Gepubliseer in Joernaal

Onverwagte blomme op Valentynsdag

Nee, dit is nie soos jy dalk dink nie. Die pot met mooi blomme kom nie van manlief af nie …

Ons het op ‘n stadium vir mekaar iets kleins en moois vir Valentysdag gekoop. En groter ook, ek het al ‘n mooi ring met ‘n pienk steentjie en die woord Love van hom gekry. Maar iewers langs die pad het ons besluit om dit te laat gaan. Dalk omdat die herkoms van die dag werklik onaangenaam is en niks met liefde te doen het nie?

Maar, ons het dit geweet toe ons goedjies gekoop het, en steeds gedoen. Dit het regtig met tyd net vir ons ‘n geldmaakdag geword. Veral as jy ‘n juffrou was. O my genade, die kinders en skole het groot geld op die dag geblaas. Dalk het dit my afgesit?

Sondag noem ek voor die kinders dat hy nou nie op Valentysdag tuis gaan wees nie. En hy sê sommer net dat dit in elk geval ‘n geldmaakstorie is. En die kinders stem saam.

En sowaar, daar pla dit my.

So stuur ek vanoggend vir hom gelukkige Valentynsdag, al glo jy nie meer daarin nie. En hy gee verbaasgesiggie as antwoord. Hy is weer in ander land.

Skaars daarna lui my voordeurklokkie en voor ek oopmaak, sien ek die bos blomme in iemand se hande.

En voel ek baie sleg, die man laat mos vir spesiale dae blomme aflewer. Die een die 30ste Januarie was massief, ons was 42 jaar getroud!

Toe ek die deur oopmaak, staan my nuwe buurvrou daar. En nie iemand anders nie. Hulle was kort rukkie hier, hulle woon nog nie permanent langsaan nie. Huis is Desember op hulle naam, maar sy kom eers van middel Maart af hier woon. Om bedags na haar nuwe kleinkind te kyk. Herinner dit jou aan my en my kleinkind wat juis hier opgepas is?

Wel, sy het die blomme by haar dogter gekry en dit is nog te mooi om weg te gooi. Kan sy dit asseblief vir my gee, sy sal dan in Maart haar blompot by my kry.

Ek lag en vertel haar wat ek vir my man gesê het. En sy lag effens verleë oor die feit dat sy nou juis op Valentyndsag vir my blomme aandra. Beide van ons verkies dat mans vir ons blomme op so ‘n dag aandra, sy is skoon verleë. Maar, terugvat kan sy nou ook nie …

Die potjie blomme staan op my kombuistafel, manlief gaan dit dadelik raaksien as hy in die huis instap.

‘n Tergduiweltjie sit op my skouer en ek lag al die pad na my iPad toe om die storie te kom neerpen.

Wat gaan sy reaksie wees? Ek dink nogal hy gaan my nie glo as ek die waarheid praat nie …

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Onverwagte blomme op Valentynsdag

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.