Ons het die eerste vyf seisoene van When Calls the Heart ge”binge”kyk. Die een na die ander. Soms na een in die nag gaan slaap. Om te kyk wat verder gebeur.
Soms naweke in die huis gebly. Om die storie te volg. En toe is daar lang gaping tussen die vyfde en sesde seisoene. Ons het die eerste vyf seisoene in die somer van 2019 gekyk. Qazaqstan se somer.
Ons wou nie, maar ag, ons het dié seisoen ook ge”binge”kyk, asof daar niks anders is nie. Soos iemand wat uitgehonger was. En skielik te veel kos het om te eet.
En nou is dit klaar. Die sewende seisoen is nou eers in Amerika beskikbaar. Dink ek. Ons sal dit blykbaar eers hierdie tyd volgende jaar kan sien.
Nee man …
Ons is lief vir die reeks waarin die goed die sleg oorwin. Die goeie in mense raakgesien word. Die slegte gehelp word om goed te word. Hoe nodig is so ‘n reeks nie in ‘n wêreld waar boosheid daartoe bydra dat flieks en reekse goed doen nie?
Ek wil egter vandag oor iets anders gesels. Die tonele self. Want sien, ons het tydens die kyk van die eerste vyf seisoene nog nie ‘n winter met sneeu beleef nie. En noudat ons het, is ons krities.
Baie krities.
In een van die tonele lê die sneeu in kolle. Na ons weeklikse sneeu weet ons sneeu val nie so nie.
Dit val oral, bedek alles gelykmatig, en met alles bedoel ek selfs telefoondrade. Asof dit gestraf sou word as een kolletjie op die aarde meer sneeu as ‘n ander een kry. En ons weet, daardie sneeu moet nagemaak wees.
As dit sneeu, is dit subzero, en subzero is koud. Dit sny in jou lyf in, maak gesigte en hande en alles wat uitsteek rooi van die koue. Nou pla dit ons dat hulle nie dik baadjies en serpe dra nie.
So trek mense op straat aan as dit sneeu en die sneeu op die aarde lê. Daardie rokkies gaan die vrouens nie teen die koue beskerm nie. Veral nie as dit so styf bolangs sit nie. Glo my.
As dit sneeu, dra almal mussies, hoede of die kappies van hulle baadjies bo-oor hulle koppe.
Hope Valley se mense loop kaalkop rond. O my genade, dit sal nie gedoen kan word wanneer dit sneeu nie.
Die foto is gisteraand geneeem. Ek hoop ek lyk beter, manlief het dit van die deur bo op die stoep geneem (sien volgende foto).
Lyk amper of ek lê. Dit sal ek nie waag nie. Het gisteraand so dik geval dat my stewels in die sneeu ingesak het.
Kan jy die sneeu op my jas sien?!Sneeu is ys en die ys val oral in, hare, halslyne. En dit is koud waar dit land.
As dit sneeu en jou klere is nie waterbestand nie, word dit nat. Dit is water sodra dit op klere land.
Manlief gisteraand op die trappies na ons woonstel. So lyk dit na drie ure se sneeu geval het. Alles word bedek. Alle spore word deur die volgende vlaag weggevee.
In een episode ry die drie vrouens in ‘n oopkapkar na ‘n ander dorpie toe. Met dieselfde rokkies. Geen baadjies nie. Dit is basies onmoontlik dat hulle nie in die kar vol sneeu word nie.
Niemand waag dit hier om motors se vensters oop te laat wanneer dit sneeu nie.
Sneeu plak soos bolletjies gom aan motors vas. Dan lyk dit later soos die wol van skape wat afgeskeer is soos die lagies sneeu oppak.
Ten spyte hiervan het ons die sesde seisoen net so baie soos die ander vyf geniet.
Ons is net krities wat die effekte betref. Jy mag dalk dink dat ek te krities is omdat dit hier so baie sneeu dat sneeu ophoop. Selfs met die eerste sneeu wat die volgende dag gesmelt het, was alles bedek.
Dus het ek gou bietjie navorsing gedoen. Die reeks word in Kanada geskiet in Langley, ‘n dorpie naby Vancouver.
Dus sneeu dit wel daar, maar nie wanneer die reeks geskiet word nie. In Augustus is dit daar, net soos by ons, somer. Noordelike halfrond.
Ek dink die vrouens vergaan van die hitte in daardie rokke. En oopdakkarre is dan beslis ‘n heerlikheid.
Dit sneeu ook minder daar en reën eerder weens die gematigde temperatuur. Die subzero is skaars onder zero. Wat beteken dat die sneeu vinniger sal smelt. Maar, dit moet subzero wees vir die sneeu om op die sypaadjies te lê.
Wat my weer by die punt bring dat die klere hulle nie in sneeu teen koue sal beskerm nie. Subzero is koud.
Foto’s. My eie, tussen November 2019 en vandag geneem.
Ek gaan beslis uitkyk vir daardie reeks. Ek geniet jou vertellinge oor sneeu.
LikeLike
Hy is op SA se Netflix beskikbaar. En Toortsie, kos vir die siel
LikeLiked by 1 person
Kan jy glo, ons het nie Netflix nie, maar saam met DSTV kry ‘n mens ook so iets. Ek sal daar gaan loer.
LikeLike
Netflix kos iets soos R160 per maand. Vir ons is dit bargain, ons verstaan nie die TV hier nie.
LikeLiked by 1 person
Ons binge ook seisoen 6, wil ook nie, maar voordat ons ons kan kry sommer 4 episodes ingeryg, op n weeks aand🙄
LikeLike
Ons doen ook. Het gedoen. Ai tog, mens is honger vir goedvoel stories
LikeLiked by 1 person