Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Stoepbraai op ‘n afstand in grendeltyd in Qazaqstan

Kyk, ek gaan nie sê dat ek nie oor die grendeltyd in Öskemen hartseer is nie.

Ek is hartseer en regtig baie.

Ons kom so pas uit ‘n baie koue, wit winter waartydens dit vir vier en ‘n halwe maand lank te koud buite was om buite te stap vir die pret, toe dit selde warmer as -11ºC buite was. En baie keer was dit tot -38.

Bedags. Daarom het ek dit verkies om in die huis te bly. Dit is bo-menslik koud as dit so koud is.

Sedert begin Januarie 2020, toe dit nog verskriklik koud hier was, het die SARS-CoV-2 virus langsaan in Sjina amok gemaak, baie mense siek gemaak en Qazaqstan het dadelik gereageer deur sy grense met Sjina te sluit.

Geen busse of treine is sedert einde Januarie toegelaat om tussen die twee lande te beweeg nie. Qazaqstan moes homself beskerm.

Intussen het dit teen einde Februarie daagliks warmer begin word en kon ek naderhand buite stap sonder om te val of te verkluim. Die sneeu het nog dik gelê, maar dit was warmer buite.

Ons was die eerste naweek van Maart nog in Almaty vir ‘n hele paar dae, sonder probleme.

Die dag toe ons terugvlieg, het iemand die virus in Qazaqstan ingebring. Van Europa se kant af. En veroorsaak dat Almaty onder kwarantyn geplaas is.

In Ust kon ons nog buite stap, die gevalle was 1000 km van ons af. Maar die vrees het ingeskop soos wat die virus ‘n pad van dood saam met hom gevat het waar hy in Amerika en Europa vasvatplek gekry het.

Ek het myle van mense geloop wat van vooraf kom.

My gesig weggedraai as hulle naby is.

En groot draaie om rokers geloop. As die virus oorgedra kan word terwyl mense praat, kan dit beslis ook oorgedra word as ek ‘n roker se rook inasem, dit voel net logies. Die rook wys dan vir my hoe ver sy asem uitgeblaas is. En die rook wat ek sien, is groter molekules as die virus, dus versprei die virus selfs verder as wat ek kan sien.

Toe word Covid-19 uiteindelik as ‘n pandemie verklaar en word Qazaqstan se grense gesluit, dit was so middel Maart. Die skole moes onmiddelik na afstandonderrig oorskakel, maarvons was nog nie ingeperk nie.

Twee weke gelede het die gerug begin dat ons stad volgende is om gekwarantyn te word en die Vrydag is dit ampelik aangekondig.

Toe een tannie hier aan die Covid-19 siekte gesterf het.

Nou mag ons nie naweke met ons motors ry nie. En in die week mag jy elke tweede dag uit om kos en medisyne te koop. Ons mag op die ewe getal dae van die maand, onewe getal dae moet ons binne bly al is daar nood.

Ons mag in elk geval net uitgaan as dit noodsaaklik is, die dae deel die stad se bevolking net in twee helftes om minder op straat te hê.

En skielik was ons vas.

Ons het naweke in Dusty geklim en die wêreld verken, nou moes sy in die motorhuis staan. En ons mag beslis nie uit die stad uit nie.

In die winter het ek tuis gebly omdat dit buite te koud was om te stap. Nou moet ek in die lente in die huis bly omdat ons almal saamwerk om die virus te bekamp. Vir hoe lank kan niemand sê nie.

Probleem is dat ons in ‘n woonstel bly. En ons huis is 7 vloere bo die grond. In Suid-Afrikaanse terme op die sewende vloer, hier is dit die agtste vloer omdat die grondvloer die eerste vloer is.

Hulle lag vir ons, grondvloer moet dan onder die grond wees?

Maar, ons is nie so gebonde soos ander mense nie.

Ons het ‘n oop stoepie, wat ons amper laat toebou het omdat die winter so onmenslik koud word. So koud dat die deur van ons kamer aan die binnekant vries, soos ‘n vrieskas s’n, al het ons sentrale verhitting.

En steeds word dit warmer, dit is lente, al voel dit soos Suid-Afrikaanse winter.

Gelukkig is dit vaal en lelik buite teen die pragtige somer, herfs en winter.

Mens is dus nie regtig lus om by die venster uit te staar nie …

Gister is ek lus vir braai, haal wors en sosaties uit en kry alles reg, aartappelslaai en tamatie en avokado vir slaai ook.

Maar, sê ek vir manlief, ons het nou klaar op die elektriese braai in die kombuis op die tafel gebraai.

Vandag gebruik ons weer ons stoepie om te braai.

In die winter kan ons nie, op die stoep vries alles byna dadelik as dit -15 is. Dit is na alles so koud soos ‘n vrieskas.

Nou kyk, nou moet ek eers weer van ons stoepie vertel. Mens kan op die hooffoto ‘n idee kry van presies hoe klein die stoepie is.

Dit is nie meer as een tree breed nie en nie meer as vier treë wyd nie en dit staan uit die gebou uit, soos in aangelas. Ek raai dit is later gedoen.

Aanvanklik wou manlief niks weet dat ons op die stoepie staan nie, maar dit het gewys dat dit my en sy gewig kan dra. En op die stoepie het ons laas jaar dikwels gebraai.

Ek wil net buite wees sonder om ingehok te voel.

Buite met ‘n tweeledige doel, om kos te maak, maar ook om buite te mag wees sonder om in die moeilikheid te kan wees.

So sit ons tweetjies eers af garage toe, na vyf, toe sy werksdag verby is. Want sien, hier gaan werk ook aan, dit word net van die huis af gedoen.

Die piepklein ronde braai, wat soos ‘n miniatuur Weber lyk en die houtskool en aanstekers was in Dusty se garage, ons het dit sommer daar gelos omdat ons later lui geraak het as ons met haar uit die stad is om braaiplek te gaan soek.

So sit ons tweetjies gister op ons babastoepie en braai.

Hy met ‘n bier en ek met ‘n heerlike pomelo tee. Dit was nie warm nie, dus het ons baadjies aan en langbroeke en kouse, ons loop mos nie hier met skoene in die huis nie. Manlief het probeer, maar hy is gou aangesê om die skoene maar uit te trek (foto).

En ons geniet die reuk van braaivleis op ‘n regte, egte vuur.

Ek is in om die aartappels dop te hou, en toe ek terugkom, sê manlief ons buurman bokant hom het vir hom ‘n duim-op gestuur. So deur die venster.

Nou moet ek eers verduidelik hoe ons woonstel werk. Dit is soos ‘n L, met die tweede slaapkamer in die kort deel van die L (eerste en laaste foto eerste ry foto onder). Hierdie venster van die bure bo en onder ons kyk dus op ons babastoepie.

Die punt van die L is die hoofslaapkamer wat op die stoepie uitloop. Die pensgedeelte is die sitkamer wat op die berg uitkyk, tussen die stoep en die spaarkamervenster (middelste foto boonste ry). Die badkamer en voorportaal is aan die agterkant van die kombuis-sit-eetkamer. Dus is daar ‘n groot afstand, beslis meer as twee meter tussen die spaarkamervenster en die stoepie. Veilige afstand. Sosiale afstand. Ons braaivleis, bestaande uit tuisgemaakte wors en sosaties, twee goed wat ek nie in SA gemaak het nie, was op die kole (groot foto van ses bo).

So van die buurman gepraat, ek het weer tee gedrink en gedog manlief jok, want daar was niks.

Ek is terug om slaai te maak en toe ek terugkom, staan ons buurman bokant ons kaal bolyf in sy venster, die venster oop, lig sy drankie, waarskynlik ‘n Vodka, en prost!

Die vrou van die woonstel onder ons maak ook haar venster oop en lag saam met ons. Op die foto waarop manlief is, staan sy nog agter ‘n toe venster.

So vier die twee Qazaqs die koms van die lente saam met ons, om ‘n Suid-Afrikaanse braaivleisvuur, agt verdiepings in die lug, so op ons grendeldag in ‘n vreemde land waar ons mekaar se tale nie verstaan nie.

Wat ‘n vreemde gevoel van samehorigheid het dit geskep.

Ons en hulle verstaan mekaar glad nie, maar uit handgebare en lyftaal en glimlagte het ons geweet dat hulle nie kwaad is oor die bietjie rook nie, maar getrek word deur die reuk van Suid-Afrikaanse wors op ‘n braaivleisvuur.

Wie kan daardie reuk weerstaan? En vies wees daaroor?

Later vertel ek vir my dogter dat ons ge”high five” het en sy wou dadelik weet of ons mekaar se hande geraak het.

Is dit nie oulik nie? Ek is die een wat die hele tyd seker maak hulle is veilig. Nou maak sy seker ons is.

‘Nee,” laat weet ek, “ons het nie.”

Daar is een massiewe afstand van seker 4 tot 6 meter tussen ons stoep en hulle vensters. Buitendien, hulle is een vloer bokant en een vloer onderkant ons.

Veilige sosiale afstand word gehandhaaf, want ons gaan, wanneer ons grens en Suid-Afrika s’n oop is, huis toe om te gaan kyk hoe ons nuwe babatjie in die familie lyk. En om my drie ander kleinkinders te sien.

En ons sien so baie uit dat ons oral ‘n veilige sosiale afstand handhaaf.

Ek klim nie eens saam met ander inwoners in die hysbak nie.

Hooffoto: As mens na die grootte van die aircon kyk, kan mens half vesrtaan hoe klein die stoepie is …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

23 gedagtes oor “Stoepbraai op ‘n afstand in grendeltyd in Qazaqstan

      1. Ons het baie keer buite tafel gedek en by kerslig geëet. Ons mag nie braai hier nie. Het Januarie 2018 laas gebraai. Dis erg.

        Like

        1. Oe dit is erg, Pete, ons sal beslis uitry en iewers gaan plek soek om te braai as ons nie mag nie. Buite by kerslig eet? Hmmm, dalk moet ek daai ene een aand doen – ons sal net baie laat moet eet want dit is al amper agtuur en die son is nou net onder. As ek te lank wag, gaan die son tienuur nog steeds helder skyn.

          Like

          1. In die somer raak dit son 9nm donker hier. Ons kan nie uitry nie, het nie plek vir ‘n motor nie.

            Like

          2. En in Suid-Afrika kan mens nie waag om ‘n taxi te vat nie. Hier kan ons taxi vat net waarheen ons wil gaan. En veilig daar kom en huis toe gaan. Dit is een ding wat ek gaan mis as ons teruggaan, die veiligheid om my.

            Like

          3. O, ons ry met MyCity en die Quantumtaxi’s, maar ‘n rassistiese, buitelandse Uberbestuurder het my eendag probeer doodry en gedreig on my dood te maak. Ek bly dus van hulle af weg, ver weg.

            Like

    1. Dankie, Gedigte, dit is half maklik as almal om mens nog gesond is. Ek bid net dat die Here ons genadig sal wees dat die navorsers ‘n kuur vir die virus sal kan kry. En ek kry een massiewe gly in alles wat van Sjina af kom. Ek glo dat ek in die vervolg eerder duurder sal betaal as om die Sjinese ekonomie te ondersteun.

      Like

      1. Daar word oral in die nuus gesuggereer Sjina het die nuus van die nuwe virus weggesteek. Dit maak dat ‘n mens voel jy kan hulle nie vertrou nie. Lees gerus ook op oor hoeveel lande se leiers het die inligting oor die virus geïgnoreer. Dit is skrikwekkend.

        Like

        1. Ai Gedigte, ek volg dit al vandat ons in Januarie van SA of teruggekom het. Binne ‘n kort tydperk is baie mense met die siekte gediagnoseer, en ek vermoed Sjina vertel nie die hele storie nie. Dat daar steeds daagliks baie mense is wat sterf. En dat hulle lieg om hulle ekonomie te laat optel. Wel, as ek nie hulle produkte koop nie, sit hulle met ‘n oorskot produkte wat nie verkoop kan word nie. En dit sal ek doen tot SA se ekonomie weer op sy voete is.

          Like

          1. Ek stem saam, Gedigte, en daar is goed wat pla. Amerika en sy bondgenote kry swaar, Sjina se bondgenote kom baie lig daarvan af. Wens ek het nie Geskiedenis op skool geswot en so baie daarvan gehou nie. Dit maak nie vir my sin nie. Wat ook niue sin maak nie, is dat ons nie weet hoeveel van die 60 miljoen Sjinese wat in ander lande bly aangesteek is nie. Ek moet weet.

            Like

          2. Ja. Dit is alles vir ons weggesteek. Gister het iemand Sjina se hand in die WHO gesuggereer en beweer dit is hoekom die WHO so stadig gereageer het. Iemand anders beweer Sjina het inligting weerhou en die WHO mislei.
            Ag, in elk geval, sterkte en mag God ons almal wat onskuldig in hierdie gemors is, beskerm! ❤❤❤

            Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.