Gister het ek vertel van sago-poeding en dit het my teruggevat na my kinderjare. My ma het ons s’n met applekooskonfyt gemaak. Ek kan nou nie presies onthou hoe die resep gewerk het nie, maar ek het skielik lus gekry om appelkooskonfyt te maak.
En ek weet, mense wat my ken sal dalk giggel, want dit is April, die sneeu het na bykans vyf wit maande gesmelt, maar dit is sommige dae nog koud genoeg dat dit weer sneeu. Hierdie tyd van die jaar is appels te koop, lemoene en as mens gelukkig is, kan jy ;n pynappel ook te koop kry. Maar nie appelkose nie.
Dit, is egter geen probleem as jy in Qazaqstan bly nie, want baie van die vrugtes is in bevrore formaat te koop. Soos appelkose. Agterop die pak staan dat mens soveel moet uithaal as wat jy kan eet, in ‘n toe bak moet laat om te ontvries en dan binne 24 moet eet. Dit het ek gedoen en ek en manlief was nie te gelukkig met die resulate nie. Dit was effens verkrimpeld, wat die gedagte aan ou vrugte gee en dit was effens te suur.
Maar, die skilletjie was op en dit het my aan my kinderdae herinner toe ons vir ma die appelkose moes halveer, pitte uithaal en skoon was. Want sy het dit ingelê of in konfyt verander vir die maande wat daar geen appelkose te koop id nie. Ook nie in ons boord nie, daar het ‘n paar soorte vrugtebome gestaan.
Vir konfytmaak was ek egter nie regtig lus nie. Ek onthou dit as ‘n lang, taai proses. Groot potte wat op die AGA staan en prut, taai sous wat mors as mens gou proe wanneer ma nie kyk. warm stoof wat vingers kan brand as jy nie kyk wat jy doen nie. Seer maag as jy te veel van die warm konfyt geproe het.
Hemelse konfyt met die velletjie wat stuk-stuk geproe kan word. Soveel anders as gekoopte konfyt. Soveel lekkerder dat ek gereeld met gekoopte konfyt teleurgesteld is as dit by plaasstalletjies gekoop is. Soveel lekkerder dat ek nie konfyt koop nie. Maar, manlief het ‘n soettand wat van konfyt op sy roosterbroodjie hou.
So speel ek vandag met die gedagte om die bevrore appelkose te ontvries en in konfyt te verander.
Ons kry sowaar hier en daar iets in Engels op die rakke die afgelope ruk.
Gedagtes wat dan mos nie weer wil laat gaan nie, dit broei dan juis van gister af in my onderbewuste. Ek is nos nog lus vir sago-poeding ook!
Dit was ook nie te moeilik om ‘n Thermomix resep op te spoor nie. Een vinnige soektog en ek het drie gehad om van te kies. Dus het ek ‘n resep, ek weet hoe die konfyt moet lyk as dit gaar is, kan onthou dat my arms as kind lam geraak het van met die houtlepel roer en roer en roer dat dit nie vasbrand nie. Ek was gereed vir die avontuur. Hier is die resep wat ek aangepas het om by ons smaak te pas.
Bestanddele
- 1000 g gehalveerde, ontpitte appelkose (bevrore by Metro, 1 kg)
- 200 g suiker (kan meer gebruik vir soeter konfyt)
- sap van twee kleinerige suurlemoene
Metode
- Meet die appelkose in die maatbeker in
- Meet die suiker in die maatbeker in
- Meng vir 10 sekondes vinnig op nommer 9
- Stel die masjien as volg op: Tyd = 60 min, hitte = Veroma; spoed = 2; omgekeerde lemme
Ek het gevind dat die konfyt na 40 minute gaargekook en gereed was, dus het ek afgehaal. Ek het bevrore appelkose gebruik. Dit is moontlik dat vars appelkose langer gekook moet word.
En so lyk die konfyt as dit mooi gekook het.
Die kleur is mooi en die skilletjies het daardie suurderige, growwerige tekstuur aan die konfyt gegee.
Wat ek dan more moet doen, is om ‘n vars brood vir die konfyt te bak … Sago kon ek nog nie kry nie …
Ek het geskryf oor die Royal- en Belinda-appelkose op ons groot erf in die Paglande. Hulle het in flesse en flesse konfyt beland en Tannie Griet langsaan het nagskof gewerk by Eben Dönges sodat sy bedags kon appelkooskoekies bak. Ons het mandjies vol weggegee; twee bome het goeie oeste gelewer.
Dienspligtyd het ek in Wierdapark vir my Tannie Lea gaan appelkose pluk as ek naweekpas gekry het. Snags het sy die mooiste flesse ingelegde appelkose en appelkooskonfyt bo-op die kombuiskaste staangemaak. En fyngebak. Een keer het ek gevriesde snoek op die Trans Karoo gelaai, toe eet ons lekker snoek met ‘n titseltjie appelkooskonfyt in die bedruipsousie. In Wierdapark, Centurion.
Appelkooskonfyt……gesinstradisie wat uitgesterf het toe Meiringstraat se huis verkoop is, rondom 1992. Deesdae kry ons net geblikte pampoenkonfyt met appelkoosprentjies daarop.
LikeLike
Dankie vir die lekker herinneringe Pete, dit is waar, baie tradisies sterf met tyd uit.
LikeLiked by 1 person
Ek is bly ek kon dit beleef, en velle brei, twak rol, witblits stook, bokkoms droog, ens. Dis dinge wat mins mense vandag kan ervaar. Lukwarte en turksvye in die agterplaas.
LikeLike
Oe ja, beide lukwarte en turksvye by ons op plaas gehad. velle gebrei met growwe sout, eina vingers. Die res, nee gits, nie dit nie.
LikeLike
Op Kleinplasie by Oom Mynie Reyes se voete gesit op ‘n lampolieblik as hy en sy orkes die Kalfiewals gespeel het.
LikeLike
Daar praat jy nou! My ma kon dit op ‘n teekklavier speel.
LikeLike
Lekker!
LikeLike
En op ‘n orrel. Toe ek nog eens ‘n kalfie was …
LikeLike
Ek kry nou só lus v appelkooskonfyt! Jy is regtig flukser as fluks.
Weereens dink ek aan konfyttertjies! Blaardeeg en tuisgemaakte appelkooskinfyt was ‘n moet daarvoor! 💖
LikeLike
Hmmmm, blaardeeg sê jy? Gaan ek probeer? Ek moet sê, as dit nie vir Thermie was nie, het ek dit nie aangepak nie. Dalk sou ek? Maar ek twyfel, sou,dit eerder saam met hoender gaargemaak het …
LikeLike
Jy skei 2 eiers. Klits eiergeel bietjie so ook wit. Net sodat dit maklik kan smeer.
Druk ‘n sirkel (met nie te groot glas nie) uit in die uitgerolde deeg. Helfte vd sirkel smeer jy met eierwit.
Op d ander helfte sit jy bietjie minder as 1teelepel konfyt. As die konfyt te veel is kook dit uit. Eksperimenteer maar.
Vou toe. Eierwit dien as gom.
Druk om d rand met vurkpunte as versiering en om mooi stewig toe te maak.
Smeer met bietjie eiergeel sodat dit mooi verkleur id oond.
Hoe lank dit bak weet ek nie. Bak by 180 grade C. Hou maar dop.
LikeLike
Oe, ek het die gebak toe ek klein was, doen dit net môre. Dankie vir die herinner aan hoe dit werk.
LikeLike
Ons moes altyd v Moeder help daarmee! Hoop dit kom heerlik.
LikeLike
Ons ook en ek het dit sowaar vergeet. My man was gek daaroor …
LikeLike