
Ons het, toe ons die erf langs die Vaal ontbos het, ‘n aantal doringbome en blinkblaar-wag-‘n-bietjies uitgehou om die erf te versier.
Anders as wat ons verwag het, groei die doringbome teen die spoed van weerlig en dan val hulle omdat hulle geen aandag aan die ontwikkeling van ‘n sterk wortelstelsel gee nie. In die proses verdruk hulle die wag-‘n-bietjies, wat stadiger groei omdat hulle wel aandag aan die ontwikkeling van ‘n deeglike wortelstelsel gee, in so mate dat die wag-‘n-bietjies dikwels skeef groei.
Die doringbome se pieperige wortelstelsels kan die bogrondse gewig nie dra nie. En as hulle val, is daar skaars ‘n rimpeling in die grond waar die wortelstelsels moes wees. In die proses vermink hulle die wag-‘n-bietjies wat om hulle vir oorleweing geveg het.

Vir my, as opvoedkundige, is daar ‘n lewensles in die groei en val van dié twee boomsoorte te leer.
Die wag-‘n-bietjies vul mettertyd die gapings waar die doringbome uitgetoring het, ten spyte daarvan dat hulle seergekry het toe die ou grotes geval het. Daar waar die doringbome gestaan het, is egter geen spoor van die ou grotes oor nie.
Ek dink dit is ons taak as opvoeders om die teuels van die vinnig-groeiende doringboompies so klein bietjie in te trek dat hulle kans kry om sterker wortelstelsels te bou dat hulle mislukkings ook kan hanteer. En om die wag-‘n-bietjies, wat effens stadiger ontwikkel, aan te moedig om sterk wortelstelsels te bou omdat dit hulle in staat stel om die plek van doringbome in te neem wanneer die tyd reg is.
Bykans elke kind wat deur ‘n onderwyser se hande gaan, gaan ‘n werk kry of self werk skep, ‘n pappa of mamma word en so hulle plekke in die lewe volstaan. Ons onderwysers het die mag om hulle reeds van vroeg af te leer om sterk wortelstelsels te bou – sodat hulle hulle plekke in die wêreld kan volstaan, selfs al word hulle soms deur die val van die ou grotes beïnvloed.
Nice sus, ek hou hiervan xx
Sent from my Samsung Galaxy smartphone.
LikeLike