon die ouens nie meer bangpraat nie. Vervelig. Omdat onkundiges soms vreeslike vloermoere kan gooi. In plaas daarvan dat iemand – asseblief enige iemand – hulle op hulle onkunde te wys, buig almal die knie om aan die eise te voldoen. Ek het nie my bra verbrand nie, die verandering is op onkunde gebaseer.
Maar ek wil mos eintlik oor Karma gesels.
Die ander stoute ding wat ‘n vrouenaam het.
Moet eintlik stilbly, net-nou lees bra-verbranders hier. En dan word sy Kerneelsie.
Ek glo nie in Karma nie. Ek glo vas daarin dat die Here my lewenspad lei, bestuur en my soms so effens rofweg na die regte pad toe terugstuur. Altyd aaan die stuur van my lewe.
Ek geniet wel die gespottery oor Karma.
Karma kan oulik of stout wees. Sy is ‘n tweesnydende swaard. Karma verskil nie veel van ‘n Christelike perspektief nie.
Doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Behandel ander mense soos jy behandel wil word. Hoe dan anders? Die spreekwoord sē tog, wat jy saai sal jy maai. As jy dus saadjies saai om ander se toekoms beter te maak, moet jy nie verras wees as ander dit ook vir jou doen nie … Ek hou van hierdie kant van Karma.
Aan die ander kant kan Karma jou benadeel as jy ander benadeel. Sy word selfs as ‘n Engelse vroulike hond beskryf. Ek weier om daardie woord te gebruik. BB is my vroulike hondjie. Ek het geen idee waarom ‘n vroulike woef met nydige mense gelyk gestel word nie. Hoop dit is net omdat Karma jou byt as jy ander mense swak behandel. Maar weereens is Die vergelyking daar – Wat jy saai, sal jy maai … As jy saadjies saai om ander se ondergang te bewerkstellig, moet jy nie verras wees as ander dit ook aan jou doen nie …
Soms is dit reeds gesaai, dit hoef net water te kry om welig te blom.
Ek hou nie van hierdie kant van Karma nie.
Wat met my gebeur, is nie in die hande van mense nie. Hulle mag so dink, maar ‘n verrassing wag op hulle. Ek dink dit is erg om te weet dat dit in jou menswees ingebou is om ander te na te kom … Karma hoef dus nie namens my in te meng nie.
Ek het genoem dat ek die gespottery oor Karma geniet. Bloot soos ek die gespottery oor die name van die tropiese siklone geniet het.
Dus gaan ek wel nou saam spot.
Karma het my aan die hak kom byt.
Ek wou mos lag toe my kinders en vriende sê dit is koud toe dit 15 grade Celcius in Suid-Afrika was.
So, liewe blogvriende, towerinne, goue vroue, vriende en vriendinne, susters en kinders, ek sluk my woorde van ‘n maand gelede. Toe ek laggend kommentaar soos onder gelewer het:
Nee julle, 15 grade Celsius is nie koud nie.
Kom voel ons -38 grade Celsius, dan weet jy van koud.
Wel, dit is op die oomblik 13 grade Celsius by ons in Almaty.
Dit is vrek koud.
Dit is anders koud as in Ust, die bergwind kom van ‘n bevore hoogte baie, baie hoër as by Ust op ons neergedaal. ‘n Hoogte waarvan die sneeu nog nie in die somer kon smelt nie. Al was dit baie warm. Soms tot naby 40 grade Celsius. Daar was tot middel September nog sneeu op die pieke.
En toe ek middel September een oggend nat paaie sien en uitgaan om die berg agter ons af te neem, omdat ek aangeneem het dat al die vuil uit die lug gewas is, was die berg wit. Dit het op die berg gesneeu! Middel September – herfs het skaars begin!

Hierdie foto’s is ‘n week gelede (September 2020) geneem. Die sneeu het nie tot hier gekom nie, slegs op die hoogste gedeeltes geval. Ons woonstel is halfpad teen die berg op.
As die wind van daar bo af kom, maak dit my ysig koud as ek buite loop. Die huis is lekker warm, 10 grade warmer as buite, daarom is die verrassing groot as jy buite kom – sonder ‘n warm ding by jou.
Die koue sny in my blaaie in.
Dit skop teen my kaal bene vas, ek het gister weer dik sykouse aangetrek, wat gelukkig nog nie gepak is nie.
Ek was die een dag nog in bandjiesbloese en die volgende vinnig in my K-way baadjie in.
Dit het my – ja jy lees reg – gister in my winterstewels met dik wol aan die binnekant in. Met sykouse ook. En my voete het nie te warm gekry nie!
Dit is nou eers herfs. Nog nie eens een maand in herfs in nie.
Ek is dankbaar ek gaan huis toe. Sonnige Suid-Afrika.
Ek stap aan die begin van lente oor, 9 slapies as ek so vinnig tel.
Ek gaan ‘n hele winter misloop, want ek kry somer in die suidelike halfrond. Dan is daar eers weer herfs (wat warmer as lente hier is). En dan eers is dit winter, wat vergelyk met hierdie herfs se eerste maand.
Die son skuif nou teen ‘n spoed op die horison rond. Hy moet teen Desember op sy verste posisie van die aarde af wees.
Daarom gaan die kwik ook vinnig sak om die subzero’s teen November te bereik, sodat dit kan sneeu. Die dubbelsyfer subzero’s wat kenmerkend aan Kazakhstan is, is ongekend in my vaderland. Hoe salig is dit nie? Bykans ‘n jaar sonder winter …
Ek weet egter nou dat ek in die winter koud gaan kry. Daar is my huis binne kouer as wat dit buite is …
Hooffoto: Wolkekombers oor die pieke van die Alatau-berge agter ons.
Ek hou van hierdie sin van jou. “Om diegene gelukkig te hou wat die kat aan die stert beet het”
LikeLiked by 1 person
Ek wou dit graag beter stel, mar wil ook nie in die spervuur kom nie.
LikeLike
Spervuur se karma het sy adres! hehehehe Ek glo ook aan die leiding deur die Gees van God en nie in karma nie, maar soms is pragmatiese oorsaak en gevolg ook maar net wat karma is. Ons het al gekuier by mense waar dit nie onvanpas sou wees om ‘n orkaan te vernoem na hulle kombuispolitiek nie; daar is iets met naels daar binne wat koppies gooi en borde breek, nes ‘n orkaan. En dit sis soos ‘n kat. hehehehe. oor ‘n man wat weer die vuur te laat aangesteek het; ek is te lief vir vuurmaak en my liefie se koppies bly heel. dis hoe karma werk.
Geografie is mitiese legendes wat nie wes van Afrika verstaan word nie; mense daar weet self nie eens waar op die planeet hulle is nie en dus ook nie hoekom sommige wel bra’s moet dra nie.
Die dominee het in finale jaar katkisasie vir die fluisterende dames gese hulle gaan nie in die hemel wees nie. Toe Poekies vra hoekom, antwoord hy: “in Openbaring staar daar gaan ‘n uur stilte wees.”
LikeLiked by 1 person
O my jitte! Ja, kyk, dit is weer dei ander kant van die saak. Ons vrouens hou van gesels.
LikeLiked by 1 person
hehehe ja
LikeLiked by 1 person
Julle is amper verlos van die koue! Daardie koue winde klink vreeslik. Amper by die huis. Lekker uitsien. Dit gaan nou seker wild daar by julle! 💙
LikeLiked by 1 person
Dit gaan wild, maar meer omdat manlief al klaar gepak wil wees. En ek nog nie uit tasse wil leef nie. Ek sien so uit, dit maak nie eens saak dat dit nou effens ongemaklik raak nie.
LikeLike
Weereens stem ek saam met wat jy hier se oor karma – ek glo ook nie daarin nie, dis bogtery. Die koue het ook hier neergeplons, maar nog nie sneeu nie. Dis soos jy se, as dit nou so is, wat van January? he-he. Dis die afgelope 3 dae rerig onplesierig koud – ‘n windjie wat jou rerig byt as jy uitgaan – Vrydag het ek ‘n jas aangetrek toe ek uitgegaan het. Ek was net-nou uit, maar baie vinnig terug. 🙂
LikeLiked by 1 person
Ons temperature kom ooreen, gits jong, ek is vandag met dik rooi baadjie stad toe. Was heerlik, eers tuis gevoel hoe koud my arme bene is.
LikeLike