Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

My muse het verlof sonder toestemming geneem

Ek lag nou so lekker toe Vuurvliegie my laat weet dat die woorde vir haar woordsnoer die keer nie apart gegee word nie, want haar muse het haar so gelei.

Sy is ‘n wonderlike skryfster. Met ‘n muse. Ek skryf sommer net vir die onthou. As ek eendag oud is. Het geen muse nie. Dink ekke. Maar sê nou maar net ek het ene?

Dan het my muse verlof sonder toestemming gevat. Ge-awol soos die ouens in die weermagdae gepraat het. Pad gegee omdat ek my vingers met winterkoue gestraf het en nie wil tik nie.

Dalkies kwaad omdat sy hard probeer, maar ek my vingers liewer wil spaar?

Want sien. My vingerpunte is steeds seer. Dele van my vingers ook. Want ek het hulle aan ligte frostbite blootgestel. Mens noem dit dalk eerder frostnib, maar ek sien die dokter in Almaty het wel frostbite op my vorms neergeskryf.

Ligte vorm, net geknibbel. Maar steeds ongemaklik. As mens se werk is om te tik. En ewe skielik kry ek baie om te doen. Vertaal asseblief gou vir ons … die vingers kla steen en been.

Dit was gister twee weke gelede en ek het al vertel dat ek nog nie reg is om daaroor te skryf nie.

Ek is nog steeds nie, maar my webjoernaalmaats het besluit ek moet my muse loop soek. Want die muse wat veroorsaak het dat ek my inskrywings moes skeduleer omdat sy meer as een per dag kon motiveer, het die pad gevat.

En nou vra Vuurvliegie sommer direk of ek aan haar woordsnoer gaan deelneem.

My eerste reaksie is natuurlik nee, volgende keer. Maar Vuurvliegie het probeer help.

Ek het nog so gestaan en my nie gesteur aan muse se opgewipte wegstappende stert nie. Wou sommer nog agterna skree dat sy moet wegbly.

Toe pla my gewete my. En ek gaan pluk haar aan die arm beet. Dwing haar terug.

Sy skerm dat sy op pad is, nie lus vir my Jannie-jammergat-houding nie. Sal terugkom wanneer ek weer die sonstraaltjie is.

En daar verêrre ek my vir haar. Hier is geen son om ‘n sonstraaltjie te wees nie. Nie eens donker wolke om ‘n silwer randjie te maak nie.

Alles is grys. Nie eens vaal nie. Vaal voel darem soos warm ook. Hier is alles grys.

Maar ek druk tog deur. Toe nou man, dit is ‘n woordsnoer. En jy hou mos daarvan. Oor kersfees! En jy hou mos daarvan ook?

Toe ek vertel dat ek oor kersfees moet skryf, skuif sy so effens nader. Om te help as ek vashaak.

Maar slegs dan.

Ek het vasgehaak, oor begin, weer vasgehaak en toe besluit om in die eerstepersoon te vertel. Die eendag was daar wil nie vandag vir my werk nie.

Ek vermoed dit gaan nie die boekie wat Vuurvliegie beoog haal nie, maar dit maak ook nie regtig saak nie.

Ek het die eerste tree geneem en my gedagtes rondom kersfees neergepen.

Dankie Vuurvliegie, ek dink ek gaan my muse kan oortuig om terug te kom.

Dit is nou te sê as ek my nie lelik vererg vir die klein knoppies op my foon wat veroorsaak dat ek oor en oor moet tik omdat ek verkeerde letters raakgedruk het nie. Op die rekenaar is dit nog te gevoelig.

Dankie Positief en nig Tillie vir die raad met handskoene, ek gaan die winkels invaar om die gare te koop.

Dankie Una vir die WhatsApps, ek was nogal in ‘n gat. En dit het gehelp. Ek moet daaruit kom.

Dankie aan al my ander webjoernaalmaats wat getroos het. En jammer gekry het. Ek waardeer dit baie.

En dankie vir die aannoediging om uit die gat te klim, Bondels. Ek het dit juis vandag nodig gehad.

Dankie Toortsie en dromer777 en Kameel en tannie Frannie en Pete vir die jammer kry. Dit was nodig om te weet dat iemand saam met my geskrik het.

Want ek is skielik vir hierdie koue bang bang.

Ek het gister buite gaan stap. In die aand. Saam met manlief kafee toe. Want hy is blykbaar van klip gemaak. Ekke nie.

En toe voel ek die koue in my oog. En my oogbal was later die aand nog koel.

Het jy geweet mens se oogbal kan koud voel? Ek sal nou ‘n pienk bril gaan koop. Of sommer net ‘n kleurlose een. Om my oë saans teen die koue te beskerm. Dit lees ek vandag, is die slim ding om te doen.

Bedags werk sonbrille blykbaar goed. En is dit ‘n moet. Omdat UV-strale erg is net nadat die sneeu geval het. En dit gaan die hele naweek sneeu.

Ek verstaan dit egter nie. Die koue gevoel in my oog.

Gister was maar -7, ek het al in -28 buite geloop sonder dat my oë koud gevoel het.

Of wag, dit het al so gevoel. Ek is dalk nou net oorbewus van enige koue naby my.

Die skrik gaan nog ‘n rukkie vat om weg te gaan.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

26 gedagtes oor “My muse het verlof sonder toestemming geneem

  1. Christa, hoe sê ‘n mens ‘geniet die koue, maar wees asseblief versigtig?’
    Ek is bly dat jy al beter viel.
    Ek is dankbaar dat dit net ‘ligte’ frostbyte was en dat dit as waarskuwing kon dien en nie sommer ernstig gebyt het nie.
    Maar hy moenie van jou kom steel nie. Wees versigtig, maar geniet dit ook, jy weet mos wat ek bedoel.
    Ek hoop jou vingers sal gou weer gesond wees en jou ogies gou weer warm word.

    Like

  2. Ag, jy weet wat5 hulle sê Christa – koue hande, warm liefde. Nee, ek spot sommer met jou. Ek hoop die vingers herstel gou en bly gesond. Dalk leer jy nog om van die koue winter te hou.

    Like

  3. Dalkies is dit omdat julle nou al geklimatiseer het dat die koue jou so erg vang, maar nietemin, pas jouself op. Ek laaik jou harregat houding met daai muse. Hulle neuk n mens lekker rond! En ja, sonbrille in die sneeu werk, hoor. Ek sit selfs my sonbril op as ek bestuur in donker reënweer…dis verbasend hoe jou oë ontspan.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.