Sukkel jy ook om soms “Nee” te sê? Ek sukkel om nee te sê as ‘n verhouding vir my belangrik is. En daarom spandeer ek dikwels gesinstyd om ander te help. Die probleem is egter dat “Ja” ‘n keuse is wat nie net my eie lewe beïnvloed nie, maar ook dié van die mense om my. My man moet byvoorbeeld dikwels terug staan omdat ek “Ja” gesê het om iemand anders in ons tyd te help.

Vanoggend het die preek op Die Groot Ontbyt, gelei deur een van die predikante van Mosaïek Kerk, my diep getref. Die sin wat my aandag vasgevang het en die rede vir hierdie gesprek met myself is, is dat ek elke keer wat ek “Ja” sê, ‘n keuse maak. Ek kies om iemand anders te help al het ek nog nie vir my man kosgemaak nie. Ek kies om iemand anders te help al moet ek in verskriklike verkeer vassit. Ek haat verkeer, tog huiwer ek nie om “ja” te sê nie, selfs al vrees ek dat ek ‘n taxi of ongeskikte wit bakkie my van die pad af gaan ry.

Dit is vir my moeilik om “Nee” te sê omdat my liefdestaal seker omskryf kan word as diens. Ek voel nie so goed oor my eie suksesse soos wat ek voel as ek iemand kon help nie. As ek Anja help met die kleinkinders voel ek goed omdat dit haar kans gee om iets te doen waarvoor sy nie kans kry met drie woeilige klein seuntjies nie. As ek Marnus help om sy woef by sy nuwe tuiste aangepas te kry, voel ek goed omdat hy nie by die werk kan afvat om sy troeteldiertjie te troos nie. As ek spesiaal ry om vir manlief ‘n kosblik te vat al kan hy self gaan koskoop, voel ek goed omdat ek weet dat hy nie die tyd kan afknyp nie. En so kan die lys aangaan. Die lekker is nie in geld of belonings nie, die lekker is in die dankaarheid van die persoon wat ek kon help.

Vanoggend kry ek ‘n inboodskappie van ‘n Facebookvriendin, wat hulp met ‘n tegnologie nodig het en ek laat weet dat ek gou riglyne sal skryf. Toe ek later weer na Facebook gaan om die skakel te plaas, sien ek dat sy ‘n inboksboodskappie gelaat het om dankie te sê en dat sy verbaas is dat ek sê dat ek dit “gou” sou doen.

In ‘n ander geval het ek beloof dat ek ‘n Facebook vriend, Eric van der Byl, wat ongelooflike goeie werk op die Kaapse vlaktes in skole doen, sou gaan besoek.

Screen Shot 2017-05-11 at 4.28.36 nm..png

Lees gerus die berig, sy verhaal is inspirerend. Ek het dit dan ook gedoen al het die besoek my ‘n arm en been gekos. Ek het ook al my moed bymekaargeskraap om die skool self te gaan besoek om die leerders so bietjie met beskrywende opstelle te help. Moet sê, ek was bekommerd oor my veiligheid omdat dié skool diep in Hanover Park geleë is. Wat ek gevind het, is egter ‘n skool waar respek en maniere belangrik geag word.

IMG_1820.JPG
Beskryf die persoon agter die masker
IMG_1822.JPG
Pragtige kinders met die mooiste maniere
IMG_1823.JPG
Lekker diep in my hart gekruip
IMG_1821.JPG
As my klasse so gehoorsaam was, was ek nou nog ‘n juffrou

Verlede week kry ek ‘n WhatsApp boodskappie van Eric om my te bedank omdat sy kinders nou beter opstelle skryf. Maar ek kan nie die eer daarvoor vat nie. Hy doen koningswerk op aarde.

In een van die opstelle skryf ‘n graad 7-leerder:

My held is meneer van der Byl. Hy het sy studies swaar klaargemaak en kyk waar staan hy vandag. ‘n Goeie, ordentlike onderwyser. Meneer is altyd daar as jy hom makeer en hy is baie slim. Hy sal altyd my held bly omdat hy groot vermaaklikheidsterre na ons skool toe laat kom. Meneer neem naweke sy klas uit en alhoewel hulle nie altyd sy goedheid waardeer nie, gee hy nooit op nie. Hy is ‘n fantastiese mens en al die leerders wil in sy klas wees.

Ek is in ‘n Engelse klas, maar al ons Engelse graad 7’s stem saam meneer van der Byl laat Afrikaans genotvol en “exciting” word. Hy moet altyd ons lieflike Afrikaans Onderwyser bly. Dankie meneer ons sal jou nooit vergeet nie.

Tog gee hy al die eer vir sy sukses met kinders aan sy mentors. En beskou hy my as een van sy mentors. Wat ‘n ongelooflike goeie voorbeeld van hoe ‘n onderwyser behoort te wees. En watter voorreg om hierdie onderwyser te kan help om sy kindrs te help.

Ek verwag egter nie van mense om in dankbaarheid te leef omdat ek hulle gehelp het nie. Ek is die een wat dankbaar is omdat my liefdestenk volgemaak word wanneer ek andr mense help. En omdat my hulp waardeer word. Daarom tref dit nogal diep as ek ongeskik behandel word nadat ek gehelp het.

As ek my werk swak gedoen het, kan hulle maar klap ook. Ek raak ongeduldig wanneer werk swak gedoen word, dus verstaan ek dit. Maar, as ek my werk goed gedoen het en ‘n klap in die gesig kry, is dit ‘n bitter pil om te sluk. Gister, toe ek met ‘n vriendin oor my gevoelens praat, sê sy vir my dat dit is omdat ek mense toelaat om my te manipuleer.

Maar, dit het nie my siel laat rus nie. Ek kan nie gemanipuleer word om iets te doen wat ek nie wil doen nie, en dit het gisteraand by my gespook.

Vanoggend is die probleem egter opgelos. Ek weet waar die wortel van die kwaad versteek is. Danksy ‘n preek op KykNet. Ek word ontsteld omdat ek die oomblik toe ek “Ja” gesê het, ‘n keuse gemaak het om iemand anders se behoeftes bo die van my man en gesin te plaas – en toe boemerang dit in my gesig. Ek het gekies om die persoon te help en in die proses vir my man en kinders en kleinkinders “Nee” gesê. Ek het gekies om iemand anders se sorge te verlig omdat dit my goed laat voel as ek help. Ek het gesê “Op hierdie oomblik, is jou behoeftes belangriker as myne, maar ook belangriker as dié behoeftes van baie ander mense, wat my nodig gehad het. En in plaas van ‘n dankie (wat ek asseblief tog net nie verwag nie), het ek ‘n taai klap in die gesig gekry.

Dié besef het my dan ook gehelp om te besef hoe selfsugtig ek is. My keuses beïnvloed my gesin. Die belangrikste mense in my lewe. Ek gaan nie nou begin om vir alles “Nee” te sê nie. Ek gaan egter nie weer hulp aanbied of “Ja” sê as ek nie eers doodseker gemaak het dat my eie gesin my nie gedurende daardie tyd nodig het nie.