Ons het altyd ‘n Duitse herdershond gehad – om ons te beskerm. En dié woefe het gereeld chaos in die staat veroorsaak. Veral as iemand dit sou waag om in die straat te wees as ons by die hek stop om in te kom. Enk dink sommer nou aan twee gevalle.
Naand meneer!
My sus Janet het ‘n rukkie by ons in Virginia kom kuier het. Ons is gou kafee toe en ek het gedink dat ons woef agter is. Toe nie. Toe Janet die hek oopmaak, sien hy ‘n vrou wat met ‘n bondel goed op haar kop in die straat verbystap en hy storm haar. Ek gil vir Janet dat sy in die kar moet spring sodat ek kan wegry aangesien hy dan sou vergeet om die vrou agterna te sit. In die truspieëljie sien ek hoe hy teruggaan huis toe en haar in vrede laat. Maar die straat is gesaai met die goedjies wat op haar kop was.
Dit was nog voor selfone dus kon ek nie vir manlief bel om te kom help nie. Ook nie laat weet dat sake effens onder beheer is nie. Ook nie kon vra om ons woef agter te sit nie.
Hy het in die bad gesit en die gegil in die straat gehoor. Uitgevlieg met ‘n piepklein handdoekie om die onderlyf om te kom red – verskrik en onder die indruk dat ons woef my suster gebyt het. En al wat hy in die straat sien, is die klomp goed wat in die straat lê en ons is skoonveld. Net toe hy in die straat instap om te probeer verstaan wat aangaan, kom die mynbus om die draai. Gepak met manne wat vir hom werk. Denkend aan sy skamele handdoekie vlieg hy agter die stam van ‘n sambreelboompie in – wat natuurlik nie naastenby dik genoeg is nie. Die bus stop omdat die goed nog in die pad lê, van die werkers sien manlief agter die boom en sê: “Naand, meneer!”
Ons wil liewer nie raai wat in hulle gedagte omgegaan het nie. Manlief met piepklein handdoekie, goed wat straat vol lê en vrou wat haar goedjies wil kom optel …
Ek gaan jou klap dat die vetkorreltjies spat!
‘n Ander keer het ons woef by die hek uitgevlieg toe manlief by die huis aankom en ‘n vrou in die straat in die bobeen gebyt.
Ons was wild verskrik. Dit het hy nog nooit gedoen nie. Hy het nog altyd net verwilder en veroorsaak dat niemand aan ons kant van die pad verbygestap het nie. Ons is uit om te gaan red, maar hy was al weer heel tevrede terug in die erf.
Ons het almal in die kar gelaai sodat ons haar dokter toe kon vat. Seun was nog piepklein en het agter by haar gesit. Daar was nie bloed nie, maar ‘n paar wit goedjies het by een van die gaatjies uitgedruk. Nadat ons by die dokter was, wou hy weet wat dit was. Die enigste verklaring was dat dit vetkorreltjies moes gewees het …
‘n Ruk later irriteer sy ousus hom, hy kyk haar so en sê: “Ek gaan jou klap dat die vetkorreltjies spat!” Dit het natuurlik ook ‘n grap in die huis geword …
Huskies lyk gevaarlik maar is lovers
Toe ons groot stad toe trek, het ons besluit om in ‘n sekuriteitslandgoed in te trek. Nadat ons herdershond besluit het om die aarde te verlaat, het ek besluit om ‘n “gevaarlike” loverhond aan te skaf.
Huskies lyk soos Duitse herdershonde, maar is lovers. Dus het ek al amper begin vergeet watter chaos die Duitse herdershonde in ons straat veroorsaak het as ons tuis kom en iemand waag dit te naby aan ons.
Nevan is ‘n sweetie, verwelkom gaste met “hallo, hallo, hallo”, maar ons het ook baie stories oor sy wunderlust …
Ag, jy maak my dag met jou honne-stoties.😂
LikeLike