Gepubliseer in Joernaal

Die ouer-onderwyservenootskap

Ouers vra gereeld vrae op my Facebook-groep RSA-onderwysers soos: Mag ‘n onderwyser so en so straf toepas as kind nie opgelet het nie, huiswerk tuis vergeet het of iets soos swemklere tuis vergeet het. Nou wil ek aan die ouers die volgende vrae vra: a) Straf jy nie jou kinders as hulle nie ‘n redelike opdrag uitvoer nie, b) moes jy al 30 en meer kinders vir 30 minute oppas en seker maak dat almal ‘n taak uitvoer om nie te druip nie, en c) hoe maak jy seker dat die een kind wat dwarstrek nie jou deeglik-beplande kinderpartytjjie ontwrig nie?

Want sien, terwyl ouers met een tot drie kinders tuis werk, werk onderwysers met selfs meer as honderd kinders per dag as hulle in die senior fases onderrig. En hulle sukkel daagliks met kinders wat nie redelike opdragte uitvoer nie, kinders wat klasse ontwrig sodat hulle maats se geleenthede om goeie punte te verdien ook beïnvloed word en ontwrigting van baie meer as een deeglik-beplande “partytjie” per dag.

Die enigste verskil is dat onderwysers verantwoording moet doen as elke kind in sy klas nie presteer nie. Tree hulle egter op, is ouers in hulle hare en word hulle selfs voor die hoof gedaag. Ek ken geen onderwyser wat ‘n kind doelbewus te na sal kom nie. Bykans elke onderwyser is ook ‘n ouer. Ons verstaan kinders beter as wat ouers besef. Ouers kan ongelukkig nie dieselfde sê nie. Daarom daag ek hulle uit om vir ten minste twee weke ‘n onderwyser se skoene te gaan volstaan. Selfs in ‘n skool waar dit op die oog af baie goed gaan. Dan eers sal ouers ‘n begrip kan vorm van wat ‘n onderwyser se werk behels.

Onderwysers werk aan julle kinders se toekoms. Hulle is julle vennote, nie julle vyande nie. Hou hulle hande vas, maak hulle werk makliker. Om jou kind te leer, is maar een van hulle take. Saans berei hulle lesse voor om seker te maak dat jou kind presteer, smiddae staan hulle jou kind tydens buitemuurse aktiwiteite by. Hoeveel dankies kry onderwysers nadat hulle kinders veilig van ‘n hokkie-, Voortrekkers- of atletiekbyeenkoms teruggebring? Ek het selde ‘n dankie ontvang. Iewers tussen al die bedrywighede is onderwysers ook ouers, mense wat nie vir hul eie kinders en lewensmaats genoeg tyd kan inruim nie. Hulle maak nie ‘n rekenaar toe en kom eers weer more of na die vakansie terug nie. As hulle na al die aktiwiteite huis toe gaan, begin die voorbereiding eers.

Leer jou kind om ‘n regverdige straf te aanvaar eerder as om hulself te verontskuldig. Maak hulle so sterk om hul plek in ‘n onregverdige grootmenswêreld te gaan volstaan. ‘n Graad aggie het eendag tot groot vermaak van sy maats vir my gesê sy pa het gesê hy moet vir my sê dat hy niks van onderwysers dink nie. Toe die klas klaar gelag het, het ek vir hom gesê: Sê jy vir jou pa ek sê wat hy ookal dink hy is, sou hy nie gewees het sonder die baie onderwysers wat hy vertrap nie. Word die swak houding teenoor onderwysers nie dalk in jou huis ook voorgeleef nie?

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Dit is ‘n heel ander saak as ‘n onderwyser onprofessioneel optree. Sulke gevalle moet aangemeld word sodat opgetree kan word om seker te maak dat kinders in veilige leeromgewings kan leer. Wat ek wil vra is wat help dit om ‘n oorlog op sosiale media te begin om ‘n paar mense te kry wat met jou saamstem? Sonder dat hulle of jy in die konteks was? Sonder dat die onderwyser sy kant van die saak kan stel? Probleme word nie so opgelos nie. Inteendeel, dit versterk swak houdings teenoor dié mense wat nog kans sien om baie ongeskikte kinders en ouers te trotseer. Ek doen nie.

Vandat ek ‘n klein dogtertjie was het ek vir alles skoolgehou. My vier kleiner susters en as hulle nie meer wou saamspeel nie, moes my poppe vir hulle instaan. Een nag, nadat ‘n ouer my gebel het en uitgetrap het oor haar kind se punt, het ek my bedankingsbrief geskryf, ingedien en my droomberoep laat vaar. My man was dankbaar omdat hy sy vrou teruggekry het. Iemand wat saans daar is as hy tuis kom. En tyd het om kos te maak. Onderwys is nie ‘n halfdag pos nie, dit is ‘n lewenswyse wat alles uit ‘n onderwyser tap – terwyl hulle dikwels voel soos diere in ‘n hok – wat die hele tyd van alle kante af met ‘n stok gesteek word. Ek weet, dit is waarom ek nie meer vir dié edel beroep kans sien nie.

Nou moet my Schnausers maar leer dans … omdat ek die onderwys verlaat het, maar nooit sal ophou om ‘n juffrou te wees nie.

Ouers hardloop so maklik hoof toe om oor ‘n onderwyser te kla. Onderwysers hardloop eers hoof toe oor ongeskikte ouers en kinders as hulle dit nie meer kan hanteer nie. Miskien ook omdat hulle geleer het om altyd te vergewe om aan te kan gaan … Kinders jok vir hulle ouers oor wat in die klas aangaan. As die waarheid uitkom, maak ‘n ek-is-jammer dit nie beter nie.

Ek het dit nog nooit oorvertel nie omdat ek te skaam was om daaroor te praat. Maar ek dink dit is tyd om te noem presies waarmee onderwysers in goeie skole gekonfronteer word. Ek was besig om huiswerk na te sien en die klas (graad 9) moes hulle werk van die witbord af merk en verbeteringe aanbring. Ek het vir die klas gekyk, maar die klas was so groot dat mens onmoontlik alles kan sien wat aangaan. En dit was stil, almal het gelyk of hulle werk. Na die klas het een dogter vir my kom vertel dat een van die seuns se hand onder die tafel onder die rok van een van die meisies doenig was. Ek kon dit nie glo nie, maar meer kinders het kom vertel. Die twee is kantoor toe geroep en daar is dit bevestig. In my klas! Onder my oë. Ten aanskoue van al die maats rondom hulle. Die volgende dag moes ek hoor dat my klas se nuwe naam Kentucky Fried Chicken is. En toe ek nie verstaan nie, word dit vir my uitgelê: It was ……. good! Weet nie eens of dit steeds Kentucky se spreek se slagspreuk is nie, ek het net daarna nooit weer my mond aan Kentucky gesit nie. Dit was een van drie redes waarom ek uit die onderwys bedank het.

Die ander rede was dat ‘n groot graad 8-seun, wat my gevloek het, nadat hy kantoor toe gestuur is in my deur kom staan het en vir my vertel het dat die onderhoof sê dat ek my houding moet regkry. Toe ek die man gaan spreek, word daar vir my vertel dat die kind in die koshuis bly en dat ek hom moet los. Ek was vies, het die pa gebel en vertel wat sy kind doen, en toe bel die pa my en sorg dat ek in die moeilikheid kom omdat ek vir hom vertel het.

Die derde rede was dat ‘n ouer my een nag gebel en uitgetrap het oor haar kind se swak punt vir haar taak. Sy was so besig in die klas om vir die seuns te vertel watter kleur haar onderklere is, dat sy nie opgelet het toe ek alles in verband met die taak verduidelik het nie. Toe ek haar vra of seuns nodig het om te weet wat die kleur is, wou sy by my weet hoe ek dit gehoor het! Dit terwyl ek woord vir woord tot voor in die klas kon hoor. Die ma het egter terwyl sy met my baklei vir my vertel watter wonderlike kind sy het, ‘n vroom Katoliek, en dat ek die kind nie verstaan nie. Ek wonder of ouers weet hoeveel of van hulle kinders weet? En wat hulle doen? En dat ons nie alles oorvertel nie – juis omdat ons weet dat ons nie geglo sal word nie. Dit was egter die laaste strooi – en ek het bedank om nooit weer terug te gaan nie.

Onderwysers moet teruggaan na die klas en nie ‘n wrok teen die kind of ouer dra nie. Daar is niks so sleg soos om voor die hoof gedaag te word deur ‘n ouer nie. Veral as die ouer die probleem opgeblaas het nie. Julle weet nie wat julle kinders alles doen as hulle in groepsverband is nie. En julle hare sal regop staan as ons begin vertel wat in klasse aangaan. En wat julle voorbeeldige kinders alles doen as onderwysers hulle nie konstruktief besig hou nie. My hare het egter gereeld in die lug gestaan wanneer ek hoor waarmee kinders hulle by partytjies besig hou. Onder ouers se toesig.

My mening oor onderwysers? Ek dink hulle gaan nie sukkel om die hiernamaals te beleef nie. Hulle vergewe (en vergeet) baie meer as 40 maal 7 keer. Vertrou die mense wat hulle eie gesinne opoffer. Om vir jou kind te help om ‘n toekoms te bou. Hulle eie kinders suig aan die agterspeen en word kwaad as hulle ouers van julle kinders as hulle kinders praat. Want dit is hoe onderwysers van die kinders in hulle klasse praat. My kinders …

Dus wil ek voorstel dat ouers wat dink dat sy of haar kind se onderwyser verkeerd is, versoek word om soveel dae as wat die onderwyser met die kind gesukkel het, vir die onderwyser in te staan, veral wanneer geassesseer moet word en elke kind ‘n regverdige kans moet kry …

Die onderwys sal ‘n veel beter plek wees as ouers en onderwysers hande vat om die kind te begelei – tans is onderwysers egter dikwels in die spervuur omdat hulle kinders probeer opvoed. ‘n Taak wat tuis voortgesit moet word.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Een gedagte oor “Die ouer-onderwyservenootskap

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.