Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Nuwe vriendin in Qazaqstan

Ek het so ruk terug vertel dat ek die dag op pad was om ‘n jong vrou in Qazaqstan te ontmoet. Ek het ook vertel hoe dit gebeur het dat ons ‘n koffie afspraak gehad het. En dat ek oorweeg het om nie te gaan nie, omdat ek nie maklik vriendinne maak nie. Dankie aan almal wat my aangemoedig het om deur te gaan, ek en Mia het maklik gekliek, al is sy so oud soos my kinders as ek moet raai. Mia, raai ek reg?

Dit is natuurlik nie vreemd dat ek met jong vrouens bevriend raak nie, by al die skole waar ek skool gehou het, was my vriendinne so oud soos my kinders. Darem nie omdat hulle ‘n ma-figuur nodig gehad het nie, ek is nie so goed met daardie een vir ander mense se kinders nie. Vir my eie kinders dink ek dat ek ‘n goeie ma is. Lief hulle vir altyd. Ek sou nooit tussen my twee kinders kon kies nie, elkeen bring sy spesiale karakter en liefde na die tafel wanneer ons saam is.

Terug by vriendinne. Skoolvriendinne kom en gaan, maar twee jong vrouens is vandag nog naby aan my. Mari en Meagan, wat in 2006 saam met my by Florida Hoërskool begin het. Die ouer juffrouens was reeds gevestig in hulle klieks, dus was ons groep van 20 beginners en nuwelinge pouses aan ons eie genade oorgelaat en so is baie spesiale bande gesmee. Meagan is ‘n jaar of wat later Kaapstad toe en Mari is steeds by Florida, maar ons bly op hoogte van mekaar se lewens.

Hier is Qazaqstan het ek en Mia maklik vriendinne geword. Hulle bly toe al die tyd in die gebou langs ons. Ek wonder of ons mekaar tog op ‘n stadium sou raakloop? Haar man is ook ‘n Tukkie mynbou-ingenieur soos my man en sy was, soos ek, ‘n onderwyseres. Wetenskap, waar ek Afrikaans en Geografie aangebied het. Anders as ek verlang Mia na ‘n geleentheid om weer skool te hou. En ek dink sy behoort dit te doen. Of nee, liewer nie. Onderwysers hier hou van 8 tot 5 skool, vakansies ook! Met wie gaan ek dan kuier?

Mia is ‘n opregte vriendin en nooi my gereeld om saam met haar tee te gaan drink, waar sy, anders as wat mens van die uitnodiging sal aflei, koffie bestel. Ons toets die plekke om ons uit. Stap oral heen en maak ‘n punt daarvan om een keer per week saam te stap na die mark toe. Ek het nou die dag vertel dat ons twee mark toe was. Hier is die steelfoto (sy het wit toppie aan) wat ek toe geplaas het.

Mia het twee dogtertjies, die oudste enetjie is vier as ek reg onthou en is in die kleuterskool en die baba word hierdie maand een jaar oud. Ek is na die verjaarsdagpartytjie genooi. Volgende week Dinsdag. En dit laat my so na my kleinkinders verlang. Hulle partytjie is volgende week Saterdag en ouma en oupa gaan dit misloop. Haar man is nou so jaar hier, Mia het eers in November gekom, nadat die babatjie in Suid-Afrika gebore is.

Ons doen baie goed saam en lag ook baie. Ek het nou die dag ‘n steelfoto van die babawaentjies geneem. Toe ek en Mia en haar Russiese vriendin mark toe was en die reën ons oorval het. Gister het ek en sy spierwit toppies aangehad en toe sous dit erg toe ons buite kom. Ek het geen beskerming by my gehad nie, die son het geskyn toe ek parkie toe is om vir manlief kos te vat. Sy het ‘n baadjie in die waentjie gehad, dit aangetrek en haar sambreel vir my gegee. Want sien, ons twee vrouens weet dat ek nie met wit klere aan kan natreën nie. En ons moes by die huis kom, sy moes haar dogtertjie by die skool gaan haal.

Ek het vandag gevra dat ons in die een parkie gaan tee drink. Met die baba. Aangesien daar nie winkeltjies is nie en ek nie wou sukkel met warm wegneem tee wat ons op die pad kon koop nie, het ek vir ons lemoen tee gemaak en in die glas Miranda koeldrankbotteltjies wat ons in Shemonaigha gekoop het, geskink. En gelukkig onthou dat sy suiker drink. almal wat my ken, sal weet dat my arme gaste dikwels moet vra vir suiker, ek vergeet daarvan omdat ons nie suiker drink nie.

Ek het al van verpakkings in Qazaqstan vertel, maar nie regtig my rede daarvoor uitgespel nie. Ons gaan oor drie jaar terug en ek wil nie hier houers koop nie. Wat maak ek daarmee as ons teruggaan. Dit is heeltemal te duur om pakkies aan te stuur. Hier is ‘n onsies wat ons twee probeer neem het, om te wys dat ons tee uit koeldrankbotteltjies drink.

Ek besluit toe om vir ‘n verbyganger te vra om vir ons ‘n beter foto te neem, want sien, Mia het nie probleem dat ek dit hier deel nie.

Ons sien nie eens hoe Natasha ons aandag probeer trek nie, maar die verbyganger sien en toe neem syfoto van ons drie.

Môre-oggend gaan ons twee die stad op horings neem. Ons gaan by die sentrale plein op die trem klim en ry tot waar hy stop. Ek wil dit al so lankal doen, maar manlief weier volstrek om dit saam met my te doen. Ek wil dele van die stad sien wat ek nog nie gesien het nie. En Mia deel dieselfde sentiment. Ek sal genoeg foto’s neem om van dié uitstappie te vertel. Intussen sien ek uit om dit saam met ‘n vriendin te beleef.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

30 gedagtes oor “‘n Nuwe vriendin in Qazaqstan

  1. So lekker om jou goedjies te lees. Baie interessant. Ek is bly jy het ‘n vriendin daar. Maak dinge baie lekkerder. Ons is ‘n groep vriendinne vanaf 25 tot 62. Ouderdom is mos relatief! Ons gees is mos nie gekoppel aan ouderdom nie. Hy gaan vir ewig leef! Geesgenote is so kosbaar. Enjoy! 💖💖

    Like

    1. Dankie gedigte wat jou laat dink, ek stem saam. Ouderdom is relatief. Aangesien mens nie jouself sien nie, voel mens lekker jonk. Skaars ouer as toe jy uit die skool is. Die ouderdom word eers maat as jy iets wil doen wat jy kon doen en nie meer kan nie …

      Like

  2. Thank you Christa that you accepted my first invitation! I am so glad I have a good friend to enjoy coffee with (even if you drink tea 😋), and laugh about our experiences in Kazakstan.

    Like

  3. Dis wonderlik Christa, om ń nuwe vriendin te ontdek daar ver in jul nuwe wêreld. Ek gun jou al die genot van so ń pragtige vriendskap.

    Like

  4. Beplan julle om later terug te gaan – is dit net ‘n tydelike ‘bly’ in Kazakhstan? Kazakhstan en Baku – in Azerbaijan – is plekke wat ek nog altyd op my lysie het om eendag te besoek, wanneer, weet ek nie so mooi nie. Baku het die ou stad gedeelte en dis waarheen ek wil gaan.

    Like

    1. Jammer, die kommentaar het in ‘trash’ opge-eindig! Dis nou die 4de keer in minder as 2 weke dat dit gebeur, nie eers in ‘spam’ nie – soos gewoonlik. Die ‘follow’ ‘button’ is regs bo, laat my weet as jy nie dit kry nie. 🙂

      Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.