So in die grendeltyd skop ons krag uit. Laterig in die aand, maar nog binne die Qazaqstan werksure, wat van 10 soggens tot tien saans strek. Vreemd is dit nie, ek is gewoond aan 9-5 of 9-6 werksure in Suid-Afrika. Hier is kantoor werksure wel van 8-5, maar winkels is van 10-10 oop. sommiges is nou in die grendeltyd 24 uur per dag oop, soos Muken waar ons kosvoorrade kan aankoop.
Die vorige keer toe die krag uitgeskop het, het die landlord self kom kyk. En vir my gewys dat daar buite ons woonstel in die gang ‘n boks is waar ek ‘n knoppie op moet druk – en voila, daar is krag. Dit is nou nadat ek ‘n halwe dag sonder krag was.
Dus stuur en manlief uit in die gang om die knoppie op te druk. Maar, dit skop net weer uit. Binne haal ons elke ding moontlik uit kragproppe, maar dit bly uitskop. Dus word die tolk nader gehark om vir die landlord te verduidelik dat ons reeds buite gekykhet, reeds alles uitgehaal het en dat dit steeds die krag uitskop.
Ons moes eintlik so dag of wat tevore reeds gedink het dat daar ‘n probleem is. Want manlief se elektriese skeermes het in die kragaanpasser wat in die muurprop ingedruk is, vasgebrand. Met die gevolg dat die aanpasser vernietig is.
Die tolk laat weet dat die elektrisiën later die dag of die volgende dag sou kom.
Dit was nie so groot probleem nie omdat sommige van die ligskakelaars en muurproppe wel gewerk het. Tot ons agterkom dat die yskas ook nie werk nie. En dit is in grendeltyd ‘n probleem omdat ons proviand vir die dae en weke in die vrieskas kan ontdooi. En ons het wors vir Afrika gemaak, die kan ons nie laat verlore raak nie.
Dus word tolk versoek om weer te laat weet dat dit noodsaaklik is dat die krag vandag herstel word. Laat die nag, seker goed na tien, kom die elektrisiën hier aan.
Nie een van ons dra maskers nie, daaraan dink ek eers die volgende dag toe ek met ‘n seer keel wakker word. Die man word seker aan duisende kieme blootgestel as hy so van huis tot huis moet gaan om krag te herstel. Ek het darem nie siek geword nie.
Hy praat Russies, ons verstaan niks al ken ons al baie woorde. Ons weet wel van rabota (werk) en njet rabota (werk nie). Die agterkant van die woorde kan wel ernstig anders wees omdat dit om verskeie redes kan verander, maar ons verstaan werk en werk nie.
Manlief stap saam met die man deur die huis, gelukkig maak ek in die grendeltyd mooi huis skoon, mens moet mos in gewoontes bly. En een daarvan is om bietjie krag te grbuik om vloere te was en skoon te maak.
Hy praat die hele tyd Russies, al verstaan ons nie.
Dit is soos wanneer babas met jou praat. Iets soos ‘n liedjie wat gelalala word, jy weet hy praat, jy weet dit maak vir hom sin, ons het geen idee waarvan hy praat nie. Kom wel agter as sy stem aan einde van sin sak, dat hy ‘n vraag vra en probeer verstaan wat die vraag is.
Soms raai ons reg, dan helder sy gesig op. Ander kere raai ons verkeerd, dan “tak” hy, daardie woord wat enige iets kan beteken, ook, wat de ongeluk.
Hy stap na elke skakelaar, alles is uit wat kan uit maar die krag skop uit.
Hy vra waar mens die stoof afskakel want die liggies brand (dit werk op ander stroom). Ek verduidelik neto, daar is geen skakelaar nie. Hy kyk verstom na my en ek lag verbaas. Dit is een van die dinge waaroor ek en my vriendin met kinders hier bekommerd is. Ons kan nie ons stowe afsit soos in Suid-Afrika nie. Daar is geen skakelaar daarvoor nie.
Ek wys dat dit seker agter die stoof is, maar hy kan die stoof nie uithaal nie. Hy wys na die skottelgoedwasmasjienliggie wat ook brand. Ek sê ook neto, daar is geen skakelaar nie. Dit moet ook agter die masjien wees, maar dié kan hy ook nie uittrek nie. Beide is op ‘n ander stroom, hulle is nie uitgeskop nie.
Dan moet die yskas die probleem wees. Hy trek uit, haal die muurprop uit, stap uit, sit die krag aan en halleluja, die krag werk. Maar die yskas is af. Dan vroetel hy in die muurprop, maak ‘n paar veranderinge in die kragboks buite en ons krag werk. Hy het ‘n sterker iets in die kragboks ingesit.
Ons kyk TV, gaan slaap en word in die nag in ‘n donker huis wakker. Donker omdat ons liggies in die kamer het van goedjies wat met krag werk. Die alarm, die drukker, die selfone, en die TV. Die krag is weer uit.
Ek stap in die gang in en druk die knoppie op, gelukkig net aan die puntjie en nie met my hele vinger nie, want dit maak by my vingerpunt ‘n geel vlammetjie wat my amper reg agteroor laat val van skrik. En dit kan ek nie verkwalik word nie.
Ek het van kindsbeen af ‘n heilige vrees vir krag. Die oom op die plasie oorkant ons s’n is een oggend doodgeskok toe hy aan die krag buite sy huis gewerk het. Van daar af sukkel ek nie met krag nie. En ek het beslis nie ‘n vlam verwag nadat die elektrisiën daar was nie. Aan daardie skakelaar sal ek nie weer vat nie. Ek dink almal sal verstaan as hulle die kontrêpsie in die gang sien. Ek is doodversigtig vir die ding.
Daar is ‘n lang deurtjie em ‘n kort enetjie bokant hom. As jy die lange oopmaak, lyk dit soos die groot foto hieronder binne. Nie een van die deurtjies het slotte op nie.
As jy die kort deurtjie oopmaak (regs bo), lyk dit binne soos op die twee foto’s aan die regterkant van die foto. Bangmaak goed vir iemand wat klaar ‘n vrees vir elektrisiteit het. Die tweede geel knoppie op die laaste foto is die een wat die hele tyd uitskop.
Verstaan jy my vrees om aan die kontrêpsie te vat? Ek sorg altyd dat ek terughol en skoene met rubbersole aantrek. Net vir ingeval. Want hier loop ons mos kaalvoete in ons huise rond. Skoene word by die voordeur gelos.
Manlief toets die krag.
Sit aan en na 25 minute is dit weer af. Dié inligting word ook aan die tolk oorgedra.
Die tolk bel weer die landlord en sy laat weet dat die elektrisiën binnekort daar sal wees. En sy en haar man sal na ete saam met die tolk kom dat ons kan kyk waar die probleem is.
Die elektrisiën kom weer en dié keer sit hy ‘n nog groter kragaanpasser in die kragboks in. Bring ‘n leer in die huis en maak ‘n klein boksie bo teen die muur oop (eerste foto van die artikel, die klein wit boksie teen muur wat nie soos ‘n kragboks lyk nie, maar eerder soos ‘n plek vir ‘n muurprop wat nie gebruik word nie.
En manlief kom in absolute verbasing langs my staan en sê: “Dit is hoe hulle DV-bokse lyk.”
Is dit nou die regte woord? Daardie groot boks wat ons in Suid-Afrikaanse huise is waar al die knoppies is wat aan en af gesit kan word en waar ‘n afknoppie aandui dat iets die krag uitgeskop het?
Hier is dit volgens manlief een groot gemors.
Ons toets weer alles en die krag werk. Laat weet die tolk dat alles nou werk. Meer as ‘n uur het verbygegaan en ons krag is steeds aan.
Ek wonder natuurlik of die mense bo ons nie iets met die probleem te doen het nie. Hulle is in die grendeltyd besig om te bou en breek en kon dalk ‘n draadjie iewers raakgekap het as die DV-boks so hoog teen die muur sit – en naby aan hulle vloer en waar hulle werk.
Ewenwel, die probleem is opgelos.
Intussen is dit mos nie ‘n probleem as die krag af is nie, want ons sentrale verhitting is steeds aan. Maak die huise te warm omdat die son soggens deur die vensters inskyn om die huis vroegdag al te verhit.
Vroegdag inderdaad.
So onlangs as Desember het die son eers naby nege in die oggend opgekom en teen vieruur al weer gesak – sewe ure sonskyn per dag.
Nou is die dae langer, die son is voor ses al besig om die berge om ons warm te maak en gaan slapies eers weer teen half sewe saans. Dit het ‘n ver pad om te gaan, totdat ons op 20 Junie die langste dag gaan hê, wat beteken dat daar net sewe ure donker saans gaan wees.
Dit is iets om aan gewoond te raak, want mens word lank voor opstaantyd al in die bed warm gebak. En saans teen tien is die son nog nie onder nie, wat beteken dat mens gordyne dig moet trek om te kan slaap.
In hierdie tyd verlang ek na die bekendheid van Suid-Afrika. Daar waar dae nie so lank word in die somer nie. En dae ook nie so kort in die wintertyd is nie. Sewe ure van sosnskyn is regtig baie min.
O gatta petatta, wat n gedoente. Eks bly die word is weer veilig onder koue toestande. Daardie laàaaaang daglig dae is hier ook erg. Ons het spesiale digte voerings Vir gordyne om die lug uit te hou.Probleem bly egter die lug kom steeds by spasieswat nie toe is in. Lekker gekuier saam met jou kraglose tyd en russiese elektrisien.
LikeLike
Oe lag ek nou lekker, daardie is ‘n ou gesegde – Gatta Petatta! Dankie, is dit koud by julle as die dae so lank is? By ons is dit warm baie warm, dit is al 11C.
LikeLike
Dit is goed warm As die dae so lank is. Warmste tyd is meestal in die namiddag van na twaalf tot maklik agtuur as die son so naby is. Ja gatta petatta is n lekker lê op die tong woord. Laat my nou dink aan swart kindertjies wat Eng moet praat so lekker “Black Sam” kan gebruik min wetende wat dit regtig is.
LikeLike
Ek neem aan dit is die Afrikaanse woord? Lag ek nou lekker.
LikeLike
Ja hul weet nie hoe om dit regtig te sê maar dit kom baie sterk uit as hul mekaar beskuldig.
LikeLiked by 1 person
Hmmmm
LikeLiked by 1 person
Lag ek nou lekker vir daardie een. Beslis
LikeLiked by 1 person
Yskaste veral met aardlek kan krag lelik uitskop, spiraalstoofplate ook. Ketelelemente.
Ek toets gewoonlik deur alles, letterlik alles, by die muur te ontprop. Dan een vir een inprop. As dit aardlek is, sal die toestel die krag summier afslaan en dan weet jy wie stout is.
LikeLike
Ons het, behalwe vir die yskas. Ai tog, dit was ‘n storie.
LikeLike
Ek kan my so indink.
LikeLiked by 1 person
Ons het net aanvaar dat die yskas werk omdat hy aan die kant van die vertrek was waar alles gewerk het …
LikeLike
🤓 Dit werk ongelukkig nie altyd so nie.
LikeLike
Hmmmm
LikeLike