Van die eerste keer wat ons van Almalty lughawe na die stad gereis het, Januarie 2019, het die lang ry winkels langs die hoofpap op pad in stad toe my gefassineer. Mooi, met modernerige voorkoms.
In so mate dat dit een Sondagmiddag doodeenvoudig net ons uitstappie vir die dag geword het.
Ag mens, ek kan nie vertel hoe opgewonde ek was nie. Want sien ek het iets Suid-Afrikaans aan die winkels verbind. Dit was allesbehalwe wat ons verwag het. Inteendeel, ek skat ek moes nie so uitgesien het nie.
Dit is nogal ‘n stryd om by die plek in te draai, so reg van die hoofpad af. Ek kan nie presies onthou nie, ek dink daar is drie bane in elke rigting? Dalk twee? Maar ons ry mos aan die “verkeerde” kant van die pad, dus moet ons vir die aankomende verkeer wag om in te draai.
Die een massiewe gebou huisves Skif, wat ‘n groot afslagwinkel blyk te wees. Lus vir ingaan was ons nie, want hier is baie groot supermarkte, nie soos in Öskemen nie. Ons was nie lus vir kos koop of so iets nie, ons wou verken.
Toe die nood druk, is ek wel in die Skif gebou in om ‘n toilet te soek. En toe moes ek al geweet het dat ons in is vir ‘n verrassing, hierdie is nie ‘n inkopie paradys langs die hoofpad nie. Inteendeel …
So ontdek ek in die splinternuwe gebou die eerste hurk om in die gat water af te slaan toilet in Almaty. Nee, die tweede een. Ek het laas jaar Junie vertel van die een by die verkeersafdeling.
En ek wonder regtig oor die veerkragtigheid van die dames hier. Ek sukkel werklik met die hurk deel, maar veral met die opstaan. En … ek beskou myself glad nie as oud nie. Dan moet ek ook nog betaal vir die twyfelagtige voorreg. Goed, nee wag, dit is een hengse voorreg as die nood druk.
Die kraan by manlief se toilette was snaaks gedraai en het vinnig gespuit, sy hele voorkant van sy kortbroek waternat. Dus was hy ook nie vreeslik gelukkig oor die toilette nie. Dit was baie warm, sy broek het darm gou droog geword.
Die winkels self was ‘n teleurstelling. Ek weet nie of dit die pandemie se skuld is nie, maar alles is buite. In die son. In gangetjies tussen die geboue, so op die grond.

Ons kon gebruikte potte, panne, deksels, lepels en ek weet nie wat alles koop nie, so van die grond af. Ons koop so min as moontlik goed aan, ons is so bietjie van opgaarders. Volgens my dogter dalk baie? Wat ons koop, gaan ons waarskynlik wil saamneem huis toe. En dit gaan nie goedkoop wees nie.
Dus koop ons min, baie min aan.
Ons kon ook geroeste skopfietsies, speelgoed en fietse koop. Gebruikte gereedskap en ek weet nie wat alles nie.

Kyk mooi na die geboue, dit is regtig pragtig. Ek dink dit is waarom ek so vreeslik teleurgesteld was.
Die een massiewe gebou was in stalletjies ingedeel in die binnekant. Vir motors en die regmaak daarvan. Hoër op, met trappies op, kon ons ons motor laat regmaak in een van baie stalletjies. Wat in groot geboue geskep is. So in die teenoorgestelde pool van Skif.
Daar was matte, sakke en dies meer. Noudat ek daaraan dink, daar was wel mooi skilderye so teen die muur van ‘n wegneemete plekkie staangemaak wat manlief se aandag getrek het. Ons kan nie koop nie, die mure van hierdie woonstel is nie van baksteengemaak nie, dit sal nie gehang kan word nie. Geraam.
Dalk moet mens dink aan koop sonder ‘n raam?
Ons wou winkelvensterinkopies doen. En dit was nie lekker so buite in die son nie. Want die stoepe was nou winkels.
En nou besef ek eers hoekom dit so ‘n teleurstelling was.
Ek het verwag om iets te kry soos ‘n winkelsentrum buite die stad, jy weet? Daardie wat op die hoofpad tussen Durban en die Suid-kus is. Of ‘n winkelsentrum soos die een in Welkom, alles op een vlak, waar jy van deur tot deur kan stap met uithangborde van Clicks en apteke en gesondheidswinkels (nie dat ek daar koop nie) en koffiewinkeltjies en tuisgebakwinkels. ‘n Kentucky of so?
En … in die koelte op die stoepe kan loop. Nie in die warm teerstraat met die verkopers op die stoepe nie. Kan ook nie nader loop nie, dan hoor jy net Zdrastwietjê (goeiedag) en blah blah blah wat ek nie verstaan nie.
Toe kry ons iets tussen ‘n vendusie en ‘n vlooimark en ‘n mark, ‘n Qazaqmark.
Daar was kosstalletjies, met stalletjies wat vrugte en groente in die hitte van die dag verkoop.
Ons lus vir verder stap was egter geblus toe die vrouens langs die vrugte en groente ons nader probeer roep. En wit doeke oplig waaronder opgekapte vleis lê. In die hitte van die dag. Dit was so 32 grade Celsius die dag.
Die reuk van varsgeslagte vleis om ons, oor ons en langs ons was vir ons een te veel.
Toe kyk ons nie verder nie.
Daar mag dalk ‘n juweel wees, daardie juweel gaan ek nie soek nie. Dalkies sal ek weer gaan as die inperkings verby is, maar ek het in een van die winkeltjies ingestap. Dit is skaars drie meter diep, dus weet ek nie wat van die spasie van die winkels geword het nie.
Of wel, ek kan raai? Dit is net drie meter diep, want die sye van die geboue het ook verkoopplek.
Mens kan in die gangetjies afstap en dan is daar openinge wat as deure dien vir verkopers, so in die gangetjies in.
Uitry sal ons seker nie weer nie, verlangend daarna staar ook nie weer nie.
Ons is gewoond aan Ust se vars markte, waar groente en vrugte ook buite onder sambrele en in opslaangeboutjies te koop aangebied word.
Maar vleis word nie so buite in die son verkoop nie.
Of wag?
Ek het mos al vertel dat mens Saterdae jou vleis by die Fresh Market so buite kan koop. In die winter. Vleis moet koud en reukloos wees om my te trek om nader te staan om te koop. Dit was egter in die winter, met die bevrore aarde wat as genoeg koue vir die vleis gedien het. Ek wou verkluim … die vleis was seker koud genoeg. Ons kon egter nooit ons vleis so gaan koop nie … Het die tafels binne die gebou verkies.
Ek dink nie ons gaan weer daar ‘n draai maak nie.
Maar wie weet? Dalk raak ons tog weer nuuskierig.
Wat ‘n antiklimaks. Klink soos die vlooimark wat ons in Zambië besoek het. Dáár was die vis so toe onder die vlieë…dit het ons ‘n ruk gevat om agter te kom daar lê visse!
LikeLike
Was nogal, ons soek ons vleis soos in ‘n slaghuis …
LikeLike
Ai tog, klink half 3de werelds! Of wag, nee SA is mos 3de wereld?
LikeLike
Lag ek nou lekker vir die Suid-Afrika deel. Jy weet, ek dink is ook maar net ons in die stede en dorpe wat van slaghuise weet. Maar ek mis dit regtig baie hier. ‘n Slaghuis. Bekende snitte.
LikeLike
Been there, done that, nè. 😁 Maar die toilette.
LikeLike
Ek sukkel om daaraan gewoond te raak, maar, die toilette in die stad is soos ons ken.
LikeLiked by 1 person
When in Rome….. as ‘n mens moet, moet mens seker maar. Maar dit sal ‘n groot aanpassing wees.
LikeLike
Dit is nogal baie moeilik …
LikeLike