Ons bure by die see het ons een aand vir ete genooi. En toe ons daar kom, staan ‘n braaitafel op die tafel, met borde en bakkies daaromheen.
In verskillende klein bakkies was opgenyde vleis en groente. Met ‘n bakkie slaai ook. Die slaai was van mango en avokado gemaak. Slegs dit, dan gooi jy soya sous bo-oor. Dit is elke keer ‘n wenner as ek dit na-aap en nou hier maak. Lyk so mooi!.
En toe wil ek ons kinders verras. Soek op Takealot na die braaier, mens kry dit nie op ander plekke nie. Ons het gesoek. Dit lyk anders, dit het ‘n “hot pot” by. Ons verstaan nie Chinese kos nie en lees warm bak, soos dat dit die kos wat jy braai gaan warm hou. Dit lyk ook nie soos op die foto nie, dit het net een skakelaar, nie een vir braai en een vir die “hot pot” nie.
Ons besluit gelukkig om eers te toets. Manlief (ek sukkel om hom vanoggend so te noem, vervlaks ongeskik) skakel aan en ons rys verbrand amper onmiddellik, dit is baie, baie warmer as die plaat waar die braaiwerk gedoen word. So gooi ons maar die groentes daarin, gooi spuse oor wat ons gekoop het en ons roerbraai ons vlies en groente. Eet lekker, maar baie ontevrede met die oorwarm pot wat ons kos moes warm hou terwyl ons braai.
Vertel dit die volgende dag vir seun en hy lag te lekker. Dit is ‘n warm pot, nie hou warm pot nie. Ek verstaan nie die verskil nie en hy haal sy foon uit, wys my video’s oor hoe mens die pot gebruik. Dit moes kokend warm wees, mens kook ‘n aftreksel (broth) ure voor die tyd. Daar is baie resepte op die internet. Op die tafel moet bakkies met papierdun snytjies vleis en groente en kase en ek weet nie alles wees nie. Dan sit die Sjinese om die pot, druk vleisie met hulle eetstokkies in, kokende aftreksel maak dit gaar. Dan druk jy dit in ‘n klein bakkie met sojasous of ander souse en eet dit so. Elkeen besig om sy eie kos so gaar te maak. In die pot kan groente ook wees, dus het jy ‘n lepel met gate nodig om die kos uit te vis wat jy ingegooi het.
Ek het een dag tyd, besluit dit gaan nie vir my werk nie. Dus koop ons die vleis, verskillende groentes en baie soorte souse. Die aftreksel gaan ek nie maak nie, daar is te veel resepte en ek het geen idee hoe dit moet proe nie.
Ek sny alles in dun skyfies, skoondogter kom vroeg en help. Daar is aartappels, seldery, wortels, sampioene, uie, groenbone, gemmer en knoffel en rissies en so aan wat in dun stukkies gesny moes word vir die bakkies op die tafel. Sit bakkies vir kos by, ook rys en rysnoedels wat in die kokende sous gaar kan word. En die veselperske-en-avokadoslaai.


Ons het twee van die braaiers gekoop, dus het elke paartjie sy eie braaiplek aan tafel gehad. Kleinseun is ook met sy tang besig om sy mielies, klaar gekook en in wieletjies gesny, vir homself te braai. Ek was erg bekommerd, hy is maar net 3 jaar oud. Pippie wat so verbrand het, woon ook by die see. Dus word ek gereeld aan die gevare van braaivliesplekke herinner, kinders moet volgens my ver weg staan. Maar, nie die mannetjie nie. Hy staan op ‘n stoel en hanteer die tang behendig. Ek is steeds verbaas oor hoe gemaklik hy dit gedoen het.

Dit was een van die heerlikste etes wat ons al gehou het. Gesellig, elkeen besig met kos en toets en sê wat werk en wat nie werk nie. Elke paartjie gooi in sy pot en maak iets wat nader aan potjiekos is. Seun se sous dun, hy weet hoe aftreksel moet lyk. Manlief s’n dikker, hy soek potjiesous, nie aftreksel nie …
Iedergeval.
Kan ek dit aanbeveel? Ja, beslis. Dit het ongelooflik baie voorbereiding nodig, maar daar is ook amper niks skottelgoed na die tyd nie. Alles is klein bakkies. Dit is absoluut heerlik gesellig, met elkeen wat sy kos maak en geur soos hy of sy daarvan hou.
Maar, ek kan nie die braaiplate wat ek gekoop het aanbeveel nie.

Dit is swak gemaak, met die bakkie vir sous wat in die masjien vassmelt. Die braaiplek het nie twee skakelaars soos op die prente nie, dus kan die warm pot en die plaat se temperatuur nie apart beheer word nie. Jy kan nie net warmpot of braai nie, die amder een word vuurwarm en mens sal lelik kan brand. En my een braaier het onder gesmelt!
Ek het teruggestuur, voordat iemand lelik seerkry. Maar, ek gaan in die Sjinese winkelsentrum soek. Ek is seker ek gaan daar kry wat ek deeglik deur kan gaan om seker te maak dat dit nie weer kan smelt nie en twee skakelaars het, nie net een nie. Dit is vir my onaanvaarbaar dat ek op grond van prente koop en die produk dan nie aan die vereistes voldoen nie.
Gaan ek soos die Sjinese maak? Dalk in die winter, dit is baie warm om die potte terwyl mens aan tafel sit. Die skuifdeure was oop, maar ons het steeds gesweet – darem nie gesweet om die kos gaar te kry nie, net omdat ons te warm gekry het.
Het jy dit al gedoen? Of so geëet?
Dit is regtig iets anders, al sal ek altyd ‘n Suid-Afrikaanse kleur daaraan gee. Sous dikker, vleis gebraai en nie gedompel nie. In Sjina sal ek dit nie eet nie, ek moet weet watse vleis ek eet. En hulle vertrou ek glad nie. Hulle eet enige iets, van rotte tot honde en katte. Nee dankie, ek sal daar eerder ‘n vegetariër word.
Ek is nie een van die mense wat sê beproef alles en behou die goeie nie. O nee, ek het spesifieke goed wat ek sal eet, en dit is die vleis waarmee ek groot geword het. Perd het ek nie in Kazakhstan geëet nie, rot en kat en hond sal ek gewis nie eet nie. Die arme diere se eienaars soek hulle seker.
Net toe ek opgewonde raak, lees ek jou negatiewe kommentaar ior daardie braaier( en spaar jy my n paar rand!) Ons het destyds “chinese braai” gehou op n stainless steel plaat bo-oor n braaivleisvuur of in die cadac skottel. Baie dieselde prinsiep. Die sous is soja, wyn, knoffel en olie, ens in bakkies, wat jy oor jou gaar kos skep of saam met rou voor jy braai. Heerlik.
LikeLiked by 1 person
Ag skies, Seegogga, die gesmeltery van die produk is groot probleem. Hulle kom vandag terugvat, sal maar kyk wat die uitkoms is. Dit is baie, baie, baie lekker!
LikeLiked by 1 person
Kom ons kyk wat antwoord Takealot. Dit is baie moeilik om een te kies, die pryse wissel erg. En as jy twee kies, betaal jy meer en word dit later afgelewer. As jy twee koop, een per bestelling, verander die prys ook. Dan kies ek maar weer – pryse wissel tussen R499 en meer as R700 en almal lyk dieselfde op die prentjies! Wys twee plekke waar mens temperatuur kan stel, beide het net een gehad. Ek gaan dus nie al duurder en duurder koop nie, en hoop dat ek iewers een gaan kry met twee plekke om temperatuur te stel nie. Ons is Saterdag Sjinese mall toe, geen geluk! Hulle weet nie eens waarvan ek praat nie … dit is ‘n gemors. Ek gaan maar na stirfryer toe, soos my vriendin by die see het.
LikeLiked by 1 person
Ons het al klein potjies maaltye gehou waar elkeen sy eie potjiekos maak en dis altyd ‘n groot feestelikheid. Maar ek ken nie hierdie konsep nie. Dit is ‘n bonus as elkeen sy eie kos kan maak, want dan kan niemand die kok skuld gee as die kos nie lekker is nie!
LikeLiked by 1 person
Hhahahahahaha, ek is seker nieamnd kla by jou nie. Maar ja, ek kan maklik verkjeerd gaan omdat ek skat – en nie noodwendig meet nie … As elkeen sy eie kos garneer, is ek veilig.
LikeLiked by 1 person