Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkindpret: Dis ok, ouma

Ek wip my as ek iets verkeerd doen. Soos om meel op die vloer te mors. As daar nou regtig nie tyd is om skoon te maak nie.

Eintlik sommer baie.

En nou leer ek by kleinkind om die saak beter te hanteer.

As ek so vies vir myself is, iets soos: “Wat het ek nou weer aangevang?”

Kom hy met:

“Dis ok ouma”

Mens mag mos foute maak … dit is wat hy eintlik sê.

Ja, en so is ek vandag in die verkeer. Tannie ry by Southdowns winkelsentrum amper in my vas. Sy verstaan nie sirkels nie, dink ek moet vir haar wag – in die sirkel – dat sy voor my kan ingaan. Van ‘n onmoontlike skuishoek af.

Ek het aangeneem sy ken sirkels. Dat mens moet toegee vir die motor in die sirkel.

Toe nie …

Ek kyk vir haar, sy kyk vir my. Die ongeluk is vermy, net betyds.

Ek sou kwaad wees, ek weet. Ek is amper soos daardie draak wat uit die kar klim in die advertensie van een of ander versekeringsmaatskappy. Skuldig. Ek sou vuur wou spoeg. My kar word baie mooi opgepas.

En toe is sy stemmetjie net in my kop.

“Dis okay, ouma.”

En ek glimlag vir die tannie.

Dis ok, tannie, die ongeluk is vermy.

Ons twee kan dankbaar wees.

En ek glimlag en ry verder.

Ek wil dit onthou.

Ek kan nie oorvertel hoe rustig dit my maak nie …

Net soos vanmiddag op pad gim toe.

Ek gesels met manlief, hy was dag op kantoor. Ek kry byt-antwoorde, hy kan nie help nie, weet nie eens nie, want … sy suiker is nie onder beheer nie.

Die rede?

Die nuwe insulien wat hy so jaar gebruik, het sy suiker mooi beheer. Maar, vroue en hulle dokters het uitgevind dat dit maer maak. En nou word dit in so mate in vrouens ingespuit om soos planke te lyk dat die aktiewe bestanddeel uitverkoop is. En wie betaal die gelag vir hulle ydelheid?

Diabete wat die medisyne nodig het, hulle eie lywe maak nie meer insulien nie. En hulle naasbestaandes wat moet verstaan waarom hulle so maklik kwaad word.

Ek kyk Sondag so vir ‘n vroutjie in die kerk. Sy het verlede jaar baie gou baie maer geword. En nou is sy weer soos sy was. Al wat ek kan aflei, is dat sy een van die mense is wat veroorsaak het dat my man nie medisyne het wat werk nie.

Weet hulle wat hulle veroorsaak het?

Iedergeval, hy hap weer toe ek iets vra. En toe oorval ‘n geluk my. ‘n Glimlag, ek wil sommer hardop lag.

Kleinseun se stemmetjie in my kop: “Dis okay, Ouma.”

En ek weet, dit is ok, oupa kan nie help nie. Sy suiker beheer sy gemoed.

Unknown's avatar

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “Kleinkindpret: Dis ok, ouma

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.