Ons is verlede jaar na ‘n Qazaq-troue genooi, die huwelik van een van die dames wat vir manlief in die kantoor werk. Ek is baie lief vir haar, sy is altyd vriendelik as sy my sien, keer my op straat voor en gesels met my in Engels. Hoe lekker is dit nie?
Ek wou al so lankal hierdie artikel doen, maar daar is soveel om te vertel dat ek elke keer nie genoeg tyd vind om te begin skryf nie. En nou is sy siek. Het by die huis flou geword en haar kop gestamp en is sy in die hospitaal vir waarneming weens die hoofpyn as gevolg van die stamp. En die duiwel is mos maar listig, mens dink dadelik aan Covid-19.
En skielik is dit dringend, ek moet vertel van haar troue. Die eerste een waarheen ons genooi is. Ek dink nie ons gaan weer genooi word nie, of wag, die tolk moet nog trou. Ek dink net nie hy gaan die knoop so vinnig deurhaak nie. Daarvoor is sy Natalia nog nie gereed nie – dink ekke.
Ewenwel, laat ek dan begin met hoe die tradisie hier werk. Ek het opgelees en opgelees en elke keer minder verstaan. Toe vra ek haar sommer self, lankal gedoen, net gou weer die e-pos opgespoor.
Daar is drie fases van die huwelikstradisie.
Sygra Salu, of die eerste partytjie, vergelyk volgens Dinara met ‘n verlowing. Hierdie partytjie word ses maande tot twee weke voor die tweede partytjie gehou. Die ma van die bruidegom kom na die bruid se huis met oorringe. Agt tot twintig mense word genooi en die twee groepe deel dan geskenke uit. Vrouens kry gewoonlik goue juweliersware en die mans kry pakke klere of klere om buite te dra. Die toekomstige bruid dra dan oorbelle om aan te toon dat sy nou verloof is. Vandag dra alle vrouens oorbelle, getroud of verloof of nie, maar hierdie ou Qazaq-tradisie bly staan. Die toekomstige bruid dra oorringe op hierdie funksie om aan te dui dat sy nou verloof is.
Kyz Uzatu word as die bruid se troue beskou. Sy nooi 80-100 people, waarvan 80% gewoonlik familie en vriende van die bruid se ouers is, en min van die bruid se vriende word genoou. Die bruidegom mag 20% gaste nooi, bestaande uit sy naaste familie. Aan die einde van die partytjie word wit materiaal uitgerol, wat ‘n wit pad na die bruid se toekoms simboliseer. Die bruid stap op die wit materiaal af na die bruidegom se familie wat haar toemaak en na sy huis neem.
Ons is na die derde partytjie genooi. Dit is volgens Dinara die troue. Dus kan ek meer van die deel van die troue vertel. Soos wat ek verstaan het, bied die bruidegom se familie die troue aan. En glo my daar was baie mense en die fees is groot. En die bruid kan by hierdie partytjie minder gaste nooi.
Die troue. Almal moes in die saal wees voordat die bruid opdaag. Die saal was baie mooi versier en haar strooimeisies het rondgestap en goed reg gekry.
Toe almal in die saal is, het die strooimeisies die wit tentagtige raam voor die deur gesit. Musiek het gespeel en ons het geen woord verstaan wat die seremoniemeester gepraat het nie, want hy het Qazaq gepraat. Ons tolk het nie eers alles verstaan nie. Die mense het toe lekkertjies op die vloer voor die wit tent gegooi. En ons kon optel en eet, so het die vrouens vir ons gewys.
Die meisies het die tent toe in die vertrek ingedra en toe voor hom gedans.
Ek vertel gereeld dat daar nie groot verskil in Russiese en Afrikaanse musiek is nie. Ek is nie seker of hierdie Qazaq is nie, sal seker wees, want alles was in Qazaq op hierdie troue. Ek vertel ook gereeld dat ek hier baie goed inpas met my donker vel en donker hare. Kyk maar …
Toe gooi hulle ‘n lang wit lap oor die vloer en maak die tent oop. Die bruid het in die tent gestaan, ek is bly ek is nie sy nie, dit was behoorlik warm. Terwyl sy nog binne gestaan het, moes mense geld op die stoel gaan neersit (eerste foto onder).
Terwyl sy so in die tent gestaan het, het die seremoniemeeester baie gepraat en die mense uitgenooi om nog meer geld op die stoel te sit.
Manlief wou dat ek gaan neersit, maar ek het geweier. Toe gaan hy en almal staan verstom.
Hy mag nie, en hoe moes ons dit weet? Dit beteken haar mense sê sy kan maar gaan. Sy mense moet betaal om haar te kan kry, haar mense moet eintlik keer. Ander foto’s hierbo aan die kant van bo na onder. Ons twee, drie van die dames wat saam met manlief werk en ons vier Suid-Afrikaners. Daar was verskeie danse, baie soos ‘n massiewe konsert. My vriendin het dit ‘n extravaganza genoem en ek kan nie aan ‘n beter woord dink nie.
Elke nou en dan is ‘n tafel na die baan genooi en dan het elkeen sy storie oor die twee vertel. Sommiges het gesing, ander het gedigte opgesê en dan het die groep gedans. En is ons na die dansvloer gedruk om saam te dans. En gekeer om weer te gaan sit. Toe word ons tafel genooi om self te gaan staan en praat en te dans en te gaan sit.
Ek het al van die dansery vertel. Die oompie wat vir manlief uitgedaag het op die troue toe hy weer met my wou dans. Tussenin het meisies in rooi en geel gedans.
Die stukkie kos in die regterkantste onderste hoek is by ons tafels bedien. Ek wou nie eet nie, was bang dit is perd. Ek is oortuig dat dit nie is nie en dit was die slegste iets wat ek nog ooit geëet het. Of liewer, in my mond gehad het. Dit het teen my verhemelte vasgeplak, geproe soos ek dink gebreide vel kan proe as dit ‘n rukkie in die son bedompig geraak het. En ek kon nie keer nie, dit is in my servet uitgelaat. Baie koeldrank kon dit nie wegvat nie, ook nie vrug op vrug op vrug nie. Wat dit was, weet ek nie. Hoe dit lyk sal ek nie vergeet nie …
Nog foto’s: Kyk hoe mooi glimlag sy vir my. Sy het my tussen al haar gaste uitgesoek voor sy gaan sit. Ander foto’s: Die dans, koeksny en die bruidspaar staan vir my vir ‘n foto voor hulle by hulle tafel gaan sit.
Dinara en haar man is beide Qazaq, hy praat Qazaq en Russies en is besig om Engels te leer. Haar Engels is baie goed. Dus gesels ons altyd lekker. Sy is ‘n sagte, liewe vrou wat sag praat en altyd glimlag. My soort vriendin, sy gee vir mens om as sy jou vriendin is.
Ek hoop die paar video’tjies gee ‘n idee van die aand, ek kon net grepies daaruit neem, ek moes self kyk en nie deur ‘n kamera nie. Nou is ek half spyt …
En so word die koek so dansend ingebring.
Dit was ongelooflik interessant om te lees. Seker ook lekker om dop te hou as gas! Hoe gaan dit nou met haar?
Is die egskeidingsyfer en gesinsgeweldsyfer laer daar as in SA? Ek hoop inniglik so!
Baie dankie vir die deel!
LikeLike
Snaaks dat jy vra, Gedigte. Sy is nou amper ‘n jaar getroud. En dit gaan goed.
LikeLike
Dit is baie interessant, dankie.
LikeLike
Dankie, Anne, ons het dit baie geniet.
LikeLike
Dit klink na ‘n vreeslike gedoente Christa.Die danse en die kostuums is awesome. Jy het die mees interessante avonture daar in die vreemde.
LikeLike
Dankie, Hester, ons was baie geëerd, die troue is hoofsaaklik vir familie en sy moes mooi kies om ons in te pas.
LikeLiked by 1 person
Baie interessant, en mooi. Lyk soos ‘n vertoning.
LikeLike
Wouw dit moes ń fenominale ondervinding gewees het, wat ń voorreg.
LikeLike
Haai dankie, Trommeltjies, dit was. Al verstaan mens net mooi geen woord nie, mens kan feesvier sonder om te verstaan. My man se toespraak moes so sin vir sin vertolk word.
LikeLike