Nou die dag skryf ek oor my Nevan (Husky) se wunderlust wat verby is, net om vandag daaraan herinner te word dat dit glad nie die geval is nie. Hy het net nog nie weer ‘n kans gekry nie!

Screenshot 2018-11-23 at 14.33.36.png

So kom die tuinier vanoggend hoor of hy die kruiwa kan leen om die buurman se grond in te ry. En toe hy dit terugbring, los ek die groot hek oop, sê hy kan sommer gou bêre, ek staan by die vier Schnauzers en kyk dat hulle nie by die hek uitgaan nie. Hy los die klein hekkie oop en voor ek kan keer is meneer Nevan by die hek uit, struikel in die gat om die boompie en gaan dan sonder om te kyk oor die straat na die hekkie waar daar altyd twee groot honde was wat mekaar gebyt het van kwaadgeit omdat hy hulle so terg omdat hy sy merk op hulle grasperk maak!

Maar, daar is niemand, hulle baas het so ongeveer drie jaar gelede getrek en die nuwe bure het nie honde nie. Stoute Schnauzer Shilo is agter hom aan – kyk eers vir karre en dan is hy ook oor die straat. Shilo is baie lus om saam te gaan ondersoek instel, maar my stem vertel vir hom dat hy dit liewer nie moet waag nie en hy kom terug huis toe – met Nevan wat eers by elke boom gaan ruik of sy merk steeds daar is. Regtig kwaad, besluit ek dat ek hom sowaar nie sal gaan soek nie – dit was mos ons ooreenkoms die vorige keer. Ek sal hom nie weer gaan soek nie.

Dan voel ek sleg, klim in my kar en gaan soek tog maar. En oral waar ek vra, het mense hom gesien, opdraende op. Ek dink ek weet hy is nie meer vandag se kind nie, dus gaan hy baie gou lekker moeg wees en ry stadig agter hom aan, stop, maak deur oop, sê hy moet inklim. Maar verniet, Nevan het nog lank nie klaar ondersoek ingestel nie. Kyk vir my asof hy my nie ken nie en daar gaat hy verder. Ek wip my in ‘n tweede geloof in, vertel vir hom dat ek hom sowaar nie weer sal kom soek nie en ry huis toe.

Tuisgekom laat ek die hek op ‘n skrefie oop dat hy kan terugkom, as hy sou wou en los die volgende WhatsApp-boodskap vir my gesin:

Nevan staan vandag voor ‘n groot keuse: Die hek staan op ‘n skrefie oop. Óf hy kom vanself terug nadat hy by die hek uitgehardloop het en Shilo agter hom aan is, óf ek gaan soek hom môre en laat hom uitsit. Ek het hom gaan soek, hy verkies om vir my weg te hardloop!

Ek gaan skuif die meubels op die stoep rond, stap 30 minute in die erf om my gemoed te laat afkoel en net toe ek besluit om te begin werk, lui my foon op my arm. Dit is die estate se bestuurderes. Ek stap in om die foon te kry om haar terug te bel,  toe sien ek sy staan reeds op my stoep. Toe ek die deur oopmaak, vra sy of my Husky uit is, want sy dink sy het hom vir my gekry.

Ek sê ja, en toe moet ek dié storie hoor:

Sy het hom in die ander deel van die estate gekry, gevryf en toe klim hy in haar kar in. Die hoofhekwag ken ons Husky en toe bring hulle hom vir my. Sy maak haar kar se deur oop, meneer klim uit, stap by die hek in en reguit na die klein hekkie vanwaar hy die afgelope jare net met verlangende oë na die groot hek kon kyk. En daar staan hy vir my en wag om die hekkie oop te maak dat hy na agter kan gaan! Ek is so kwaad dat ek weier om vir hom die hekkie oop te maak, hy kan omstap na die ander hek toe. Maar hy staan net daar en wag.

Toe ek die hekkie oopmaak, bewerk vier Schnauzers sy gal. Raas met hom terwyl hy baie tevrede met homself deur hulle stap om op sy gunsteling plek te gaan lê. En ek stuur die volgende boodskap vir die gesin:

Tel dit as hy het vanself teruggekom as hy in die estate manager se motor hier opdaag, self uitklim en by die klein hekkie vir my wag dat ek vir hom oopmaak om agtertoe te gaan?

Marnus antwoord dadelik: “Ja!” en Anja volg met ‘n laggesiggie-emotikoon. Ongelukkig moet ek saamstem. Meneer het nie self teruggekom nie, hy het vir hom ‘n Uber bestel. Wat hom gaan oplaai het, waar hy was. Hy hoef nie die adres te gee nie, almal weet die stout Husky is my Husky!

Ek sal seker maar ‘n koek moet bak en neem om dankie te sê. Want gelukkig hoef ek nie môre die daad by die woord te voeg nie!